Vir ‘n Erfgenaam

20 04 2015

Scrapy se Toeka-Tokkel van ‘n paar weke gelede was oor erfstukke.  Die uwe het ander prioriteite gehad en het toe nooit sover gekom om ‘n paar woorde te spreek nie.  Nie dat stilte al ooit ‘n sterkpunt van my was nie.  As dit was, was ek mos al lankal ryk siende dat stilte blykbaar goud werd is.

Voordat ek in ‘n malkolk van stront praat vasgevang word (ek het ‘n natuurlike talent daarvoor), laat ek eerder op erfgename konsentreer.  Dit is verstommend hoeveel stories rondom ‘n erfgenaam gebou is.  Daar is die Jane Austen model, waarop ‘n huis vol dogters dringend met die erfgenaam van hulle voorouers se skatte (as daar iets oorgebly het) moet trou.  Daar is ‘n wavrag vol stories dat iemand moet trou en/of ‘n erfgenaam voortbring om alles te kan erf.  Amper vergeet ek van die sot wat een oggend wakker word en dan besef dat daar niemand is aan wie hy alles wat hy bymekaar gekrap het kan nalaat nie.  Laastens is daar die kom ons beduiwel almal met ‘n onverwagte testament.

Die fiksie het hulle voete ook maar stewig in die werklikheid.  Daar is mense wat nie ‘n dag in hulle lewens hoef te werk danksy ‘n voorouer wat goed voorsorg getref het nie.  Daar is in sekere gevalle geslagte wat nie ‘n hand in koue water hoef te steek omdat hulle voorouers slim belê het nie.  Hulle is die gelukkiges.

Op die oppervlak ten minste.  Punt van die saak is om jou brood, botter en kar met sweet te verdien is tog nie regtig ‘n straf nie.  Al haat jy jou werk, gee dit jou ‘n doel in die lewe.  Waarvoor leef baie van die ryk erfgenames nou eintlik?  Om dag in en dag uit inkopies te doen vir enige iets waarop jy jou oë lê?  Is daar dan iets om na uit te sien?  Iets om voor te smag?  Baie van die erfgenames verval in depressie of val van een skande tot ‘n ander.  Daar is ook die erfgenames wat altyd baie hoog vlieg.

Dalk weer ‘n bewys dat geld nie geluk koop nie.  Natuurlik hoef elkeen wat met sy gat in die botter val nie sy gat die saligheid belowe nie.

Daar is mense wat glo dat dit oneties is om ryk te erf.  Hulle glo natuurlik dat die staat en / of liefdadigheid voordeel daaruit moet trek.  Aan die ander kant, dit is seker elke mens se reg om met sy / haar besittings te maak soos hy / sy goed dink.  Dalk is die balans om te stop by genoeg.  Dan weer, wat is genoeg?

Breinvasbrand:  Wie volgens Forbes was in 2014 Amerika se rykste familie?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Robert Ludlum.