Geen Regverdiging vir Barbaarsheid

9 02 2015

Enige regdenkende mens is seker met afgryse vervul nadat ‘n 18 jarige seun wit geverf en verkrag is.  Dit was ‘n aanval deur ander seuns saam met wie hy in die koshuis was.  Die media was gou om dit ‘n rassistiese aanval te noem.  Persoonlik noem ek dit barbaars.  Iets wat geheel en al onaanvaarbaar is en ten strengste veroordeel moet word.  Die motief maak nie saak nie.  ‘n Motief is ‘n rede om ‘n sekere daad te verrig.  Geen motief kan ooit die barbaarse aanval ‘regverdig’ nie.

Na die aanvanklike mediaberigte kan ‘n mens nou seker ook nie die rassistiese ondertoon ignoreer nie.  ‘n Swart seun is deur 4 blanke seuns wit geverf en met ‘n stok gesodomiseer in ‘n landbouskool terwyl die ander seuns die aanval verfilm het.  In twee ure het niemand probeer om die slagoffer te help nie.  Dit is walglik, om die minste te sê.  Was rassisme die kern van die aanval?

Verskoon my ‘n oomblik, maar ek moet gou ‘n wye draai gooi.  In die proses het ek sommer gou die HAT nader gesleep en definisies gaan opsoek.

Barbaars:  “Soos ‘n barbaar, onmenslik, wreed, onbeskaaf.”

Rassisme:  “Veronderstelling dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras – ‘n denkrigting wat aanneem dat dat ‘n besondere ras meerderwaardig is en die reg het om ander rasse te oorheers.”

Ek wonder nou dikwels wat rassisme nou eintlik is.  Honde het verskillende rasse.  Dit bepaal nie net hulle voorkoms nie, maar ook sekere eienskappe van die dier.  Die verskille word gebruik om honde vir verskillende funksies aan te wend.  Dit is wetenskap.  Dieselfde moet seker waar wees vir mense.  Tog kan niemand dit durf waag opper nie.  Waar dit mense aangaan, moet jy blind wees en geen patrone of gemeenskaplikhede identifiseer nie.  Dit word as rassisties gesien.

Ek glo in “Eenheid deur Verskeidenheid”.  Ek wonder soms of ons nie verder met versoening sal kom as ons op mekaar se sterkpunte konsentreer en daarop bou nie.  Nou ploeter ons voort om almal ten alle koste dieselfde te beitel.  Wat wil ons nou eintlik bereik daarmee?  Bloedhonde kan baie goed ruik.  Alhoewel, ‘n Jack Russell wat hom as ‘n besonderse ruiker bewys het, word nie die deur gewys nie.

Let wel – ek probeer geensins sê dat iemand op grond van ras weggewys of anders behandel moet word nie.  Eerder dat dit natuurlik is dat sekere aktiwieteite sekere rasse harder gaan roep as ander.  Daar sal wel die uitsonderings wees.  Daar is geen rede om die uitsondering te weier nie, maar moet nie iemand inforseer net om ‘n punt te bewys nie.

Ek verstaan dat die sienswyse as rassisties gesien kan word.  Was dit egter ook barbaars?  Ek lees vanmiddag dat blote feit dat jy luister hoe iemand gal afgaan oor ‘n ras anders as jyself, jou ‘n rassis by assosiasie maak.  As jy oor BBBEE kla, wil jy nie onregte regstel nie.  As jy gatvol is dat Apartheid vir alles blameer word, verstaan jy nie die pyn was mense in die ou regering deur gemaak het nie.

Kom ons gaan terug na Jan Kempdorp.  Al glo jy dat Avatars (of Mampoeries of Luilakke of . . .) die opperste ras is, is dit net jou opinie.  Niks gee jou die reg om jou mening op ‘n ander afdruk nie.  Net soos Avatars bestaan reg het, het Mampoeries ook ‘n bestaansreg.  Jy hoef nie van ‘n Mampoerie te hou nie, maar gun hom sy sonskyn.

Die tragiese storie wat daardie aand in die koshuis ontvou het, is nog nie heeltemal bekend nie.  Ek het hierdie artikel wat Sondag gepubliseer is nogal interessant gevind.  Dit het blykbaar bekend geword dat die slagoffer se ma wit is.  Hy was gedwing om brood met tandepasta te eet en hy is met iets soos seep of skeerroom besmeer.  Sy aanvallers het hy as vriede gesien.  En die toeskouers wat gelag het en video opnames gemaak het swart seuns ingesluit.

Noudat dit nie net blankes is wat aan die aanval deel geneem het nie, is dit nog steeds rassisties?  Dit bly egter nog steeds barbaars, wreed en onmenslik.  Ek hoop van harte die toeskouers word ook verantwoordelik gehou vir wat daar gebeur het.

Breinvasbrand:  Wie was die outeur van Lord of the flies?

Breinlosbrand:  Olga was reg met die Koning van Diamante.


Aksies

Information

18 responses

10 02 2015
Toortsie

Ja, Barbaars. Onopgevoed.
Die ding is, hulle hoor die dinge by die huis, dalk nie so vieslik nie, maar die saad word om die braaivleisvuur gesaai. Ek was nou die dag so ontsteld toe ‘n 5 jarige vir my vertel hoekom ons beurtkrag het. Hy kon dit nie self uitgedink het nie!😦

10 02 2015
Xena Phoenix

In hierdie geval praat ons van 14 – 19 jariges. Mense wat oud genoeg is om tussen reg en verkeerd te onderskei. Ek het gewoonlik baie simpatie met jeugdiges wat aanjaag. In die geval kan ek nie versagtende omstandighede sien nie.

10 02 2015
Toortsie

En hiermee keur ek nie beurtkrag goed nie, of die swak organisasie nie, maar regtig, wat voer ons ons kinders?

10 02 2015
seegogga

ek het ook so aan Lord of the Flies gedink toe ek dit lees. En dan is daar die storie van RAKA en Koki. En Jesus en Barrabas. Die meese mense, tot ons almal se spyt is volgelinge en het nie die moed op op te staan as iets verkeerd is nie. Daar moes tog onder daardie seuns iemand gewees het, wat gevoel het dat dit verkeerd is? Maar hy was te bang om die outjie te help en te verdedig, want hy was bang vir die massa en dat hy dalk ook slagoffer sal word of verwerp sal word deur die groep. Dit is so hartseer. As EEN outjie net opgestaan het en probeer keer het, sou ander hom dalk gehelp het. Ek stem saam: dis barbaarsheid en nie rassisme nie.

10 02 2015
Xena Phoenix

Die mens is maar ‘n vreemde ding. (Onthou dat ek eendag die storie van ‘n Mens vertel). Ek het iewers gelees dat daar gewoonlik deelnemers aan ‘n groepsverkragting is wat nooit op hulle eie iemand sal verkrag nie. Daar word mos juis gesê dat die lagie beskawing maar baie dun is.

10 02 2015
Olga

William Golding

Weet jy selfs al is dit barbaarsheid en ek sekondeer dit heeltemal, waar was die onderwyser aan diens? Weggekruip? Of spesifiek uit die pad gebly? Niemand kan ook ontgroening skree nie. Dis is net eenvoudig te barbaars. Ek persoonlik, kan en wil niemand verkwalik wie uitvaar teen die onregte wat gepleeg word in die naam van versoening nie. Ek is die laaste mens wie ‘n kind se intellek sal onderskat. Daarom maak die stories om die braaivleisvuur nie eintlik saak nie, die mense noem wat die kinders reeds weet. Maar retribusie behoort nie teen die mensies in die koshuis saam met jou of diegene op straat te wees nie. Wreek jou (as jy dapper genoeg is) op die pleërs van die onregte. Ek het die filmvoering op tv nuus gesien maar die berig het nie genoem die seun was ‘n gekleurde wie wit geverf was nie. Sies! Hy was met ‘n tandeborsel ook gesodimiseer.

10 02 2015
Xena Phoenix

O ja! Waar was die onderwysers? Dit is wat die onderwysdepartament ook wil weet. Dieselfde skool was al voorheen in die nuus gewees omdat hulle gekleurde leerlinge laat mis eet het terwyl die onderwysers toegekyk het. Sal my dus nie verbaas as hulle die kabaal aspris nie gehoor het nie. Ek hoop die seun dagvaar hulle. Die toesighouer moet ook van verkragting aangekla word.

Die seun wat die slagoffer is, is soos ek verstaan 18 jaar oud. Lankal nie meer ‘n st 6’sie.

Wie kom die wraak in elk geval toe?

10 02 2015
Spokie sny spoor

Ek haat dit as koerante dinge so kan opblaas en uitbassuin sonder korrekte feite. Maar die daad is vir my ook afskuwelik. mens moet maar dophou wat gaan gebeur.

10 02 2015
Xena Phoenix

Ek het ‘n broertjie dood aan koerante wat nie die feite alles het nie. Hulle wil eerste wees, nie noodwendig reg nie.

29 04 2015
ONTSTELD

Spokie, jy het insig en visie…… die Media is besig om alles baie goed uit verband te ruk, omdat dit net vir hulle gaan oor sensasie en verkope van hul koerant! Geen feite en geen bevestiging van die “verkragting” nie. Geen omstanders wat dit gesien gebeur het nie – dit terwyl die kamer vol seuns was! ??? In 2011 is ‘n wit seun deur 4 swart seuns “verkrag” met ‘n pyp vol kompressie, die wit seun het by die dood omgedraai en in ICU beland. Swart seuns nie eers uit hul skool geskors nie. Niks daarvan gekom nie. Ek wil nie se hou die nuus dop nie, want hulle verdraai als so, hou maar net die verloop van die saak dop. Die seuns is reeds onskuldig bevind by die skool – deur ‘n aanstelling wat deur die Departement gemaak is. Hulle moes al op 15 April terugkeer skool toe, maar in ons korrupte land kry mense soos die skoolhoof en lede van die Beheerliggaam dit reg om direk teen die uitspraak te gaan en toegang te weier. Woordvoerder vir die Departement jok blatant oor openbare TV, deur te se die kinders is skuldig bevind en nou wil die ouers dit opponeer. Hy noem hulle ook verkragters in sy verslaggewing, dit terwyl die seuns nie eers gekoppel kan word aan die sogenaamde “verkragting” nie. Ek hoop en bid dat die waarheid sal seevier en dat reg en geregtigheid sal geskied, want hierdie is niks anders as ‘n “heksejag” teen van die kinders nie. Dit ontsteld my net dat mense, wat nie eers ‘n IDEE het van wat aangaan, so maklik opinies kan vorm en uitsprake lewer nie, ergste van alles, ons verwag van ONS nasie om ‘n bietjie “common sense” en insig te he.

10 02 2015
alleman

Dis nie ‘n lekker gedagte dat rassisme die motief was nie, so mens probeer instinktief ander verklarings soek.
Die skoolhoof glo “die motief vir die voorval was omdat die vier wit seuns uitgevind het die slagoffer – ’n bruin seun – se ma is wit”.

En dit maak dat ons nie kan wegstaan van die voorval asof dit niks met ons te doen het nie. Elke keer wanneer ons stilbly wanneer mense rassisties is, dra ons by tot die volgende voorval soos hierdie. Dis ons skuld. En Steve Hofmeyr se skuld.

10 02 2015
Xena Phoenix

Ek is ‘n selferkende feminis. As ek vandag gou ‘n man in ‘n koma slaan, gaan dit ‘n feministiese / seksistiese aanval wees?

As 4 swart seuns ‘n wit seun aangeval het, sou dit dan ook ‘n rassistiese aanval gewees het? Ek dink dit is wat my moedeloos maak met tye. Rassisme word dikwels net as ‘n blanke euwel gesien. As jy ‘n swarte te nakom terwyl jy blank is, is jy dadelik ‘n rassis. Dit werk nie ook omgekeerd nie.

Ek vind dit interessant dat die HAT se verduideliking nie rassehaat insluit nie.

Rassisme behoort ‘n lyn te hê tot waar dit strek. Om iemand ‘n K-woord toe te snou, is rassisme. Om iemand af te skryf oor die kleur van sy vel, is rassisme. Om iemand aan te rand, is aanranding. Om iemand te verkrag, is verkragting.

Tog het jy ‘n punt beet. Rassisme is dikwels die wortel van geweld / uitwissing aanleiding. Dit kan nie ontken word nie. Blatante rassisme moet aangespreek word.

Ek wonder wat die aanvallers daardie aand sou gedoen het met ‘n homoseksuele seun in die koshuis? ‘n Meisie wat in die koshuis in ‘n donker hoekie betrap is? Iemand van ‘n ander geloof? Dalk ‘n verstote bobbejaan. Sommer net iemand van wie se gesig hulle nie gehou het nie.

Soet gaan slaap het? Of sou hulle in elk geval iets of iemand gemartel het? Het hulle ‘n idee in hulle kop gehad en sou enige slagoffer geskik gewees het?

10 02 2015
Olga

Ek voel regtig lus om te sê dat die seuns se sig nog goed moet wees. In die filmvoering wat ek op tv gesien het, het nie een van die seuns naaste aan die bed bril gedra nie. Hoe kon hulle van meet af gemis het dat hy nie wit was nie? Hierdie storie stink. Nie noodwendig na rassisme nie.

10 02 2015
Xena Phoenix

Die hele storie maak my naar. Niks en niemand behoort so aangeval te word nie.

10 02 2015
scrapydotwo

Nou het ek sommer weer bloeddrukstyging gehad. Ek moet nie sulke dinge lees nie. Waar kom die “kinders” aan sulke idees is my vraag. Het hul nie n eie gevoel van menswaardigheid nie? Dit gaan nie oor die werklike ras nie nie dit gaan oor die haat wat in hul breine is om ander te kan seer maak en verkleineer. In diere lewe gaan dit ook oor verwerping van swakkes maar nie oor die idee dat jou ma dit is en jou pa dat nie! Ek het n hele paar jaar die spesiale klas van seuns in hoerskool gehad (15-16jariges) Die idees en gedagtes wat daardie seuns in hul ronddra is skokkend. Alles gaan ook oor groepsdruk. Hul sweep mekaar op.
Dan was daar ook n geval dat n wit onderwyser alles gedoen het vir die swart matriekleerlinge- op die ou end het een hom platgeslaan in die klas en daar is fotos geneem en die wereld ingestuur. Daar het niks van gekom nie, want die onderwyser moes verder skoolhou om inkomste te kry. Wreed en onbeskaafd eg barbaars(laasyte is nie oor ras nie maar oor die opwinding om dit te doen)

11 02 2015
Xena Phoenix

Daardie opwinding . . .

Dit bly lekker om droog te maak. Aan die eenkant het die samelewing te toegeeflik geraak (hoe maak jy droog as dit nie droog maak is nie?) en aan die ander kant is die samelewing te ernstig (hoe gaan swem jy in iemand anders se swembad as jy geskiet gaan word?). Met die gevolg is dat gesonde stoutwees aan die uitsterf is. Kicks moet op ander maniere gekry word. Jy moet ook DIEP krap om te kan skok.

Nee, dit is ook nie ‘n regverdiging nie. Eerder iets om aan te knibbel.
😉 Ek het eendag my Wisk juffrou in haar klas toegesluit en weggeloop. Gelukkig was ek nie toegesluit vir my moeite nie.

11 02 2015
scrapydotwo

Ons was ook goed stout maar darem nie so “lelik” met ander nie

11 02 2015
Olga

Die lewe is lelik vandag. Die ouers werk. Na werk is dit “me” tyd en “u” tyd. Daar is tyd vir ‘n drankie terwyl ouers in “we” tyd ontspan en nog een en nog een. Waar is die tyd vir die kinders? Watse lewe het kinders vandag? As dit nie skool is nie, is dit selfoon, internet en flieks. Wie weet watse flieks?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: