Lewenslank gemerk

2 03 2015

Ek weet ek maak weer van myself Satan se eie bloedsuster, maar ek hou nie van tattoo’s nie.  Ek weet baie mense vind dit baie aantreklik.  Vir baie mense is dit baie geestelik met ‘n diep betekenis daaragter.  Ek respekteer ook elkeen se reg om sy / haar liggaam te maak wat hulle wil.  Maar persoonlik, vind ek dit grillerig.  Ek is buitendien te vlak om enige dieper betekenis daaragter te kan waardeer.

Ek diskrimineer nie voor die voet nie.  Julle weet mos dit vat nie veel om my te amuseer nie.  Daardie geisoleerde tattoo’s kan nog gaan en selfs heel vermaaklik wees.  Party mense het hulle tattoo’s nogal knap beplan.  Ek dink nou byvoorbeeld aan een van die Gladiators wat ‘n puma gehad het wat by sy rug opgeklim het.  Party meisies het weer ‘n elfie of ‘n ding wat stuitig om haar skouerband loer.  Alhoewel, die oomblik wat daar meer tattoo’s is wat ‘n mens met een blik kan bestudeer, raak dit aardig.  Om die minste te sê.

Goed, goed – ‘n beskaafde mens is nie veronderstel om na ander se lyfkuns te staar nie.  Dit is net deksels moeilik om iets wat jou in die oog steek mis te kyk.  Is dit tog nie immers die doel van kuns nie?  Om na gekyk te word?

Soos wanneer jy in iemand vasloop wat dadelik ‘n tattoo aanval op jou loots.  Daar is ‘n tattoo op sy/haar voet, 3 op die linker arm en 6 op die regter arm, een op elke vinger en ‘n slang wat op sy / haar nek krul . . . Ek vind dit om die minste te sê grillerig.  Des te meer as die tattoo’s in mekaar begin vloei om een algehele skildery te vorm.  Minimalisities is vir die mense ‘n vloekwoord.

Ek verwonder my altyd as twee sulke verfdoeke loop met ‘n paar kleintjies tussen hulle.  Dit pas net nie.  Ek weet die kuns is net veldiep en dat wat onder die vel is wat regtig saak maak.  Nogtans lyk dit verkeerd.

Neem ook vir Adam Levine hierbo.  Watse beeld sou hy nie gewees het met ‘n skoon vel nie.

Is julle ook so bevooroordeeld soos ek?  Of is dit bloot my probleem waaroor ek ‘n brug moet bou?  Wat is die mooiste tattoo wat jy al ooit gesien het?  En die lelikste?  Is daar iets soos te veel?

Breinvasbrand:  Wie is die meisie met die draak tattoo?

Breinlosbrand:  Ontvoering verjaar nooit nie.  Olga het reggehoop en Recién het reggedink.  😉


Aksies

Information

35 responses

2 03 2015
dalenatjie

Lisbeth Salander is di meisie met die draaktattoo, wat met vuur gespeel het en di perdebynes geskop het 🙂 Ek het n baie minimalistiese tattoo op my regterskouer wat vir my baie simbolies is en ‘n hartseer deel van my lewe gedenk, dalk wys ek julle nog eendag…

2 03 2015
Xena Phoenix

Jy weet nou al dat nuuskierig my middelnaam is? So vergewe maar. Ek neem aan die tattoo herinner jou aan die hartseer tyd. Maak dit jou dan nie hartseerder nie?

2 03 2015
dalenatjie

Dit herinner aan di hartseer maar dit herinner my ook om dankbaar te wees, dit kon baie erger gewees het 🙂

2 03 2015
Toortsie

Jip. Ek is outyds. Preuts.
In Egipte laat tattoëer (hoe spel mens dit?) die Christene ‘n klein Koptiese kruis op hul pols. Die een ou stuitige tattoo wat soms by iemand uitsteek, is ook nie vir my ‘n probleem nie.
Ek dink soms wat gebeur is, die persoon kry een tattoe… en nog een… en later weet hulle nie meer waar om te stop nie. So asof hulle verveeld is en nie weet wat om te doen nie?
Ek het geskryf oor eerste indrukke… nou ja…

2 03 2015
colourmecrazee

dit is inderdaad addictive.

2 03 2015
Xena Phoenix

Ek het ook al gehoor dit is verslawend. Party mense is ‘n sucker vir pyn. 😉

2 03 2015
colourmecrazee

my hart het nou amper gaan staan met die foto van adam levine. behalwe dat hy ongelooflik hot is, maak sy tattoos hom – ek love dit.

my man se arms is ook vol tattoos en ek het ook een. dis net die budget wat ons verhoed om nog te kry.

my ma is ook baie konserwatief en sy skud maar net haar kop, en het maar aanvaar dat sy twee weird kinders het en ook nog n weird skoonseun. my pa ook maar effe weird. 😆

2 03 2015
dalenatjie

Die pryse is nogal skrikwekkend en ja, moet bieg, sal nog een kry as die geleentheid en rede hom voordoen..

2 03 2015
Xena Phoenix

Ek neem aan dat ‘n daar sekere vereistes is vir ‘n goeie tattoërkunstenaar? Goed soos is hy / sy higiënies, gebruik hulle nuwe naalde, kan hulle spel . . . Goeie vakmanne is maar duur. Eerder ‘n duur een as een wat jou gaan verrinneweer of siektes gee.

2 03 2015
dalenatjie

Nee dis baie waar, jy betaal vir ondervinding, professionaliteit, veilige perseel, nuwe naalde, gesteriliseerde toerusting maar al werk hul net 15 minute betaal jy vir n uur van hul tyd.

3 03 2015
Xena Phoenix

Jy is ‘n goeie sport, Dalenatjie.

Helaas doen almal wat per tydseenheid werk dit. Vra die hele eenheid al het hulle net ‘n gedeelte daarvan gewerk. Skelm, maar hulle kom weg daarmee.

Ek het nogal aangeneem dat ‘n mens vir die ontwerp betaal, nie vir hoelank dit neem nie. Aan die ander kant, die twee loop seker hand aan hand?

3 03 2015
dalenatjie

Hehe, dankie!

Ekt ook half gedog jy betaal n flatrate vir die naalde en toerusting en dan miskien per vierkante centimeter of hoe ookal maar toe nou nie. Myne is di helfde van my man se tattoo se grootte en kompleksiteit en ons het dieselfde daarvoor betaal

2 03 2015
Xena Phoenix

Baie welkom.

Ek het nooit geweet wat in die man is tot ek die video van “Move like Jagger” gesien het nie. Net jammer vir die tattoo’s. 😉 Jy kan hom maar kry.

Ek het ook meer as my regverdige deel van weird. 😉 Ek verkies maar net om my boeke geslote te hou.

Wat is jou gunsteling tattoo? Watter een haat jy?

2 03 2015
Olga

Ek verpes tattoos. Mooi tattoo? Ek kan ongelukkig nie verby die naald sien wat die vel penetreer nie. Dit laat my vreeslik hoendervleis kry. 4k. Ek het ‘n hewige vrees vir naalde en dus ‘n hewige afkeur vir enige iets wat met naalde te doen het, hetsy dit INSPUITINGS of tattoos is. Dink dus hoe versigtig werk ek met ‘n naald en gare.

2 03 2015
Xena Phoenix

Ek het al gekyk hoe kry iemand ‘n tattoo. Lyk blêrrie seer. Ek is nie ‘n aanhanger van pyn nie.

2 03 2015
Olga

et jy al die stuitige drakie/vlinder/elfie gesien as daardie vel waarop dit is, begin verlep?

2 03 2015
Xena Phoenix

Ek het eintlik parmantig bedoel, nie regtig stuitig nie. My woordeskat het my in die skande gesteek.

2 03 2015
HesterLeyNel

Man, wat my veral pla is die tattoos met die byskriffies. En o hel, moet tog nie dat daar ‘n spelfout of twee sy kop uitsteek nie – dis ‘n absolute passion killer. Hoe kan ek nou my aandag bepaal by die passion as ek die lyf langs my wil lees soos die Sunday Times?

2 03 2015
Xena Phoenix

Passion vir ‘n verfrommelde koerantpapier? Eish.

2 03 2015
Spokie sny spoor

Ja, ek oordeel niemand met prente orals oor kaal lywe, maar is ek seker ook maar outyds. Not for me …

2 03 2015
Xena Phoenix

Nie eers ‘n klein rooibokkie nie?

Persoonlik, as ek ‘n simbool van iets soek, werk juwele vir my. Maar ja, elkeen moet sy eie leef leef.

Wat van ‘n ringetjie of stud deur alles wat ‘n gaatjie kan vat?

3 03 2015
Spokie sny spoor

Nee man Xena-kie. Nou raak jy te slim. (Onthou – hierdie vrou is veronderstel om op die verhoog te klim en “heilig” te lyk. Hulle fire my dadelik.)
Mal oor jou humor.

2 03 2015
Sonlig

Dis ook nie vir my mooi nie. Ek dink weer altyd hoe mooi Kelly Osbourne sou gewees het as daardie lelieblanke vel van haar sonder tattoo’s was.

Die ergste vir my is ‘n bruid met tattoo’s – dit werk net eenvoudig nie.

2 03 2015
Xena Phoenix

Of Angelina Jolie?

Ek wonder partykeer of die kinders nie bang raak as Mamma en Pappa se hele lyf vol prentjies is nie.

2 03 2015
rondomtaliedraai

Ek vind die spoor van ‘n vriendin se dogter se gunsteling hond vreeslik smaakvol … dit vloei glad nie soos ander wat ek al gesien het nie. Verder is dit regig nie vreeslik mooi vir my nie

3 03 2015
Xena Phoenix

Dit is ‘n interessante gedagte. Jou dier se spoor. 😉 Party mense is regtig kreatief met hulle tattoo’s.

3 03 2015
rondomtaliedraai

Hy leef nog maar is baie oud … dis regtig smaakvol met grys en swart en dit het nog nie gevloei nie

2 03 2015
Klip

n Seksie tattoo op n vrou se rug wat so weg raak in daai plumbers crack………..laat my wonder

3 03 2015
Xena Phoenix

‘n Tramp stamp, Klip? 😉

3 03 2015
scrapydotwo

Nou toe, dis nou n onderwerp wat my ook gladnie aangestaan het nie. Ek het nooit gehou van die prentjies en goete nie. Vandat ek hier in NZ is kyk ek maar verby die tattoos want hier is hul volop. Dit is n tradisie veral onder Maori’s. As daar n kind gebore word is dit n teken, dan word dit kleinkinders wat aangeteken moet word. Elk het hul eie patroontjies wat gebruik word. Daar is hier ouens wie se gesigte geheel bedek is. Lywe word ook opgevul. As jy n matriarg of so iets is kry jy ook n ken tatoo.

3 03 2015
Xena Phoenix

Maori’s se tattoo’s laat hulle skrikwekkend lyk. Seker deel van die tradisie. 😉

3 03 2015
scrapydotwo

Dit is beslis so. Tog is die meeste van die mense agter die tattoo saggeaard en menslik. Is streng volgens tradisie

3 03 2015
Sparkle

Met of sonder, ek hou van mense nes hul is!

7 03 2015
Kameel

Hou ook nie van tattoos nie. Baie bly my kinders het weggebly van dié gier. Ons seun wat oorbelle gedra het was genoeg vir my.

12 04 2015
Daniel Bezuidenhout

Elke jaar sê ek vir my tiener meisiekind ek is te jonk vir ink op my lyf. Maar ek verbeel my hoe sulke groen katogies en kat neusie en snorre van my heup af kan loer vir manlief as die laken wegval. Ek is te ‘chicken’ vir pyn sênou die naaldkunstenaar teken soos ‘n vyfjarige op my dimpeldye? Grote Griet daar vlie die gedagte aan ‘n inkspatsel weer uit my gedagtes.

Lewer kommentaar op colourmecrazee Kanselleer antwoord