Buksie Kordaat

15 02 2015

Buksie Kordaat is ‘n gemmer mannetjies kat wat saam met Mamma Tessa en Pappa Stefan bly.

Pappas sê gewoonlik dat Buksie die luiste kat is wat hy al ooit gesien het. Buksie laat hom nie so in die gesig vroetel nie. Dit is harde werk om ‘n kat te wees en Buksie moet rus wanneer hy die kans kry. Sodoende het hy genoeg energie om al sy pligte na te kom.  Buitendien, dit is nie asof Pappa al die katte in die wêreld al ontmoet het nie.

Elke dag moet Buksie vroeg opstaan sodat hy vir Mamma en Pappa uit die bed kan haal. Wanneer een van hulle die deur oopmaak, moet hy gou kyk dat niemand plante of buite goed deur die nag gesteel het nie. Sodra dit afgehandel is, moet hy eers seker maak dat Mamma en Pappa se kos nie vergiftig is nie. Pappa kla altyd daaroor, maar as Mamma wegkyk, gee hy altyd vir Buksie nog ‘n happie.

Buksie moet seker maak dat Mamma mooi agter haar ore was. Hy moet ook seker maak dat Pappa sy sokkies in die wasgoedmandjie gooi as hy gaan stort. Eintlik moet Buksie ook seker maak dat Pappa sy ore was, maar Buksie hou nie daarvan om nat te word nie. Daarom sing hy maar eerder buite en jaag Pappa aan.

Wanneer Mamma en Pappa reg is vir werk, gee hulle Buksie sy ontbyt. Na al die moeite wat hy vir hulle doen, sal hulle nooit eerste sy kos proe nie. Nie dat dit Buksie pla nie. Hy hou nie daarvan om sy kos te deel nie.

Na ontbyt is dit tyd vir Buksie se oggendslapie. Die vrou wat die huis skoonmaak en regpak maak hom gewoonlik wakker met die stofsuier. Dan moet Buksie seker maak dat sy nie halwe werk doen nie.  Soms raak sy kwaad vir hom en wil hom met die besem slaan, maar hy is te rats vir haar. Buksie proe nie haar kos vir gif nie, sy is mos lelik met hom.

Sodra die huiswerker weer onthou het wie die baas van Arendlaan 9 is, is dit tyd vir Buksie Kordaat se rondtes. Hy herinner eerstens die voëltjies dat hulle nie die tuin moet verwoes nie. Partykeer jaag Buksie hulle rond. Hy wil mos nie ‘n vet kat word nie, dus moet hy sy oefening inkry. Buksie gaan kyk wat die tannies in die ander huise doen, sodat hy vir Mamma alles kan doen. Af en toe sal hy die ander katte se kos proe, maar sy kos proe soveel beter.

Buksie moet ook met die wyfie katte flikflooi. Sy regte naam is mos nie verniet Casanova, Koning van Harte nie. Die wyfies sit al van vroegdag hulleself mooi maak vir Buksie. Hulle is mal oor die sjarmante Buksie wat so mooi en sag met hulle werk. Buksie kan net ‘n kort rukkie met die meisies kuier en dan moet hy huistoe jaag om inspeksie te doen van die werk wat die bediende gedoen het. Hy maak ook sommer seker dat sy nie steel wanneer sy huistoe gaan nie.

Buksie rus dan eers weer ‘n bietjie voordat Mamma en Pappa huistoe kom. Hy moet dan saam met Mamma sepies kyk terwyl sy hom vryf. Buksie vertel Mamma al die skinderstories terwyl sy kos maak. Hy proe eers weer net om seker te maak dat dit eetbaar is en gaan speel dan buite.

Mamma vertel altyd vir Buksie dat Pappa vet raak. Daarom laat Buksie altyd vir Pappa rondhardloop wanneer hy Buksie roep om te kom slaap. Buksie hol vinnig by die huis in en spring saam met Mamma op die bed as Pappa moeg gehardloop is. Pappa sluit dan toe en raas altyd omdat Buksie op die bed is. Buksie laat hom nie so beledig nie en hy spring altyd af voordat Pappa hom kan afgooi. Hy gaan eet dan eers weer van sy kos en verjaag al die muise wat hy sien. Hy vang die goggas wat hy sien en soms sing hy vir Mamma en Pappa. Nie te veel nie, hulle is te ondankbaar daarvoor.

Wanneer Buksie moeg is, gaan lê hy tussen Mamma en Pappa om te slaap. Pappa vergeet gewoonlik dat Buksie nie op die bed mag wees nie. As dit koud is, maak hy vir Buksie die komberse oop om lekker knus te slaap.

Soos julle kan sien, wat Buksie Kordaat maar ‘n bedrywige kalant. Sy prioriteite was egter bo verdenking. Buksie het altyd tyd gehad om nuwe maatjies te maak. Eendag sien hy ‘n groepie seuns besig om teiken te skiet.

Buksie het op die muur gespring om vir hulle “Hallo” te sê. Die seuns was heeltemal ongepoets. Toe hulle vir Buksie sien, toe wou hulle nie meer teiken skiet nie. Hulle het op Buksie aangelê. Buksie het eers gedink hulle maak ‘n grappie. Soos wat Pappa maak as hy dreig om Buksie te skop. Die seuns het egter ander planne gehad.

Buksie kon nie glo dat hulle hom wou skiet nie. Gelukkig het hulle almal mis geskiet. Buksie het hulle met veragting aangekyk en weggeloop. Maar toe skiet een van die niksnutse weer en tref vir Buksie in die boud. Buksie het hard geskree en het toe sukkel-sukkel huis toe gedraf. Hy het diep gaan wegkruip en sy been probeer gesond lek. Dit was vreeslik seer.

“Buksie?” het Mamma geroep toe sy huistoe kom en Buksie nie kom hallo sê nie. Buksie het dieper weggekruip. ‘n Kat het darem sy trots. Hy kan nie vir Mamma wys dat hy soos ‘n babatjie huil omdat die stoute seuns hom geskiet het.

Mamma het egter bloed op die vloer gesien en dit het haar reguit na Buksie gelei.

“Het jy alweer ‘n muis gevang?” het Mamma kwaai gevra.

Buksie het maar eerder gemaak of hy slaap. Sy been het gepyn en sy kop was seer. Hy was nie nog lus om raas te kry nie. Mamma het gesien waar hy wegkruip en sy het hom uit die kas se hoek gehaal.

Buksie kon nie help om te skree toe Mamma aan sy been vat nie.

“Wat is fout, Seuna?” vra Mamma bekommmerd.

Sy het Buksie se been saggies gevat en toe sy sien dat hy geskiet is, het sy vreeslik kwaad geword. Amper soos wanneer Buksie sy sand uit die bak krap, net baie kwater.

Sy het vir Buksie in sy mandjie gesit en dadelik na die Tannie-Dokter gevat. Pappa het vir hulle gewag by die veearts. Hy het vir Mamma vertel dat hy die polisie gebel het. Die Tannie-Dokter het vir Buksie ‘n inspuiting gegee en toe het hy aan die slaap geraak.

Teen die tyd toe Buksie weer wakker word, was hy in ‘n hokkie, sy been was met ‘n verband toegemaak en hy het soos ‘n blommetjie gelyk met ‘n skulp om sy kop. Die Tannie-Dokter het gesien hy is wakker en het hom uit die hokkie gehaal.

“Jong, jy is gelukkig, Buksie Kordaat. Jy het ampertjies een van jou lewens ingeboet. Een van die dae is jy weer katjie van die baan.” Het die Tannie-Dokter gesê voordat sy Pappa laat roep het.

Pappa het dat Buksie op sy skoot huis toe gery. By die huis het hy Buksie op die bank gesit en Mamma het vir Buksie lekker vis gegee om te eet. Daardie aand het Pappa vir Buksie gevryf terwyl hulle TV gekyk het. Mamma het vir Buksie in die bed gesit en Pappa het nie eers gekla nie.

Buksie se been het vinnig gesond geword en kort voor lank het hy weer sy pligte nagekom. Hy was nie bang nie, maar hy het besluit dat seuns nie meer waardig vir sy aandag was nie. Dit was nie asof hulle dit waardeer het nie. ‘n Kat laat hom nie deur ‘n spul kwaadjonges vermaak nie. Hy het darem sy standaarde.

Helaas, die seuns was smoorkwaad vir Buksie. Nie net het die Polisie die gewere gekonfiskeer nie, maar hulle moes ook al hulle sakgeld gee vir Buksie se mediese onkostes. Hulle het gesweer dat wanneer hulle vir Buksie gaan vang, gaan hulle hom afslag.

Eendag kry hulle vir Buksie in ‘n hoek vasgekeer. Daar was ‘n elektriese heining en Buksie kon nie ontsnap nie.

“Nou het ons jou, Helskat!” het die grootste seun gesê en sy vingers geknak.

Een van die ander seuns het sy mes uitgehaal.

Twee van die seuns het vir Buksie probeer vang, maar Buksie was nie ‘n kat wat jy sonder handskoene kon aanvat nie. Hy het sy ruggie kromgetrek, vir die seuns geblaas en sommer vir ekstra skop ‘n klap gegee. Die seuns het verskrik agtertoe gespring.

Buksie mag nou wel net ‘n gemmerkat gewees het, maar hy hou niks van boelies nie. Toe die seuns hom wou slag, het hy ‘n groot leeu geword. Terwyl die seuns van die leeus probeer weghardloop het, het hulle in muise verander.

Dit het Buksie – verskoon my; Buks – nie lank gevat om hulle te vang nie. Hy het hulle aan hulle sterte opgetel en voor sy bek rondgeswaai.

“Asseblief. Moet ons nie doodmaak nie.” Het die muisies gehuil.

“Gaan julle ooit weer katte probeer seer maak?” het Buks gebrul.

“Nee! Nooit ooit weer nie.” Het hulle belowe.

“Wat van ander diere?”

“Nee, nee! Ons sal nooit weer iets of iemand seermaak of boelie nie.” Snik die muisies.

“Julle beter nie!” grom Buks. Hy het die muise neer gesit en die muise het stadig weer seuns geword. “Volgende keer eet ek julle op.”

Die oomblik wat die seuns weer hulle lywe terug gekry het, het hulle weggehardloop. Buks het weer sy gewone self geword en hy het agter die seuns aangehardloop om sy punt te bewys. Die seuns het verby ‘n groep kinders gehardloop. Die kinders het hulle uitgelag omdat hulle vir ‘n kat weghardloop. Hulle het ook nie van die seuns gehou nie. Hulle was boelies wat lankal op hulle plek gesit moes geword het.

Buksie het vir hulle tong uitgesteek en hy het ‘n rukkie met die ander kinders gespeel. Buksie is toe huistoe waar hy vir Mamma en Pappa gewag het.

Die seuns het word gehou. Hulle het nooit weer iets of iemand seer gemaak nie. Maar hulle het van daardie dag altyd hulle broeke natgemaak as hulle ‘n kat gesien het.

Dit is die lot van mense wat diere seermaak. Dit is mos net die dapperes wat diegene beskerm wat nie hulleself kan beskerm nie.

Fluit fluit.

Advertisements

Aksies

Information

11 responses

15 02 2015
scrapydotwo

Ag moedertjie dis n pragtige storie die! Wel gedaan Buksie jy is n kat so na my hart. Ek is bly jy het oorleef want daardie boelies moet eintlik self n skoot in hul boud/been kry. Sal dan hoor hoe hul kerm en huil! Welgedaan dit is n heerlike leesstuk.

15 02 2015
Xena Phoenix

Ek het al lankal die storie van Buksie se dag tot dag bestaan wat in my kop draai. Moes net iets kry om daarmee te doen.

Dit is so hartseer soos mense (helaas nie net kinders nie, ouers moedig hulle dikwels aan) katte skiet of selfs slag net omdat dit ‘n kat is. Maak my ook boos. Sal graag ‘n BUKS op hulle wil loslaat, maar daardie BUKS moet geen genade ken nie.

15 02 2015
scrapydotwo

Ja jong, party het ook maar daardie wreedheid in hul. Wreede ouers maak wreede knders groot. Net jammer dis altyd die onskuldiges/swakkes wat altyd moet deurloop. Wou nog se Buksie het darem die mooiste gesig. Voel sommer om hom n ekstra drukkie te gee

15 02 2015
HesterLeyNel

Pragtige plat gesiggie. Lekker gelees, dankie.

15 02 2015
Xena Phoenix

Dit is ‘n pragtige gevreetjie.

15 02 2015
Olga

Go Buksie. Go Buksie.

15 02 2015
Xena Phoenix

Buksie moet nog ‘n paar boelies gaan soek.

15 02 2015
rondomtaliedraai

Pragtige kat. Ai ek word so kwaad!

15 02 2015
Xena Phoenix

Amper so mooi soos my kieter. 😉

16 02 2015
rondomtaliedraai

Jip

16 02 2015
Spokie sny spoor

Jinne, die foto is baie mooi. Oulike storie – hou so aan – die pen se punt moet warm bly. (Of moet ek eerder se jou vingers op die rekenaar.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: