Google doen nie huiswerk nie

15 02 2015

Vir ‘n hele klompie jare op skool (laer- en hoërskool) het ons ‘n vak genaamd Media gehad.  Dit was net so een keer ‘n week waarin ons basies geleer is hoe om die biblioteek te gebruik.  Dit was die basiese idee, wat nou nie heeltemal so uitgewerk het nie.  Meestal het ons die tyd gebruik om te speel of huiswerk af te handel.  Ek onthou selfs die eendag op hoërskool wat ons in die tyd “Pretty Woman” gekyk het.  Die juffrou was besig om die video te kopiëer vir haar vriendinne.  Nou weet julle waar ons geslag geleer het om flieks, reekse en musiek te steel.

Dit is veilig om te sê dat ons nou nie doodgewerk is in Media nie, maar ons het iewers die basiese idee gekry.  Ons is geleer hoe om die regte boek vir die regte doel te identifiseer.  Ons moes die verskillende afdelings van die bib leer ken en leer hoe om daardie kabinet (ek het die naam vergeet) te gebruik.  Ons is veral geleer hoe om die boeke en ander media aan te wend vir navorsing.  Hoe om die relevante inligting te identifiseer en hoe om dit te gebruik.  Ek onthou veral hoe die Media Juffrou op hoërskool altyd haar neus vir die Wêreldspektrum opgetrek het.  Volgens haar was daar niks fout met die Wêreldspektrum nie, maar daar was soveel ander boeke met soveel beter inligting beskikbaar.

Die algemene gebruik van die internet het amper die biblioteek geheel en al vir navorsing vervang.  Daar is defnitiewe voordele aan die internet, mits ‘n mens die inligting wat jy kry goed oorweeg.  Anders as in die biblioteek, kan enige snert deur enige sot op die internet gepubliseer word.  Vakboeke word immers deur kenners uit mekaar gepluk en reg getimmer voordat hulle in die wêreld los gelaat word.

Google is ‘n wonderlike bron van inligting, maar inligting wat nie gebruik word nie is nutteloos.  WordPress skinder mos graag waste soekterme Google na jou blog gegooi het.  Ek sien deesdae dikwels die volgende tipe soekterm:  “opstel / praatjie / taak oor XYZ” of iets in daardie lyn.  Asof die soeker nie die inligting soek nie, maar die klaar verwerkte produk.

Is dit nog ‘n vaardigheid wat in die slag gaan bly?  Hoe om inligting te kry, weeg, verwerk en aan te bied?

Ek neem aan dat “Media” nie meer op skool bestaan nie.  Voorheen sal ek dit nie eers betreur het nie.  Maar, leer kinders nog die basiese proses van hoe om navorsing vir ‘n praatjie, opstel of taak te doen?  Weet die ouers wat die verskil tussen die inligting en die verwerkte inligting is?  Gaan die kinders geleer word voordat hulle universiteit toe gaan?  Of gaan verpligte taalkursusse nog eendag met ‘n verpligte “navorsing” klas gekomplimenteer word?

Dit laat my nou wonder.  Is daar nog plek vir skole as die basiese grondslag (tale en selfs Wiskunde en Wetenskap) nie daar gelê word nie?

Dalk moet tegnologie gelos word tot jy die nodige spel, skryf, lees en naslaanvaardighede bemeester het.  Dit sal dan meer waarde het.

Maar nou ja, al wat ek van onderwys weet is die twaalf jaar wat ek voor ‘n onderwyser gesit het.  Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wie het met sy ruimteskip die aarde een maal ‘n week besoek en alles vreemd in sy ensiklopedie opgesoek?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Fiona


Aksies

Information

19 responses

15 02 2015
Toortsie

Dit voel my kinders is langer op skool… maar die resultate? Nou praat ek nie van ons toppresteerders wat werklik hulle kant bring nie. Hulle sal altyd met ons wees en altyd hulle bes doen.

16 02 2015
Xena Phoenix

Top presteerders is nogal ‘n goeie vraag. Ek het eendag ‘n artikel gelees waar iemand galgebraak het oor mense wat 12 onderskeidings in matriek het. Die skrywer het volstaan by as die standaard was wat dit moes wees, is dit menslik onmoontlik.

16 02 2015
Olga

Ek stem 100% saam. Gaan kyk maar by enige skool wie is die toppresteerders. Soek hulle maar later in die lewe op. Die toppresteerde wie saam met my noolste Nolie deur hoërskool was, was nog saam met my Tumi in n eerstejaar klas. Geen graad toe gehad nie. Elke jaar nuwe studie rigting. Wat my laat wonder het, wie betaal?

16 02 2015
Xena Phoenix

Hulle kry gewoonlik beurse met hulle resultate. Swot hulle in ‘n koma in vir die beurs, maar kom nêrens nie. Hulle kry net nie rigting om iets klaar te maak nie.

15 02 2015
rondomtaliedraai

Daar is net nie tyd meer vir sulke goed nie Sillabusse is volgeprop en kinders kreun onder opdragte. Onderwysers ken ook nie die verskil tussen die inligting en verwerkte inligting nie Bronverwysings is ‘n vloekwoord! Wag ek moet ophou want sulke goed maak my moedeloos

16 02 2015
Xena Phoenix

In daardie geval is dit amper om van die kinders te verwag om resies op Kyalami te jaag, sonder dat hulle geleer is hoe om met ‘n kar weg te trek. Dit spel net RAMP.

Dit laat my dink aan ‘n onderwyser wat gee idee gehad het wie – nee wag, laat ons dit eerder vir ‘n ander inskrywing bêre.

16 02 2015
rondomtaliedraai

Nou het jy my nuuskierig?

15 02 2015
dalenatjie

Ons het ook Media op laerskool gehad en vir die eerste twee jaar van hoërskool ook. As ‘n mens net na die helfde geluister het van wat die bibliotekaresse gesê het, het jy al baie geleer… Ek probeer op die naam kom van daai kabinet met die klein laaitjies wat mens gehelp soek het na boeke maar dit wil net nie vorendag kom nie!

16 02 2015
Xena Phoenix

Hi Dalenatjie. Ek wou amper sê ons het van st 3 – st 7 Media gehad, maar om een of ander rede spook st 1 by my. Ek wonder of diegene wat nie Media gehad het nie, ooit besef dat elke boek in die biblioteek genommer is. Daardie nommer stem ooreen met die posisie waarin daardie boek moet wees. Daardie nommer op die boek, vertel ook die “klas” boek wat dit is.

Ek hoop iemand kan ons help met daardie kabinet. Ek dink nie ek het dit al ooit self gebruik nie. Ek het die biblioteektannie gevra. Op universiteit het ons sommer die rekenaar gebruik om ons te help soek na ‘n boek.

15 10 2015
dalenatjie

Is daai kabinet nie ‘n ‘kartoteek’ nie?

15 02 2015
Olga

Manemarak.

Ai as ek darem sien hoe jongmense vandag spel, raak ek bang vir wat die toekoms inhou.

16 02 2015
Xena Phoenix

Ek weet jongmense hoef nie meer tafels te leer nie. Ek wonder of hulle nog mag reken?

16 02 2015
Olga

Ek twyfel. Ek het Vrydag ‘n kennis raakgeloop en soos dit maar gaan haar navraag na my gesin geantwoord en gevra na haar gesin. Haar jongste kind, drie maande as my NIna, is steeds gr 7, Nina is gr 9. Sy ma het besluit om hom “‘n jaar terug” te hou. Hy is nie volgens haar op standaard met wiskunde nie. Die kind doen “homeschooling” elke dag saam met haar in die bib. Hy sal glo eendag saam met sy pa gaan werk, op die stadium, soek sy pa (eie besigheid) werk. HELLO?

16 02 2015
Xena Phoenix

Enigste hoop daar is die Ashoop.

16 02 2015
klippie

Kinders kan nie meer spel of reken nie. Ek dink hulle kry te gou met tegnologie te doen. Almal dink mos dis oulik as ‘n tweejarige vaardig is met die iPad of slimfoon, maar niemand leer hom of haar om te tel of te verstaan wat hulle kyk nie.

16 02 2015
Xena Phoenix

Ek dink die kern is eerder by die niemand leer hom/haar om te tel ens. Dit is aansienlik meer moeite as om hulle ‘n I-pad in die hand te stop.

18 02 2015
klippie

Ek stem, maar ek wou dit nie hardop sê nie. Ongelukkig is dit te maklik om ‘n kind voor die TV neer te sit of ‘n speletjie op die ipad te laat speel.

16 02 2015
Spokie sny spoor

Hou van jou Header-prent op hierdie artikel. Dit spel voorwaar M-e-d-i-a.

16 02 2015
Xena Phoenix

Ek hou ook daarvan. Dit wys hoe daar eintlik navorsing vir ‘n taak gedoen moet word.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: