Daardie sakkie peanuts

10 02 2015

Ek is Xena Phoenix en ek erken dat ek al die salaristannie se arm probeer draai het om ‘n ekstra nulletjie by my salaris te voeg.  Sy wil niks weet nie, nie eers as ek belowe om met haar te deel nie.  Ek sien vandag daar is die een blikskottel wie se werkgewer per ongeluk van ‘n desimale punt vergeet het (wie soek nou ‘n ekstra nul as die desimale punt geignoreer kan word?)  Sy salaris van R5 687,61 het as R568 761 in sy rekening geland. 

Die werknemer het verseker gedink hy het die lotto geslaan (tot Jan Taks in sy slaai kom krap).  Soos enige wyse man, het hy dadelik R400 000 in sy vrou se rekening oorgeplaas.  Sy het dadelik R260 000 daarvan belê.  Die werkgewer het iewers agtergekom dat hy aangejaag het en wou natuurlik sy geld terugkry.  Die werknemer het geweier.  Nou is beide sy en sy vrou se rekeninge gevries tot tyd en wyl die hof besluit het wie kom die geld nou eintlik toe.  Werklikheid is ‘n bitch!

Ek het noudie dag van iemand gehoor wat met sy heel eerste werk ‘n maandelikse salaris van R60 000.  Die melkbaardjie het noudie dag eers grad gevang.  Iemand gaan beslis in die pad gesteek word as hulle met sy salaris ‘n kommatjie gaan vergeet.  Mens kan sommer sien hoekom salarisse veronderstel is om vertroulike inligting te wees.  Dit voorkom jaloesie, bitterheid en naywer.

Ek kan my net verlekker aan wat die mannetjie aan belasting moet betaal.  Dit is mos sy skuld dat ek nie IT gaan swot het nie.  Gelukkig het ek nie met my eerste werk (waarvoor ek ‘n IRP5 jaarliks gekry het) belasting betaal nie.  SARS het beter dinge gehad om te doen as om hulle oor my R3.50 ‘n uur te bekommer.

My eerste werk het ek aan die einde van my st 7 jaar gekry.  Ek was oorspronklik aangestel om die “Record Centre” in ‘n plaaslike supermark te beman.  Dit was tegniese gesproke ‘n vakansiewerk, maar ek het nooit na die vakansie my ry gekry nie.  So het ek ‘n staan-in kassier / pakker / los hand geword.  My werksure was basies Vrydae 14:00 – 18:00; Saterdae 08:00 – 15:00 en Sondae 10:00 – 13:00.  Ek het natuurlik ekstra tyd gewerk met sekere vakansies en vakansiedae.

Aanvanklik het ons met rooi oorjasse gewerk.  Glad nie ‘n goeie idee in ‘n winkel wat soos ‘n miernes gelyk het en nie lugverkoeling gehad het nie.  Die oorjasse is later met ‘n wit T-hemp en ‘n voorskoot vervang.  Dit was beslis nie die lekkerste werk ooit nie.  As jy gepak het, kon jy byvoorbeeld glad nie gesit het nie.  Jou bene het behoorlik gepyn binne ‘n paar ure nadat jy begin het om mense se inkopies in te pak.

Die arbeiders het altyd die eerste Vrydag na die 15de salaris gekry.  Die mense moes die hele dag op so ‘n Vrydag in die son staan om hulle geld by die kitsbank te trek.  Daardie Vrydag was gewoonlik net besig, die Saterdag was rof.  Ek onthou jy sou vroeg in die oggend nog oplui en dan raak dit donker.  As jy ‘n sekonde gesteel het om op te kyk was daar ‘n ry voor jou wat tot in Kaïro gestrek het.  Jy het dan opgelui tot dit ‘n paar ure later weer lig geword het.  Die mense het dan klaar hulle kope gekoop of die winkel het toegemaak.

Vroeg in die dag het die mense gewoonlik met groot note betaal.  Dit was natuurlik ‘n krisis vir die wisselgeld wat jy beskikbaar gehad het.  Soos die dag voortgesleep het, het die geldeenhede kleiner geword.  Die mense het basies in die oggend ingekom en die aller nodigste gekoop.  Jy moes dan ook oplui tot ‘n sekere bedrag bereik is.  Ander draaie is geloop en dan het hulle ‘n tweede keer die winkel ingevaar.  In die laaste uur of twee was daar meestal met kleingeld betaal.  ‘n Laaste poging om al die gaatjies toe te stop?

Al die inkopies waarvoor daar nie geld was nie, was by die kasregister gelos.  Dit moet natuurlik deur iemand teruggepak geword het.  Dit het ook veroorsaak dat die winkel soms soos ‘n slagveld gelyk het.  Alles vir R3.50 ‘n uur.

Daar het julle nou die storie van my eerste werk.  Wat was jou eerste werk?  Hoeveel was jy betaal gewees?  As jou baas per ongeluk ‘n komma met jou salaris vergeet het, sou jy die geld terug gegee het?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan PIN?  (Ek weet, ek weet – maklikste vraag ooit).

Breinlosbrand:  Olga was reg met William Golding.


Aksies

Information

8 responses

10 02 2015
Olga

EERSTE!!!!!!!!

Persoonlike identifikasie nommer?

Lekker om so op die spoor terug te stap. Ai, die weglaat van so ‘n desimale komma kan ‘n fees wees. Net as jy toegelaat word om die geld te hou.

11 02 2015
Xena Phoenix

Ek sien 66% van News 24 se gebruikers reken hulle sal die geld terug gee. Dit sal darem ‘n hartseer saak wees.

11 02 2015
HesterLeyNel

Ek is te vars geretaaier om noual terug te dink aan werk, maar laat ek saamgesels oor PIN: Dit staan vir Pyn In Nek. Mens het mos deesdae kaarte vir alles; as ek my beursie uitpak in die winkeltou, lyk dit asof ek besig is om solitaire te speel. En elke liewe kaart het ‘n PIN wat ek moet onthou. O ja, en moenie dat ek my uitspreek oor passwords nie; dit sal ‘n vreelike vloekery afgee.

11 02 2015
Xena Phoenix

O ja. En dit moet alles unieke nommers wees wat jy nie iewers kan neerskryf nie. Onthou ook alarmkodes en toegangkodes. Sien jy hoekom is daar selfone? Met al die PINs en wagwoorde wat jy moet onthou, is daar bloot net nie spasie om foonnommers ook te onthou nie.

11 02 2015
Olga

Maar jy is toet en taal geskroef as ‘n etterlike ding jou foon steel.

11 02 2015
Spokie sny spoor

Hehehe – oulik geskryf! Lyk my jy ken ook die harde kant van die lewe …

11 02 2015
Xena Phoenix

Spokie, ek sal dit nou darem nie hard noem nie. Dit was maar iets wat ek vir ekstra sakgeld gedoen het. Van die vrouens wat saam met my gewerk het, het dalk 5 ekstra ure ‘n week gewerk en moes daarop oorleef het.

25 02 2015
Toeka Tokkel 9: Beroep | Herriemerrie

[…] daag ons uit om oor werk / beroepe te skryf.  Ek het toevallig nou die dag van my eerste werk geskryf.  Ek het nie regtig veel meer om daarby te voeg nie.  Ek is ‘n miskruier van beroep en ek […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: