All breeders are bad

16 03 2015

Die mens bly maar ‘n amusante wese.  Iemand wat dink hulle is kaas spring op ‘n seepkissie en almal wat van kaas hou spring saam.  Hulle verklaar iets verbode en kort voor lank moet een van die 10 gebooie plek maak vir die nuwe een.  Dit word sommer dadelik as een van die doodsonde en almal staan reg om skuldenaars tot verantwoording te roep.  Dit is die enigste iets wat deesdae veroordeel kan word.

So is telers; enige telers; ‘n paar jaar gelede tot die nuwe duiwel verklaar.  Telers dryf hulle diere nie net tot die dood om babas te kry nie, maar is ook verantwoordelik dat daar iets soos weggooidiere is.  Die telers maak wins ten koste van arme weerlose diere wat van kant gemaak sal as hulle nie ‘n liefdevolle huis gegee word nie.  Die arme weesdiere is meer geregtig as hondjie of katjie wat geteel is.   Teel is terloops nie net op geregistreerde telers van toepassing nie.  Enige iemand wat hulle dier laat voortplant, al is dit net een keer, is reguit oppad hel toe.

Snaaks hoe mense dit sonder meer aanvaar.  Niemand wil vir die beplande babas praat nie.  Is daar telers wat oneties is en elke sent uit hulle diere probeer wurg?  Ja, beslis.  Is alle telers oneties?  Beslis nie.  Soos met alles op die aarde moet daar vooraf behoorlik huiswerk gedoen word.  Nie dat ek ooit sal verstaan hoe weggooidiere summier telers (goeies of slegtes) se skuld is nie.

Ek het ‘n paar jaar gelede myself gereed verklaar om die verantwoordelikheid vir ‘n troeteldier te aanvaar.  Ek het iets baie spesifiek in gedagte gehad en dus het ek verkies om teler te gebruik.  Ek het ‘n goeie twee jaar lank navorsing gedoen voordat ek op ‘n teler besluit het.  Siende dat ek ‘n fortuin sou moes betaal, het ek ‘n dier gesoek wat gesond is.  Verder wou ek die babas ontmoet voordat ek ‘n finale besluit neem.  As ek nie gehou het van hoe die teeldiere behandel word nie, sou ek nie met die koop voortgaan nie.  Soos reeds genoem, ek het ‘n gesonde dier gesoek (en ja, ek besef wel dat opregte diere meer geneig is om gesondheidsprobleme te hê) en gesonde babas kom nie van ouers wat mishandel is nie.  Ek het ook gou genoeg agter gekom dat telers wat oneties is geswartlys word deur hulle verenigings en die geskiedenis word behou.

So het ek op ‘n teler besluit.  Die eerste een het nie uitgewerk nie, omdat sy nooit moeite gedoen het om haar boodskappe op te volg nie.  Die tweede teler was heeltemal bereid om my voorwaardes na te kom, mits ek haar voorwaardes nakom.  Ek kon byvoorbeeld al haar beskikbare diere kom ontmoet, mits ek sou toelaat dat my skoene ontsmet word.  Ek het met my eerste besoek meer as twee ure daar deurgebring.  Ek het nie net die babas ontmoet nie, maar elke dier (waarvan party afgetree was) op die perseel.  Nadat ek my keuse gemaak het, was ek welkom om enige tyd vir haar te kom kuier.  Wat ek ook gereeld gedoen het.

Ek moes ‘n kontrak teken dat ek mooi na my baba sou kyk.  Deel van die kontrak het behels dat die teler eerste opsie het as ek ooit van my baba wou/moes ontslae raak.  Daar was ook ‘n gesondheidswaarborg ingesluit.  Sou ek nie na die dier omsien nie, kon die teler die dier terugneem.  Daar was voorskrifte oor geskikte kos en ek moes ook onderneem dat ek die dier by die eerste teken van siekte sou veearts toe neem.

Terwyl ek in die proses was om my kat te koop, het baie mense my erg verkwalik.  Iemand het selfs aanbeveel dat ek ‘n dier by die DBV moet aanneem en die verskil wat ek sou bespaar aan hulle skenk.  Vandag nog kry ek gereeld skewe kyke oor waar my kat vandaan kom.  Terselfde tyd verneem die teler gereeld hoe dit met die dier gaan.  Sy is dalk verkoop, maar is nog lank nie vergete nie.

Wanneer ek ook ‘n dekade of twee weer in die mark vir ‘n dier is, dink ek dat ek weer ‘n teler sal gebruik.  En ja, ek het geen beswaar daarteen om diere te koop nie.  Aanneem teen ‘n paar honderd rand bly nog steeds koop.

Hoe voel jy oor telers?  Het jy ‘n goeie of ‘n slegte ondervinding gehad?  Wat van troeteldiere wat wel een of twee keer voortplant voordat hulle reggemaak is?  Hoe voel julle oor weggooidiere?

Breinvasbrand:  Watter tipe hond word met die Dulux advertensies verbind.

Breinlosbrand:  Gautengelêng (Goed, ek raai net.  Bring bewyse as julle verskil.)

 

 





Boys and their toys

15 03 2015

Dit was die naweek groot nuus nadat die eerste suksesvolle penisoorplanting in Suid-Afrika gedoen is.  Die operasie was in Desember uitgevoer en die man kon 5 weke na die oorplanting seks hê.  Die operasie word as ‘n wetenskaplike deurbraak gesien en word sommer al klaar in dieselfde asem genoem as die eerste hartoorplanting in 1967.  Dit is dalk om appels met prentjies te vergelyk, maar dit is tog lekker om te weet dat SA nog steeds op mediese vlak gat kan skop.

Wat my wel verbaas is dat daar blykbaar baie mans is wat ‘n penis oorplanting benodig.  Nie omdat daar een of ander frats ongeluk was of dat die arme man ‘n slagoffer van peniskanker was nie.  Blykbaar is die hoofoorsaak van penisverliese besnydigings.  Natuurlik nie die besnydings wat deur ‘n mediese dokter uitgevoer raak nie, maar die soort wat iewers in die middel van nêrens gedoen word.  Die soort wat seuns blykbaar mans maak.

Siende dat die meerderheid van seuns mans raak sonder dat hulle besny is, is seker genoeg bewys dat die gebruik onnodig is.  Dit is egter nou nie heeltemal so eenvoudig nie.   Die mans wat weier om hulle aan die tradisionele gebruike onderwerp, word gewoonlik in hulle gemeenskappe as minderwaardig gesien.  Die tienerseuns het nie eers altyd ‘n keuse nie.  Daar is glo seuns in die voormalige model C skole wat glad nie die bohaai kan insien nie.  Hulle ouers dring egter daarop aan dat hulle besny word.

As die besnydenis (by inisiasie skole) dan so belangrik is, sal ‘n mens aanneem dat die uitvoerders dan darem sal verseker dat die messe skoon en steriel is.  Nie net veroorsaak die vuil messe dat jong mans se penisse afgesit moet word as gevolg van infeksie nie, maar elke jaar sterf van die jong mans by die skole.  MIV versprei ook natuurlik maklik by die skole en dan praat ons nie eers van die ander onheile nie.

Hoekom word dit nog enigsins geduld?  Tradisie gaan ook net so ver.  Wêreldwyd word tradisies wat gevaarlik en/of onmenslik is ten strengste veroordeel en afgekeur.  Is dit nie tyd dat tradisionele besnydenis waar daar wesenlike gesondheid risiko’s is finaal uitgeroei word nie?  Duidelik is tradisionele leiers nie van plan om eers te probeer om dit veiliger te maak nie.

Wat dink julle daarvan?  Is daar nog nut vir sulke gebruike?

Breinvasbrand:  Watter Leon Schuster liedjie is op My Ding a Ling se wysie gesing?

Breinlosbrand:  Olga en Sparkle was reg.  Jy “lend” iets aan iemand wat dit van jou “borrow”.

 

 





Ek is die wenner

14 03 2015

Hie Hie Hie!!!

Ekke het gewen.  Niemand kon my den kry nie.  Tannie Ougat, Tannie Skrabbel en Tannie Rondeneusie het geweet dit is in Windhoek, maar daar is baie denne in Windhoek.

Laviga Heks is ‘n wegkruipkampeerder.  Ekke was in Joe’s Beerhouse.  😯  Maatjies, daardie plek is deurmekaarder as Merriegriet se huis.  Julle moet gaan kyk as julle weer na die Winderige Hoek gaan.

P1100682

My den vandag is nie ver van die laaste den nie.  Dit is by ‘n bul sonder knolletjies.  ‘n Tannie-oom het dit lank terug met geweerdoppies gemaak, maar hy het gevergeet van die knolletjies.

Weet julle waar my den is?

1

2

3

Julle is aan!





Swartskaap van Texas

13 03 2015

35





Leen is iemand se naam

12 03 2015

Daar is ‘n gesegde dat ‘n man nie sy kar, sy geweer of sy vrou uitleen nie.  Ek is nogal geneig om daarmee saam te stem, hoewel ek die laasgenoemde eerder met man / vrou sal vervang.  Sodat dit op almal van toepassing is.  Wie het nou weer gesê ek is nie polities korrek nie?

Op skool was ons geleer dat Leen iemand se naam was.  Dit was nie net om ons te ontmoedig om onder mekaar goed te leen nie.  Die meer korrekte Afrikaans is om eerder iemand se pen / selfoon / wat ookal te gebruik.  Almal op skool het ook goed geweet wat pen / selfoon / wat ookal se naam en van is:  Gee dit terug en gou ook.

Dit is nou presies wat die probleem met leen is; almal vergeet gerieflik daarvan om die geleende voorwerp binne ‘n redelike tyd terug te besorg.  Oor die algemeen moet jy maar aanvaar as jy toestem tot die tydelike gebruik van jou eiendom deur iemand anders, dat die tydelike beslis met die ewige baan verwissel.  Tot jou nadeel.

Dit is eintlik heel eenvoudig:  moet nie goed uitleen waaraan jy verknog is nie.  Skryf dit summier af die oomblik wanneer dit onder jou oë uitbeweeg.  Of die beste raad ooit:  moet nie jou goed uitleen nie.  Jy sal natuurlik die duiwel se eie bloedbroer of suster wees, maar ten minste bly jou goed nog jou goed.

Een of ander tyd gaan ‘n mens tog swig en iemand iets leen.  Al weet jy voor jou siel dat jy dit nooit weer gaan sien.  Veral as ons hier van geld praat.  Daar is tog tye waar jy wil help (of verplig voel om te help) en dus dit nie eintlik terug verwag nie.  Partykeer kan jy op jou kop staan en Jan Pierewiet uit jou stert fluit, maar as die lener nie geld het om jou terug te betaal nie, het hy/sy nie geld nie.

Daar is egter goed wat nie so maklik is om te vang nie.  Hoekom aanvaar mense gewoonlik as jy hulle ‘n boek, DVD, CD of pen leen, dat dit nou aan hulle behoort om te maak soos hulle wil?  Ek wag gewoonlik tot die persoon my pen klaar gebruik het en vat dit terug.  Verder leen ek media (dus boeke, CD’s en DVD’s) net uit aan mense by wie se huis ek kan inbars om enige dag my goed terug te vat.

Hoe voel jy oor leen?  Watter reels pas jy toe as iemand jou goed leen?  Is jy ‘n goeie lener?

Breinvasbrand:  In Engels, wat is die verskil tussen “lend” en “borrow”?

Breinlosbrand:  Oscar Wilde





Jou meisie

11 03 2015

Beledigings is veronderstel om ‘n fyn kuns te wees.  Daar is mense wat dit vervolmaak om iemand hel toe te pos en hulle te laat uitsien na die reis.  Helaas, is dit ‘n kuns wat aan die uitsterf is.  Dit is so maklik om iemand deesdae te beledig, dat dit ‘n vermorsing is om dit netjies te verpak.  Selfs ‘n paar kras vloekwoorde is oorbodig.

Van al die goed wat Zuma vandag aangevang het, was hy onder meer in die moeilikheid omdat ‘n DA lid ‘n “Ntombazana” genoem het.  Dit is glo ‘n teken dat hy ‘n veer vir vroueregte voel.  Die punt is al lankal deur Zuma se ander uitlatings bewys.  Maar regtig?  Is daar regtig so groot storie dat hy ‘n vrou wat aansienlik jonger as hy is ‘n meisie genoem het?  As sy in die gesig gevroetel is daardeur, kon sy hom nie net ‘n ou man genoem het nie?

Goed en wel, as sy dit gedoen het, dan het ons vandag eers sports gehad.  Baleka Mbete het mos juis vandag verkondig dat Zuma en Buthelezi nie die ander lede se gelykes is nie.  Ek wonder of Buthelezi daarmee aanstoot geneem het?  Ek meen, wie wil nou op dieselfde vlak as Zuma wees?

Terug na wat nou regtig kwalifiseer as ‘n belediging.  In die Afrika kultuur is dit ‘n growwe belediging om ‘n (besnyde) man ‘n seun te noem.  Dit verlaag sy status summier.  Is daar regtig ‘n wesenlike status verskil tussen ‘n meisie en ‘n vrou?  Of selfs in die blanke kultuur tussen ‘n man en ‘n seun?  Ek meen, daar word tog dikwels na sport spanne verwys as die “boys”.  Dit is ook gewoonlik ‘n “girls night out” en nie ‘n “woman nights out” nie.  Glo my, geen minderjarige meisie is welkom op ‘n “girls night” nie.

Die erns of status van iemand is tog seker in hulle gedrag en / of woorde.  Wat maak dit tog saak wat ander hulle noem?

Of mis ek heeltemal die punt?  Dit is maar moeilik om my te kan beledig.  Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wie se gevleuelde woorde is dit?  “Some cause happiness wherever they go; others, whenever they go.”

Breinlosbrand:  Olga was reg met Barbara Hogan.





Lyding na Rand en Sent

10 03 2015

Aaron Motsoaledi het onlangs aangekondig dat Suid-Afrika ‘n mediese ombudsman gaan kry.  Die doel daarvan is om mediese hofsake te beperk waar dit moontlik is.  Daar was ‘n 573% toename in mediese litigasie eise.  Dit lei daartoe die dokters amper te bang om  aan ‘n skapel te raak.

Motsoaledi reken dat daar ‘n paar aasvoëls is wat die stelsel melk (nou natuurlik nie sy presiese woorde nie).  Daar is mense wat daarop uit is om mediese voorvalle te melk vir elke moontlike sent wat hulle kan kry.  Of hulle geregtig is op die sente is ‘n bysaak.  In die proses word nie net die slagoffers bevoordeel nie, maar elke professionele persoon wat hulle in die pad gehelp het.  Behalwe die arme oorwerkte dokters wat hulle lewe in die staatshospitale waag vir ‘n appel en ‘n ei.

Ek dink nie dat Motsoaledi ver van die pad af is nie.  Vandat die ANC elke tweede week hof toe gesleep word, is Suid-Afrikaners deesdae vinnig om hof toe te hol.  Eintlik moet ek nie politiek blameer nie, ons is mos besig om meer Amerikaans as ‘n Amerikaner te word.  Ek hoor gereeld advertensies van prokureurs wat hulle hulp aanbied aan diegene wat met ‘n mediese prosedure gely het. Dit het beslis ‘n winsgewende bedryf geword.

Aan die ander kant, maak (staats?) hospitale dit ook net so maklik.  Party mense het regtig rilverhale wat hulle in ‘n hospitaal oorgekom het.  Soos die 23 jarige vrou wat in vroeër vanjaar in Baberton geboorte geskenk het.  Die dokters het haar meegedeel dat sy besig is om ‘n miskraam te hê.  Die vrou is toe basies alleen gelos om vir 33 uur in kraam te wees.  Teen die tyd wat die baba tussen haar bene vir asem gehyg het, moes sy hom maar self uittrek.

Die personeel het toe die baba op ‘n bloeddruk monitor gesit en hom toegelaat om te sterf.  Die lykie is toe aan die ma terug besorg met ‘n voorstel dat sy hom in haar vrieskas moet bêre tot ‘n lykshuis hom kan kom haal.  Die ma het gevra dat die baba in die hospitaal lykshuis gebêre moet word.  Teen die tyd wat die begrafsnis ondernemer die baba kom haal het, moes daar eers gesoek word.  Hy is toe in ‘n stoorkamer gekry.

Met sulke stories, verbaas dit enige iemand dat eise aan die toeneem is?

Is die antwoord regtig ‘n ombudsman?  Daar is duidelik ‘n probleem in die hospitale.  As dit aangespreek word, behoort die eise mos ook af te neem.  Die ombudsman kan dan die koring van die kaf skei.  In die tussen tyd, sal hy / sy moet kop hou soos ‘n weeluis om te doen wat gedoen moet word.

Breinvasbrand:  Wie was Aaron Motsoaledi  se voorganger as Minister van Gesondheid?

Breinlosbrand:  Olga was reg met mini en hotpants

 





Reik na die sterre

9 03 2015

Daar is vrouens wat hulle siele vir die regte paar skoene sal verkoop.  Ek?  Wel ek is ‘n meisie wat eerder agter die blink klippies aan is.  Ironies genoeg kan ek klere nog versaak om ‘n diamant halsnoer in die openbaar te verskyn.  Dit sal egter heeltemal onvanpas wees om sonder skoene te verskyn.

Hoekom sal g’n mens weet nie.  Dit is egter ‘n feit dat ‘n mens moet skoene dra.  Toegegee, die teer kan nogal seer brand in die somer en die klippies kan nogal geniepsig wees.  Yskoue tone is ook nie plesierig nie.  Skoene het dus hulle doel.  Veral as jy ‘n nuwe paar in die hande kan kry.

Ek beskou myself nie as ‘n veeleisende mens nie.  Al wat ek van die skoenrakke soek is ‘n netjiese stel sandale in die somer en ‘n goeie paar stewels in die winter.  As dit nie te veel te vra is nie, kan ek verkieslik iets geskik in swart en bruin kry?  Verkieslik in verskillende ontwerpe.  ‘n Paar informele skoene sal ook gaaf wees.  Dit is seker ook nie te veel gevra dat dit ‘n seisoen lank moet hou en netjies lyk nie?

My vereistes is nie verregaande nie.  Ek het nie ekstra lengte nodig nie en ek soek iets waarmee ek kan ronddraf as dit nodig is.  Ek is nie ‘n aanhanger van pyn nie en ek betaal beslis nie vir iets wat my pyn gaan besorg nie.  Ek gaan ook nie ‘n paar skoene net vir skou aantrek nie.

Ek dink my verwagtinge is redelik.  Helaas!  Om skoene te kry waarvan ek hou, is soos om wors in ‘n hondehok te soek.  Die logiese gevolgtrekking is dus dat ek vol strooi is.  Dit bring my by die tweede krisis.  Daar is nie skoene in my grote nie.  Deesdae is dit ‘n onbegonne taak om ‘n skoen groter as ‘n 6 te kry.  Alle vrouens dra mos ‘n nommer 4 of 5.  Of die groter skoene word eerste opgeraap.

Die winkels koop die groter skoen grotes nie aan nie of dit is die eerste grotes wat gekoop word.  Ek wonder egter of winkels regtig hulle mark goed navors.  Weet hulle wat die populasie se skoengrotes is?  Weet hulle wat die populasies se bragrotes is?  Weet hulle hoe lank die gemiddelde vrou is of waar haar borste sit?

As die inligting nie vrylik beskikbaar is nie, kan dit met ‘n eenvoudige steekproef bepaal word.  Dan sal daar skoene en klere wees wat pas.

Is ek die uilspieël of sukkel julle ook om skoene en klere te koop?

Breinvasbrand:  Watse kledingstuk word met Mary Quant geassosieer.

Breinlosbrand:  Olga was reg met 9 Augustus.





Wie verdien opleiding?

8 03 2015

Jaarliks word Internasionale Vrouedag op 8 Maart gevier.  ‘n Dag waarop vroue se ekonomiese, politiese en maatskaplike prestasies gevier moet word.  Natuurlik is dit ook ‘n dag waarop daar op vroueregte en opheffing van vroue oor die wêreld gefokus word.  Een van die doelwitte wat bo aan die agenda is, is die opleiding van vroue.

Ek, Xena N. Phoenix, is ‘n selferkende feminis, maar ek verpes die bewegings wat spesifiek op vroue opleiding gefokus is.  Ek kan nie sien wat geslag enigsins met opleiding te doen het nie.  Die dae wat mans voorkeur geniet het met verdure opleiding is dekades terug verby.  Ek het vandag iewers gesien dat wêreldwyd daar meer vroue as mans by tersiêre instellings studeer.  Dit is dus min of meer in verhouding met die aantal vroue wat die aarde bewandel.  Hoekom word daar dan alewig daarop gehammer dat meer gedoen moet word om vroue op te lei?

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is nie teen vroue opleiding nie.  Ek glo sterk daaraan dat vroue finansiël op hulle eie bene moet kan staan en nooit ten volle van ‘n man afhanklik moet wees nie.  Terselfde tyd glo ek nie aan huismans nie.  Mans het net soveel reg tot opleiding en ‘n beroep as Eva’s.  Netsoos ek nie glo dat ‘n man bo ‘n vrou bevoordeel moet word omdat hy ‘n man is nie, glo ek ook nie dat ‘n vrou bo ‘n man bevoordeel moet word net omdat sy sit as sy piepie nie.  Ek glo aan regverdigheid.

Baie mense glo dat opvoeding en opleiding ‘n reg is.  Ek stem saam, maar tot op watter vlak?  Ek dink die meeste mense sal toegee dat die reg tot een of ander beroepopleiding moet strek.  Dit is die ideaal.  Die realiteit is egter dat almal nie professionele beroepe kan volg nie.  Verder is daar dikwels net ‘n beperkte getal mense wat vir ‘n spesifieke kursus opgelei kan word.  Ek weet toe ek geswot het, het ons klasgeld omtrent ‘n derde van die koste van jou opleiding gedek.  Ek is nie seker wat die situasie vandag is nie, maar ek is seker dat klasgelde net gedeeltelik gedek word.

Dus:  as daar vir ‘n sekere kursus net ‘n beperkte aantal plekke het, vir wie moet die plekke toegeken word?  Veral waar dit vir ‘n baie gespesialiseerde beroep gebruik word.  Moet dit summier net vir vroue beskikbaar wees?  Dalk net vir mans, wat immers nie swanger kan word nie?  Dalk net vir die top presteerders of diegene wat die kursus kan betaal?

Moet dit nie diegene wees wat die meeste gaan terug ploeg nadat hulle gekwalifiseerd is nie?  Soveel as wat opvoeding ‘n reg is, is dit regverdig om ‘n beperkte plek op te eis, as jy geen planne het om die beroep te volg nie?  Dit is goed en wel om ‘n veiligheidsnet te soek, maar moet die net met status gepaard gaan?  Daar is tog soveel kursusse wat altyd plek vir nog een het, moet dit juis iets wees waarvan daar ‘n tekort is en daar net ‘n beperkte hoeveelheid opleidingsmoontlikhede is?

As jy beplan is om gholf vir ‘n lewe te speel, is dit regverdig teenoor die gemeenskap om medies te gaan swot?  Net sodat jy jou gholfstokke as ‘n dokter kan gaan swaai?  Terwyl daar dalk iemand ander is wat uitgeskop word, maar wat bereid is om mense se pyn en ellende daagliks te gaan aandurf?  Dit is maar net een voorbeeld.

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wanneer word Vrouedag in Suid-Afrika gevier?

Breinlosbrand:  Kameel was reg met 1945





Waar is die heksie?

7 03 2015

Hallo Maatjies!

Tannie Ougat en Tannie Rondeneusie was die meeste reg.  Merriegriet sê dat Duin 7 wel naby Walvisbaai is, so Tannie Tossel is ook reg.  Duin 7 is in die Namibwoestyn, so Tannie Skrabbel was ook reg.  Jong!  Julle is darem vreeslik slim.

Vandag gaan julle julle oor ‘n mik soek.  Nee, Tannie Ougat mag nie kroek nie.  Sy is aan, nie ekke nie.

P1100791

Dit is ‘n plek in die Winderige hoek waar heksie kan kos en rooi koeldrank kry.  Dit is ‘n vreeslike deur mekaar den, julle gaan julle dood soek.

1

2

3

Ek is weg.