Koop advies

21 01 2015

Mens werk vir geld.  Punt!  Mens kan dae lank praat van werksbevrediging, om jou werk te geniet en persoonlike groei, maar op die ou einde van die dag werk jy vir geld.  Indien dit nie die geval was nie, sou jy mos verniet gewerk het.  Tensy jy glo dat jy werk vir liefde en trou vir geld.  Op die einde van die dag soek ons geld.  Ideaal gesproke wil ‘n mens nie net jou uitgawes daarmee dek nie.  Af en toe wil jy iets koop sommer net omdat jy wil.  Jy het mos hard gewerk vir jou geld (al het jy getrou daarvoor) en mens wil darem iets daarvoor wys.

Dit bring my by koop.  Dit is nie net koopverslaafdes wat soms iets begeer nie.  Dan en wan gaan enige mens iets hê wat luid na hom/haar roep.  Of sommer net inspring wanneer jy dit die minste verwag.  Daar is niks daarmee verkeerd nie.  Tog wil ‘n mens nie graag ‘n kat in ‘n sak huistoe sleep nie.  Dit is immers sonde om jou bloedsweet te vermors.

Ek is nie heeltemal seker wat katte met die storie uit te waai het nie.  Ervaring het my egter geleer om maar eerder altyd die kat goed uit die boom te kyk.  (Hoe kom die kat in elk geval uit die boom in die sak?)

Ernstig nou.  Ek weet dat verkoopspersone se mantra “Close, Close, Close” is.  Dit is hulle werk om jou so gou as moontlik in ‘n ding in te praat.  Hoewel, dikwels as die produk vir homself kan praat, is die verkoopspersoon bereid om terug te staan dat jy jou besluit kan maak.  Wanneer ‘n aanbod verval die oomblik wanneer jy by die deur uit verdwyn, kan jy maar weet dat dit nie ‘n goeie kopie is nie.  Die oomblik wanneer jy ruimte het sal jy besef dat dit ‘n truuk was.  Buitendien, as jy ‘n week later van besluit verander kan jy op die spesiale aanbod aandring.  Hulle sal beslis daarvoor val.

Ek sal nou nie lieg en sê dat ek nog nooit ‘n impulsiewe kopie gemaak het nie.  Ek sal nie eers sê dat elke impulsiewe aankope ‘n ramp was nie.  Ek weet wel dat wanneer ‘n mens dadelik tot ‘n ooreenkoms gedruk word, is dit die tyd om hard en duidelik nee te sê.  En die dag moet nog kom dat ek die nee berou.

Watse gevaarligte het julle waar dit aankope aangaan?  Het jy al ‘n leeu in ‘n sak gekoop?  Hoe weet jy dat jy die regte ding koop?

Breinvasbrand:  Watter Amerikaanse staat is in 1867 van die Russe gekoop?

Breinlosbrand:  Johannes en Olga was reg met Markus.


Aksies

Information

11 responses

21 01 2015
rondomtaliedraai

Grinnik … ek het al iets gekoop oor dit oulik op die verpakking gelyk het. Ek kan my verloor in ‘n Verimark winkel… sug… maar ek is te suinig vir groot koop!

22 01 2015
Xena Phoenix

Die grootste raaisel is natuurlik of Verimark iets verkoop wat werk. Iemand het my hand op die hart belowe dat hulle Genesis Cyclo Vac die beste stofsuier ooit is. Na 10 gebruike breek die pyp. Na maande se gesukkel kry ek toe ‘n nuwe pyp te koop. Seker so 4 gebruike later, breek die vervlakste pyp weer. Wat help dit?

22 01 2015
rondomtaliedraai

Ek weet Ek weet… ek dink egter hulle verstaan my kinderlike nuuskierigheid Ek het egter ‘n vriendin wat haar Genesis al ‘n paar jaar het en sy sê dis die beste ooit!

21 01 2015
Olga

Kan net Alaska wees> TWEESTE!!!!!!!!!!1

21 01 2015
Olga

Ek het al soveel stelle afgetrap dis net nie waar nie.

22 01 2015
Xena Phoenix

Ja, mens moet maar katvoet wees. Die arme katte.

21 01 2015
carolredelinghuys@Losbek

Ek is ‘n redelik versigtige koper

22 01 2015
Xena Phoenix

Ek gaan kyk verskeie kere na iets voordat ek dit koop. Selfs al het ek reeds besluit om te koop, gaan kyk ek weer. Ek het ook al agter gekom dat verskillende verkoopspersone verskillende stories vertel. Ek let dus op vir ooreenkomste en ondersoek verskille verder.

22 01 2015
Olga

(Mens kan nogal baie van die wysneuse leer.)

22 01 2015
Spokie sny spoor

Mmmm, ek koop ook nooit dadelik nie. Partykeer is ek vies vir myself daaroor. loop die hele Mall plat, net om terug te keer na 1ste winkel waar ek gedog het ek die produk sou vind. Ek dink ek kyk baie vas teen ‘pryse’ vir die ‘beste’.
(sug)

22 01 2015
Xena Phoenix

Deesdae kan mens sommer google om te sien of wat die produk in ander soortgelyke winkels sal kos. 😉

Daar is min dinge wat my so vies maak as om iets in ‘n winkel te gaan soek wat dit behoort aan te hou en hulle het dit nie. Wee jy. . . .

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: