Toeka Tokkel 9: Beroep

25 02 2015

Scrapy daag ons uit om oor werk / beroepe te skryf.  Ek het toevallig nou die dag van my eerste werk geskryf.  Ek het nie regtig veel meer om daarby te voeg nie.  Ek is ‘n miskruier van beroep en ek is allergies vir werk.

Ek verwonder my altyd hoe daar op universiteite toegesak word die dag nadat matriekuitslae vrygestel word.  Ek kan net nooit verstaan hoe hulle kan verwag (eis) om net daar plek te kry nie.  Diegene wat plek gekry het, moes al (in my dae) voor April aansoek gedoen het.  Veral as jy enigsins op koshuisplek gehoop het.  Wat besiel die mense dan om ‘n goeie 6 maande na die sluitingsdatum die universiteite te bestorm?  Het hulle na hulle matriekuitslae gekyk en dan besluit hulle kan ‘n dokter, rekenmeester of landmeter word?

Ons was al letterlik in die laerskool gemaan dat ons moet besluit wat ons eendag wil word.  In st. 5 het ons aanlegtoetse gedoen om te bepaal na watter tipe skool ons moes gaan en watter keusevakke ons moes neem.  Ek onthou my uitslae nog goed:  “Rekeningkunde en Tik”;  “Rekeningkunde en Duits” en “Rekeningkunde en Bedryfsekonomie”.  Daar was seker rekeningkunde in my sterre gewees op daardie stadium.  Ek was nie juis gepla nie, ek het al in graad 2 amptelik en finaal besluit dat ek ‘n Juffrou gaan word.

Ons sou weer aanlegtoetse in St 8 gedoen het.  Iemand het egter besluit dat aanlegtoetse ‘n mors van tyd en geld is en ons moes toe maar op ons eie kies watter pad ons wou loop.  Ek (soos baie ander) het my vakke so gekies dat ek bykans enige iets kon gaan swot het.  Ek het ook min of meer in die tyd gekies dat onderwysers te min betaal word.  Ek het dus die onderwysplan in geheel geskrap.  Ook maar goed.  Ek het eendag in St 9 my Wiskunde onderwys gedreig dat ek sal terug kom skool toe om vir haar seun Wiskunde te kom doseer.  Sy het my op en af gekyk en gesê:  “Gelukkig weet ek Xena dat jy nooit ‘n onderwyser sal word nie.”

In my eerste jaar het ek en ‘n vriendin besluit om aanlegtoetse by die universiteit te gaan doen.  Ons moes ‘n paar moontlike beroepe vir onsself kies.  Ek het sommer vir die snaaksigheid soldaat as een van my moontlike beroepe gelys.  Die resultate het gewys dat ek amper enige iets onder die son kon gaan doen, insluitende om ‘n soldaat te wees.  Die toetse is só behulpsaam.  Die sielkundige het my aangeraai om iets (enige iets) te kies en ‘n akademikus te word.

Dit het natuurlik nie gebeur nie, wel miskien net nog nie gebeur nie.  Wie weet wat die toekoms inhou.  Tot tyd en wyl fassineer werk my vreeslik.  Ek kan ure lank daarvoor kyk.

Breinvasbrand:  Wie se huis is Arbeidsgenot?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 1991.


Aksies

Information

19 responses

25 02 2015
dalenatjie

Arbeidsgenot was oorle CJ Langenhoven se huis🙂

25 02 2015
dalenatjie

O ja, ek is nie bang vir werk nie, ek hou net meeste van die tyd nie daarvan nie😉

26 02 2015
Xena Phoenix

Hulle sê niemand is al dood van harde werk nie. Ek maak net seker ek is nie die eerste bekende slagoffer nie. 😉

25 02 2015
Olga

/ai, ek is ook so lief vir werk. Ek kan dae lank daarna kyk. Alhoewel, die bestormers en eisers vir tersiere onderrig, kry oor die algemeen plek, beurs en koshuisplek net omdat hulle dit gaan eis. Ek wens iemand wil die spul eters vertel dat TERSIERE onderrig ‘n donnerse luukse is en nie ‘n vereiste nie.

26 02 2015
Xena Phoenix

Ironies ook – nadat hulle reeds met verdere opleiding gehelp is, kort hulle verdere hulp in die arbeidsmark. Hoekom kan hulle dan nie ten minste die arbeidsmark op gelyke voet betree nie?

25 02 2015
scrapydotwo

Ja wat, almal is mos geregtig op verdere opleiding dit nogal by n universiteit wat net maar n klug is as dit kom by die inhoud wat aangebied word(growwe veralgemening van my kant!) Het in 2000 gesien toe my seun Tegnikon Pta toe is. Die lektore word so gekies dat die kennis die minimum is. Geen wonder die arme ouens wat n bietjie kennis het kry nie rerig werk nie. Werk is tog eintlik belangrik in vandag se lewe om kop bo water te hou

26 02 2015
Xena Phoenix

Jy weet mos Scrapy: Dit is TUKS of NIKS. 😉

26 02 2015
scrapydotwo

Ha ha- het die tegnikon en tuks nie saamgesmelt en NIKS geword nie?

26 02 2015
Xena Phoenix

NEE!!!!!!! TUKS is nog steeds die Universteit van Pretoria. Pretoria Tegnikon het Tswane University of Technology geword en dit is ‘n heel ander saak.

26 02 2015
scrapydotwo

Ooo nou vertel jy my! Ek dog dis hoe dit sou wees toe daar begin is om oor te praat van saamsmelt. DMoet se dit was in 2009

25 02 2015
scrapydotwo

Ai daar vergeet ek! Dankie vir jou inskrywing. Lyk my werk het almal afgeskrik om daaroor te skryf! Jy’s sover enigste een.

26 02 2015
26 02 2015
Spokie sny spoor

Wat ek wel agtergekom het is dat baie min mense wat vir iets geswot het spesifiek, werklik in daardie beroep inbeweeg. Soms moet jy maar vat wat jy kry.

26 02 2015
Xena Phoenix

Dit is ook baie waar. Tog moet ‘n mens onthoud dat ‘n graad nie net een toepassing is nie. Mens leer nie net boekkennis nie, maar ook ander vaardighede wat op verskillende beroepe en selfs velde toepassing het.

Ek het reeds genoem dat ek ‘n miskruier is. Om ‘n miskruier te word, het jy ‘n graad nodig maar daar is verskeie grade, selfs ‘n paar gevorderde grade, wat van toepassing kan wees. Miskruiers dek nogal ‘n wye veld en die veld verander voordurend. Daarom word nie net ‘n junior miskruier intensief opgelei nie, maar ‘n senior miskruier moet ook die heeltyd opgelei word.

27 02 2015
Spokie sny spoor

Hiehiehie – jinne – jy is oulik verby!!! Eks mal oor jou gladde woorde …

26 02 2015
Kameel

Vergewe maar dat ek geglimlag het😉

27 02 2015
Xena Phoenix

En hoekom mag jy nie hieroor glimlag nie? Jy mag sommer lag ook. 😉 Op hierdie blog mag mens alles doen behalwe huil.

Eh? Waarvoor het jy nou eintlik geglimlag? Onthou, ek is Xena Nuuskierig Phoenix.

26 02 2015
rondomtaliedraai

Ek kan ure sit en kyk hoe ander mense sit en werk

27 02 2015
Xena Phoenix

Absoluut fassinerend. Dit is wat bestuurders is. Mense wat ander mense kry om die werk te doen. 😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: