Vir ‘n Erfgenaam

20 04 2015

Scrapy se Toeka-Tokkel van ‘n paar weke gelede was oor erfstukke.  Die uwe het ander prioriteite gehad en het toe nooit sover gekom om ‘n paar woorde te spreek nie.  Nie dat stilte al ooit ‘n sterkpunt van my was nie.  As dit was, was ek mos al lankal ryk siende dat stilte blykbaar goud werd is.

Voordat ek in ‘n malkolk van stront praat vasgevang word (ek het ‘n natuurlike talent daarvoor), laat ek eerder op erfgename konsentreer.  Dit is verstommend hoeveel stories rondom ‘n erfgenaam gebou is.  Daar is die Jane Austen model, waarop ‘n huis vol dogters dringend met die erfgenaam van hulle voorouers se skatte (as daar iets oorgebly het) moet trou.  Daar is ‘n wavrag vol stories dat iemand moet trou en/of ‘n erfgenaam voortbring om alles te kan erf.  Amper vergeet ek van die sot wat een oggend wakker word en dan besef dat daar niemand is aan wie hy alles wat hy bymekaar gekrap het kan nalaat nie.  Laastens is daar die kom ons beduiwel almal met ‘n onverwagte testament.

Die fiksie het hulle voete ook maar stewig in die werklikheid.  Daar is mense wat nie ‘n dag in hulle lewens hoef te werk danksy ‘n voorouer wat goed voorsorg getref het nie.  Daar is in sekere gevalle geslagte wat nie ‘n hand in koue water hoef te steek omdat hulle voorouers slim belê het nie.  Hulle is die gelukkiges.

Op die oppervlak ten minste.  Punt van die saak is om jou brood, botter en kar met sweet te verdien is tog nie regtig ‘n straf nie.  Al haat jy jou werk, gee dit jou ‘n doel in die lewe.  Waarvoor leef baie van die ryk erfgenames nou eintlik?  Om dag in en dag uit inkopies te doen vir enige iets waarop jy jou oë lê?  Is daar dan iets om na uit te sien?  Iets om voor te smag?  Baie van die erfgenames verval in depressie of val van een skande tot ‘n ander.  Daar is ook die erfgenames wat altyd baie hoog vlieg.

Dalk weer ‘n bewys dat geld nie geluk koop nie.  Natuurlik hoef elkeen wat met sy gat in die botter val nie sy gat die saligheid belowe nie.

Daar is mense wat glo dat dit oneties is om ryk te erf.  Hulle glo natuurlik dat die staat en / of liefdadigheid voordeel daaruit moet trek.  Aan die ander kant, dit is seker elke mens se reg om met sy / haar besittings te maak soos hy / sy goed dink.  Dalk is die balans om te stop by genoeg.  Dan weer, wat is genoeg?

Breinvasbrand:  Wie volgens Forbes was in 2014 Amerika se rykste familie?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Robert Ludlum.


Aksies

Information

15 responses

20 04 2015
HesterLeyNel

My man sê altyd ons sal maar moet werk vir ons geld, want uit ons ouers se boedel sal ons net ‘n kapokhoender en drie Slim Whitman langspeelplate erf. Dit moet dan nou maar “genoeg” wees.

21 04 2015
Xena Phoenix

😉 Gaan die kapokkie dan verder na die kinders? Ten minste is langspeelplate weer in, as hulle sou weet wie Slim Whitman is.

22 04 2015
HesterLeyNel

In ons huis het ons die manier om so nou en dan ‘n You Tube aand te hê en ek let op dat my kinders ook nou begin luister na die ouer musiek (Slim ook ja!). Toe sy my verbasing oplet, sê my dogter “Tenminste is daar nog lirieke en kan mens die woorde onderskei”.

20 04 2015
Olga

Die Walton familie???? Is hulle afstammelinge van Johnboy en Kie?

21 04 2015
Xena Phoenix

😉 Wie sal nou weet. Ek is verbaas hoeveel Johnson families op die lys is. Die klomp van Johnson & Johnson is maar 47ste. Ek wonder of hulle almal verlangs familie is.

20 04 2015
Olga

Ek het al so dikwels gewonder oor die genoeg? Maar nou ja, ek dink daardie “erfgoed” plaas las op mens. ek neem nie daaraan deel nie.

21 04 2015
Xena Phoenix

Veral as jy eers moet teel om dit te kan kry.

21 04 2015
Olga

Of daardie ou lywige familie name moet uitdeel aan klein klein kindertjies. Wie dan op skool eerder lieg en vir hulleself ‘n naam anders as op hulle boeke fabriseer omdat hulle skaam (?) bang (?) is vir wat kan volg as hulle liewe familie naam aan die kinders in die klas bekend word.

20 04 2015
scrapydotwo

Wat sê spreekwoord : erfgoed is swerfgoed! Dis lekker om te weet dat jy jou geld verdien het en nog lekkerder om dit uit te gee. Dankie vir jou erfstuk terugflits!

21 04 2015
Xena Phoenix

Net jammer dat ‘n mens nie kan uitgee sonder perke nie. Ai! Die lewe is uitermatig en onnodig moeilik. Die wat nie het nie, soek nog. Die wat het, se lewens is befomfaai.

21 04 2015
scrapydotwo

Netso. Tog is dit lekker om bietjie geldjies te hê om te spandeer.

21 04 2015
Sparkle

Ek moet bieg, as ek voltyds kan skryf en stories van plekke en sy mense kan ontdek sal ek verseker nie omgee vir erfgeld nie!

Ek dink nie ek sal egter baie ver kom op die oomblik nie!🙂

21 04 2015
Xena Phoenix

Ek wens ook die Powerball wil in my guns val. Daar is egter net ‘n klein tegniese probleempie.

21 04 2015
Olga

Ja, ek kan dink. Die ERFGENAAM van Powerball spandeer alreeds die geld.

21 04 2015
Xena Phoenix

Dit seker ook

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: