And baby makes 3

27 07 2014

Die Engelse sê iets van “Don’t assume, it makes an ass out of u and me.”  Dit is natuurlik net van toepassing as jy jou aannames aan die wêreld verkondig of met jou aannames optree.  Dit wat jy in die privaatheid van jou kop doen, hou darem die eier van jou gesig af.  Tensy jy natuurlik daaroor gaan blog.  Maar as jy jouself as ‘n toffie uitgee . . .

Nou die dag sit ek op my planeet en beskou die aarde so ‘n bietjie.  In ‘n stil hoekie, weg van die gedruis, is daar ‘n swart seuntjie van niks ouer as 3 jaar alleen.  Dit is seker wat my aandag getrek het.  Die seun is te jonk om op sy eie te wees, veral in ‘n area wat geïsoleer is.  Ek wonder toe nogal waar sy ma is.  Juis terwyl ek wonder of dit nou my probleem is, stap daar ‘n blanke man na die seun.

Ek het groot geword in die tyd van Gert van Rooyen.  Dus ‘n vreemde man by ‘n kind sal my altyd laat frons.  Nie dat ek noodwendig die slegte van almal dink nie.  Ek kan nou regtig nie ‘n goeie siel veroordeel wat dalk ook maar net bekommerd is oor ‘n kind weg van alles af.  Dit is heeltemal moontlik dat hy net wou weet waar die seun se ma is.

Die man het ander planne gehad.  Toe hy by die kind kom, haal hy lipsalf uit om vir die kleintjie aan te sit.  Duidelik is hy nie ‘n vreemdeling vir ‘n kind nie.  Vreemdeling – hoe goed of sleg hulle ook al is – is nie gepla met ‘n kind se droë lippies nie.  Die klein mannetjie was duidelik nie alleen nie.  Van die afstand wat ek gekyk het, kon hy seker ‘n kleurling gewees het.  Iedergeval, hy was saam met sy pa.  Hulle het seker ‘n draai gaan loop sodat die ma in vrede haar besigheid kan doen.

Dit is toe die ouer boetie en die ander pa met ‘n stootwaentjie aangesukkel kom.  Duidelik ‘n twee pappa gesin wat in ‘n stil hoekie gaan parkeer het voordat hulle deel van die malhuis word.  In bestrek van 2 minute het die afgedwaalde kind met ‘n half agterlosige ma, eers die kind van ‘n gemengde verhouding en toe die aanneemkind van ‘n homoseksuele paartjie geword.  Alles natuurlik van ‘n afstand beskou.  Vir al wat ek weet, kon dit twee boeties wees wat die huishoudster se kinders vir ‘n uitstappie geneem het.  Tensy ek al die feite uit die perd se bek gehaal het, raai ek net.

Daar word deesdae gefrons as iemand aan ‘n gesin dink as ‘n ma, pa, boetie en sussie.  Daar is soveel variasies op die gesin tema, dat die aanname op die minste ooreenvoudig is.  Hoewel, daar is NIKS met daardie spesifieke prentjie verkeerd nie.

Is daar vandag nog plek vir normaal of standaard? Wanneer word normaal of standaard ‘n steen des aanstoots?  Wat is die eintlike definisie van ‘n gesin?

Breinvasbrand:  In Modern Family, wie is Cam en Mitchell se kind?

Breinlosbrand:  Olga was reg met South African National Roads Agency Limited.

 





Poep vs Donderweer

16 07 2014

As daar ‘n treffer sanik parade was, was E-tol (SANRAL) een van die voorlopers gewees vir die hoogste posisie.  Dit sal nogal ‘n strawwe kompetisie wees om te wen.  Daar is immers altyd ESKOM, die ANC en Zuma met wie daar gewedywer moet word.  Om nou nie van ander hansworse of krisisse te praat nie.

Hoe dit ook al sê:  E-tol is ‘n doring in almal se vlees.  Ek is seker nie eers SANRAL werknemers wil dit betaal nie.  Nogtans is diegene in beheer vasbeslote om dit deur te druk.  Benewens die E-tag inspeksies daagliks op ‘n oprit of 3 op die N1, word daar nou glo ernstig gekyk hoe mense vervolg gaan word.  Net so vasbeslote is die groepe wat daarteen protesteer.  Hulle sal baklei tot die laaste sent.  Helaas het hulle nie soos SANRAL belastingkoffers wat hulle gevegte kan befonds nie.

(Eintlik half ironies as ‘n mens daaroor dink.  Belastingbetalers beveg ‘n organisasie wat hulle befonds.  Ironies se voet.  Dit is tragies.)

Persoonlik dink ek die skrif is teen die muur.  E-tol het gekom om te bly.  Gauteng is maar net die begin.  Al is daar nog 300 hofsake, as die regering geld wil hê, sal hulle die geld vat.  Die Gautengse premier het onlangs belowe om weer na E-tol te kyk.  Ek het ‘n vermoede dat hy net gaan kyk, maar absoluut niks daaroor sal kan/wil doen nie.

Wanneer is dit dan tyd om handdoek in te gooi?  Persoonlik het ek al ‘n rekening wat oor ‘n R1000 is.  Ek verstaan dit is min in vergelyking met die rekeninge wat ander mense het.  Ek staan nog sterk; juis omdat ek weet die waarde van ‘n protesaksie is in die hoeveelheid protesteerders.  Nogtans gaan die storie een of ander tyd tot ‘n punt gedryf word.

SANRAL kan dalk nie ‘n paar miljoen mense hof toe sleep nie.  Hulle kan dalk besluit om valhekke by op- en/of afritte aan te bring.  Dit is verseker die laaste ding wat enige regdenkende mens wil hê.  Hoewel, as hulle na die stap oorgaan, wie kan blameer word?

Anders kan SANRAL dalk die SAUK pad stap.  Hoe lank dreig die SAUK nie al oor inspeksies en regaksies vir mense wat nie hulle TV lisensies betaal nie?  Nogtans is daar net ‘n handvol sotte wat dit betaal.  Dit is seker maar die prys daarvan om sotlik te wees, maar dit is nie juis regverdig teenoor die sotte nie.  Sal dit E-tol se voorland wees?

Geen mens weet nie.  Wat wel ‘n feit soos ‘n perd is, is dat wanneer jy in die wind in piepie, gaan jy piepie in jou gesig kry.  Die vraag is nou wie piepie teen die wind?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan SANRAL?

Breinlosbrand:  Die Skotte of die Jode.





Spaar jou sente

14 07 2014

Sover as wat my kennis strek, is die boom waaraan geld groei nog nie ontdek nie.  Salarisse groei minimaal jaarliks.  Tussen die petrolprysverhogings, inflasie, ESKOM en die vervlakste tol, is ‘n verhoging net meer rede om jouself by ‘n swart put af te gooi.  Dan praat ons nie eers oor stakings wat jou dalk maande lank van ‘n inkomste kan beroof nie.

Punt is dat ‘n mens maar moet bespaar waar jy kan.  Daar is goed wat noodsaaklik is, goed wat volgens jou noodsaaklik is en luukses.  ‘n Mens moet maar fyn na jou definisie van noodsaaklik kyk en nodige aanpassings maak.  Dit is bloot die verantwoordelike ding om te doen.  Anders moet jy maar kreatief raak.  Of slim.  Of ‘n kombinasie van die twee.

Daar kan byvoorbeeld geredeneer word dat ‘n gim lidmaatskap ‘n luukse is.  Aftrede is ‘n luukse wat min kan bekostig, dus is ‘n kort lewensverwagting dalk eerder ‘n voordeel as ‘n nadeel.  Aan die ander kant, saam met jou gimkontrak kry jy gratis wifi, gratis rekenaar toegang en toegang tot die meeste Supersport kanale as dit jou ding is.  Jy spaar dus op internet gebruik en sateliet televisie.  Boonop kan jy by die gim stort.  Behalwe dat jy elektrisiteit en water spaar, spaar jy ook jou ore van ESKOM se gesanik.

Ek weet van mense wat al hulle toestelle by die werk gaan herlaai.  Werksvoordele kan seker verder gerek word.  Hoekom enigsins soggens by die huis koffie maak?  Jy kan verder elektrisiteit spaar om dit by die werk te doen.  Verder kan jy toiletpapier bespaar om al jou toiletbesoeke tot kantoor ure te beperk.

Die vraag kan seker gevra word of ‘n mens dan enigsins ‘n huis (met meubels, sekuriteit ens) benodig.  Dalk kan jy sommer in jou kar bly.  Dink net hoe bly jy ESKOM gaan maak.  Jou kar het dan ook ‘n dubbel doel en kan dan as ‘n uitgawe regverdig word.  As jy sommer by die werk (of gim) parkeer, gaan jy minimum petrol gebruik.  As jy 24 uur kan uithou, kan jy in elk geval nie van die perseel afgeskop word nie.  Trek aan die begin van ‘n langnaweek in.

In die somer (vir die Vaalpense) kan jy jou vuil klere in die reën hang en in die winter moet jy net seker maak jy stink nie.

Siende dat alles jou vet maak of gruwelik ongesond is, moet ‘n mens dan seker nie eet nie.  As jy nou opsluit daar die lyn wil trek, is dit seker ‘n goeie tyd om iewers ‘n tuin te begin of om jag as ‘n stokperdjie op te neem.  Jag met ‘n pyl en boog.  Jy kort geld vir ‘n geweer met of sonder ‘n lisensie.

Watter “af” metodes het jy om geld te spaar?

Breinvasbrand:  Watter nasionaliteit is bekend daarvoor om suinig te wees?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Clementine





Hoe cool is dit??

9 07 2014

Siende dat julle almal weet dat ek 12 is, hoef ek seker nie voorbrand te maak nie.  Wanneer ek van ‘n boek, fliek, storie, watookal hou, hou ek obsessief baie daarvan.  Tot die punt dat ek ‘n PhD tesis daaroor sal kan skryf – verwysings en al – sonder om iets te gaan naslaan.  Seker nou nie heeltemal normaal nie, maar dit is hoe ek aanmekaar gesit is.

Ek moet erken ek was redelik langtand om enigsins Risolian Isles te kyk.  Nie ‘n besonderse groot voorliefde vir eilande nie.  Ek was gou in gelig dat dit ‘n misdaad / forensiese storie is.  Weereens, nie een van my voorkeur genres nie.  Ek het wel verplig gevoel om dit te begin kyk, in ‘n tyd wat ek saans laat by die huis gewerk het en agtergrond geraas gesoek het.  Ek was heelwat meer geinteresseerd toe ek agterkom dat Rizzoli & Isles vroulike gatskop karakters is (dus mense met wie ek kan identifiseer), maar ek het eers teen die einde van die eerste seisoen geinteresseerd genoeg geraak om dit te gaan navors.

Dit is nou ‘n helse lang draai om te verduidelik hoe ek my skielik daagliks op Twitter bevind het.  Die hoofkarakters het almal Twitter profiele gehad wat redelik aktief was.  Dit was vermaaklik en dus het ek hulle begin volg.  Natuurlik weet ‘n mens dat dit net karakters is en ‘n mens neem aan dat dit iemand wat aan die reeks werk is wat die eintlike tikwerk doen.  Die skeppers en akteurs het ook die profiele gevolg.  Hoewel, wie ookal dit doen, het gatvol geraak en nou kom dit uit hoe die storie eintlik aanmekaar steek. 

Die profiele is deur ‘n aanhanger begin.  Sy het binne inligting gehad en toe daarmee rondgespeel.  Sy was so suksesvol gewees dat die mense in beheer haar basies geakkrediteer het.  So kon sy die stel besoek, vooraf episode inligting kry (sodat sy weet wat gaan aan) en almal met die hand groet wat sy met die hand wou groet.  Alles net sodat sy haarself en die 35 000 mense wat kies om haar te volg kan vermaak.  Persoonlik, is ek nogal beindruk.  Al was ek nou nie juis uniek toe ek ‘n sekere heks begin namaak het nie (hoewel, my heks was lank voor @JaneRizzoli daar).

Seker een van die voordele van die internet.  Dit wys darem dat jy nie die enigste weirdo is nie.  Soms is daar mense wat weird skoon normaal laat klink.

Kom ons maak die skrywe ‘n bietjie prettig.  As jy ‘n kontrak kon kry om enige karakter ‘n stem te kan gee, watter karakter sal jy wil verteenwoordig?

Breinvasbrand:  Wat is Jane Rizzoli se middelnaam?

Breinlosbrand:  Olga en Klip was reg met Bruxisme





Tande uitskop

3 07 2014

Ek het eendag iewers gelees dat dit nie die aggressiewe-storm-vir-alles-mense is wat moord pleeg nie.  Dit is gewoonlik die sagmoediges wat se geduld ophou en dan snap.  Ek is nou nie seker of dit ‘n geval is van blaffende honde of stille waters nie.  Al wat ek weet is dat daar dae is wat ek graag iemand se tande sal wil uitskop.  Verkieslik moet die tande die pad af hop en ‘n bloedstreep saam sleep.  Sal dalk nie my frustrasie oplos nie, maar ek sal dan ten minste lekker kry.

Ek vermoed die heelal wil ook graag sien hoe ‘n irritasie se tande uitgeskop word.  Die frustrasies kom altyd in groot getalle.  Skielik sien ek ‘n ooreenkoms met al wat ‘n vakbond is.  Hulle moet altyd in massas wegkruip en onskuld pleit.  Sal ook nie omgee om ‘n paar onnodige stakers van hulle tande te verlos nie.  Maar ek dwaal af.

Dit is om te gaan inkopies doen in ‘n leë winkel.  Orals sit daar kassiere verveeld rond.  Dan sal die kassier waar jy betaal jou vertel om jou eie inkopies te pak.  Ek kan verstaan as die hande min is en daar is massas kliente.  Maar regtig?  Veral is dit by ‘n winkel is waar ek al my inkopies doen en waar hulle gewoonlik nie huiwer om my goed vir my te pak nie.

Ek wonder altyd hoekom word jy altyd as ‘n klient opgehemel as jy 300 uur moet wag om deur geskakel te word.  Ek soek nie my gat gelek nie, so antwoord net die dêm foon.  Ek sal dan nie onbelangrik voel nie.  Ek kan skree as ek vir 20 minute moet aanhou en na die mees irriterendste musiek nog te luister – net om te hoor dat die konsultant ook nie weet nie.  Grrr!

Dit laat my weer dink aan ‘n trotse Afrikaanse instelling wat ek nou die dag moet bel.  Ek was eers baie beindruk.  Hulle verseker my dat my tyd kosbaar is en dat ek my nommer moet los sodat hulle my kan terug skakel.  Helaas, dit is al 3 weke later, maar ek het nada van hulle gehoor.

Ek haat dit om skoene te koop.  Deesdae het winkels seker nie meer stoorkamers nie.  Alles word op die vloer uitgegooi.  Ek kan die piep kry as ek klient 34o08 vir die dag is en almal wat voor my daar was het al wat ‘n boks is oopgegooi en deurmekaar gepak.  Ek het simpatie met die 34007 wat voor my daar was.  In ‘n bondel kan ‘n mens net soveel doen.  Ek herinner my toe ek klein was, was daar een skoen van ‘n soort uitgepak.  Jy het na daardie skoen gewys en dan het die tannie vir jou die regte grote gaan haal.  Hoekom kan dit nie meer gedoen word nie.

Nou is ek weer van vooraf lus om iemand te laat soek vir vals tande.  Wat kan jou iemand se tande laat uitskop?

Breinvasbrand:  Wat is die mediese term as jy op jou tande kners terwyl jy slaap?

Breinlosbrand:  As Olga met die “tarragoppie met die Vaseline kop” na Julius Malema verwys het, was sy reg.