51ste Staat

3 12 2014

Independence day (die een wat op 4 Julie gevier word), Halloween, Thanksgiving, Black Friday, Santa Clause . . . Ek het regtig niks daarteen nie, mits dit in Amerika gevier word. My probleem is dat ons in Suid-Afrika is. Ons onafhanklikheid van Engeland het ons op 31 Mei gekry en dit het net mooi niks met Abraham Lincoln te doen gehad nie. Toegegee, Republiekdag is met Vryheidsdag vervang, maar dit val op 27 April. Ons het nog nooit nodig gehad om dankbaar te wees dat die Idiane hulle kos met ons gedeel het nie. Siende dat Black Friday die dag na Danksegging is, het dit nie regtig rede om te ontstaan nie. (Ek stem wel vir 52 Black Fridays ‘n jaar). Ons het nooit Halloween gevier nie en Father Christmas was vir generasies goed genoeg om geskenke te kom aflewer.

Goed, goed – ek weet julle is nie lus om na my gesanik te luister nie. Dit is immers nie asof Amerika hier kom oorvat nie. Suid-Afrikaners ver-Amerikaans uit vrye wil. Nou wonder ek hoekom gaan ons nie vir goud nie? Hoekom hys ons nie die Amerikaanse vlag, sing die Stars Spangled Banner en word die 51ste staat nie?

Absurbte idee?

Miskien, maar nogal iets om aan te dink.

Kyk, Amerika is nou nie die land van melk en heuning nie. Hulle het hulle deel van geweldsmisdade, maar hulle is ook baie meer oop vir die idee dat elkeen die reg het om hulle self te verdedig. Hulle onderwys is nou niks om oor huis toe te skryf nie (mits jy nou natuurlik genoeg leer om te kan skryf). Hulle gesondheidsdienste kan op verbeter word, maar is darem aansienlik beter as ons publieke hospitale. Hulle het ook maar Unies wat diegene wie se werksverrigting nie vir hulle self kan praat nie.

Aan die ander kant, bly Amerika die land van geleenthede. Dit is ‘n land waar jy jou merk kan maak ongeag wie jy is of wat jy is. Amerika se ekonomie is die wêreld standaard. Op een of ander manier werk hulle land. Die publieke vervoerstelsel is veilig en min of meer betroubaar. Die infrastruktuur is prakties, veilig (tensy ‘n vliegtuig daarin vlieg) en word onderhou. Hulle regering is funksioneel en moet verantwoording doen. Daar is ook aansienlik meer waarde aan ‘n Amerikaanse paspoort as aan ‘n Suid-Afrikaanse paspoort.

Amerika is boonop ‘n Federale staat. As die 51ste staat, hoef ons nie noodwendig heeltemal volgens hulle pype te dans nie. Ons sal dus ‘n sekere mate van onafhanklikheid behou. Hier is dalk waar die hele idee inmekaar duiwel. Sal ons dus nogsteeds met die huidige gemors van regering sit? Sal euwels soos BBBEE nog bestaansreg geniet?

Alles kom natuurlik met ‘n prys. In die geval ons integriteit (wat ons oor het), IK en logika? Dalk is ek net te snobisties vir my eie goed.

Wat dink julle?

Breinvasbrand: Wie het die huidige 50 ster vlag in 1958 op 17 jarige ouderdom ontwerp?

Breinlosbrand:  God is redding (volgens my inligting)