Poep vs Donderweer

16 07 2014

As daar ‘n treffer sanik parade was, was E-tol (SANRAL) een van die voorlopers gewees vir die hoogste posisie.  Dit sal nogal ‘n strawwe kompetisie wees om te wen.  Daar is immers altyd ESKOM, die ANC en Zuma met wie daar gewedywer moet word.  Om nou nie van ander hansworse of krisisse te praat nie.

Hoe dit ook al sê:  E-tol is ‘n doring in almal se vlees.  Ek is seker nie eers SANRAL werknemers wil dit betaal nie.  Nogtans is diegene in beheer vasbeslote om dit deur te druk.  Benewens die E-tag inspeksies daagliks op ‘n oprit of 3 op die N1, word daar nou glo ernstig gekyk hoe mense vervolg gaan word.  Net so vasbeslote is die groepe wat daarteen protesteer.  Hulle sal baklei tot die laaste sent.  Helaas het hulle nie soos SANRAL belastingkoffers wat hulle gevegte kan befonds nie.

(Eintlik half ironies as ‘n mens daaroor dink.  Belastingbetalers beveg ‘n organisasie wat hulle befonds.  Ironies se voet.  Dit is tragies.)

Persoonlik dink ek die skrif is teen die muur.  E-tol het gekom om te bly.  Gauteng is maar net die begin.  Al is daar nog 300 hofsake, as die regering geld wil hê, sal hulle die geld vat.  Die Gautengse premier het onlangs belowe om weer na E-tol te kyk.  Ek het ‘n vermoede dat hy net gaan kyk, maar absoluut niks daaroor sal kan/wil doen nie.

Wanneer is dit dan tyd om handdoek in te gooi?  Persoonlik het ek al ‘n rekening wat oor ‘n R1000 is.  Ek verstaan dit is min in vergelyking met die rekeninge wat ander mense het.  Ek staan nog sterk; juis omdat ek weet die waarde van ‘n protesaksie is in die hoeveelheid protesteerders.  Nogtans gaan die storie een of ander tyd tot ‘n punt gedryf word.

SANRAL kan dalk nie ‘n paar miljoen mense hof toe sleep nie.  Hulle kan dalk besluit om valhekke by op- en/of afritte aan te bring.  Dit is verseker die laaste ding wat enige regdenkende mens wil hê.  Hoewel, as hulle na die stap oorgaan, wie kan blameer word?

Anders kan SANRAL dalk die SAUK pad stap.  Hoe lank dreig die SAUK nie al oor inspeksies en regaksies vir mense wat nie hulle TV lisensies betaal nie?  Nogtans is daar net ‘n handvol sotte wat dit betaal.  Dit is seker maar die prys daarvan om sotlik te wees, maar dit is nie juis regverdig teenoor die sotte nie.  Sal dit E-tol se voorland wees?

Geen mens weet nie.  Wat wel ‘n feit soos ‘n perd is, is dat wanneer jy in die wind in piepie, gaan jy piepie in jou gesig kry.  Die vraag is nou wie piepie teen die wind?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan SANRAL?

Breinlosbrand:  Die Skotte of die Jode.


Aksies

Information

3 responses

17 07 2014
rondomtaliedraai

Ek is een van die sotte wat alles betaal wat betaal moet word en dan sit en myself jammer kry

17 07 2014
Zeppie

Almal wag vir daai eerste hofsaak waar hulle iemand hof toe sleep vir sy agterstallige gelde
Want wanneer SANRAL dit verloor…dan kan hulle maar vergeet dat hul enige geld gaan kry

20 07 2014
Olga

South African National Roads Agency Limited. Hulle is so limited soos hulle gesamentlike ik.

Hoe lekker lag ek nou. Ek het ook ‘n hele paar rekeninge al gekry. Feitlik weekliks ‘n geel koevert van “hybrid Mail” wat my vertel dat ek ‘n posstuk by die toonbank moet gaan afhaal. As Thandi dit uithaal en sien dis van Sanral, dan lag sy te lekker en sit dit terug.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: