Gesinsvriendelik

21 04 2015

Die Pretoria Dieretuin is tans besig met ‘n meningspeiling oor drank in die dieretuin.  Die huidige voorstel is om die inbring van drank te verbied en om drank verkope tot een restaurant te beperk.  Party mense het natuurlik baie sterk menings hieroor, veral diegene wat ‘n algemene drank verbod op die dieretuin wil plaas.  Hulle beroep hulle daarop dat die dieretuin gesinsvriendelik moet wees en dat daar dus geen plek vir drank ook is nie.

Die argument kielie my natuurlik pienk.  Veral as die gewig daaragter versterk word met “As jy wil drink, gaan drink by die huis.”  Die mees gesinsvriendelike plek vir ‘n kind is tog seker by sy / haar huis.  In die gemiddelde normale huishouding, gaan die ouers tog seker met tye ‘n drankie geniet.  Gaan hulle dan daardeur hulle kind/ers onherroeplike skade aandoen?

Let wel:  ek praat hier van drank gebruik en nie drank misbruik nie.  Ek weet party mense verstaan nie die verskil so lekker nie, maar daar is niks verkeerds met matige drankgebruik nie.  ‘n Koppie koffie is immers ook skadelik.  Tee ook.  Ons sal nie eers praat oor die suikerinhoud van koeldranke en sappe nie.  Sover my kennis strek, is water die enigste veilige aanvaarbare drankie.  Op watter punt raak die drink van enige iets anders gesinsONvriendelik?

Wat beteken gesinsvriendelik nou eintlik?  Hoekom noem ons dit buitendien gesinsvriendelik as ons eintlik kindveilig of kindtoeganklik bedoel?  Filosofies gesproke (met HM logika) is kindwees ‘n voorbereidingstyd vir die volwasse lewe.  Kinders word in ‘n beskermende omgewing geleer om die uitdagings van ‘n volwassene te hanteer.  Sou hulle genoegsaam voorbereid wees as hulle nooit aan onsmaaklikhede blootgestel word nie?

Toegegee, daar moet iewers ‘n lyn wees.  Ek voel wel sterk daaroor dat die lyn gebaseer moet wees op wat werklik skadelik vir ‘n jong siel is.  Iemand wat ‘n bier drink is waarskynlik nie ‘n tweede kyk werd vir ‘n jongeling nie.  Sou hy/sy ‘n dronkeling teëkom, sit dit die kind dalk heeltemal van drank af.  Gaan dit hom / haar weke lank nagmerries gee?  Gaan dit sy / haar se gesondheid negatief beïnvloed?  Gaan die kind daardeur beseer word?

Indien nie, is dit nodig om dit in die naam van gesinsvriendelikheid te verban?

Wat behoort die kriteria vir gesinvriendelik te wees?  Hoe ver behoort die omgewing die kind te beskerm en hoeveel is eintlik die ouers se verantwoordelikheid?  Plaas ‘n gesinvriendelike plek ‘n demper op mense wat nie kinders het nie?

Breinvasbrand:  Na watter Amerikaanse president is ‘n Teddie Beer genoem?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Walton.