Jou Facebook Bakkies

10 04 2014

Ek is op my beste ‘n Facebook sluiper. Laat ek begin om te verduidelik wat ‘n sluiper is. In die koshuis het ons altyd die meisies wat jy nêrens sien behalwe soms in die gang sluipers genoem. Jy hoor en sien hulle nooit nie omdat hulle in die gange rond sluip.

Soos ‘n tipiese sluiper word ek selde op Facebook gewaar. My lewe is hopeloos te vervelig om dit in ander se kele af te druk. Siende dat ek wel in my “friends” belangstel, loer ek gewoonlik wat hulle die moeite werd vind om te deel. Ek wil nou nie per ongeluk die verjaarsdag, verlowing, doop of egskeiding van ‘n terloopse kennis mis nie.

Dit is so dat die meeste nuwe verhoudings op Facebook aangekondig word. Ek doen gewoonlik my sluiperding en gaan loer hoe die nuwe liefde daar uitsien. As potensiële werknemers Facebook gebruik om die koring van die kaf te skei, is dit seker nie so verregaande om iemand se profiel te gebruik as die baadjie waarop hulle getrakteer word nie. Spesifiek, wonder ek dikwels oor die foto wat hulle kies om hulle self mee te verteenwoordig.

Is ‘n foto maar net ‘n foto, of sê dit iets?

Ek is natuurlik geen sielkundige nie. Ek sien natuurlik altyd rooi ligte as ‘n man ‘n foto van homself plaas waar hy tot by sy tande bewapen is en ‘n dreigende houding aanneem. Ek sien iemand wat trots is op sy aggressie en nie sal huiwer om na geweld oor te gaan nie. Ek sal nie verbaas wees as so iemand van sy vrou ‘n slaansak maak nie.

Ek wonder ook oor iemand wat ‘n dronk foto van hulleself sal plaas. Onthou, ek verwys spesifiek na die foto’s wat mense kies om hulle profiel aan te koppel. Is hulle trots daarop om dronk te wees? Is dit ‘n prestasie? Dalk is dit net hulle doelwit in die lewe?

Ek kan verstaan dat mense gereeld hulle bakkies verander as hulle opwindende plekke besoek het of gereeld iets werd-om-genoem-te-word gedoen het.  Ek kan verstaan net nie die honderd en tien selfies wat hulle op ‘n dag kan op sit nie.  Vis hulle vir komplimente of dink hulle net hulle is besonders aantreklik?  Voel hulle binne ‘n paar minute soveel ouer dat hulle nodig het om hulle profile aan te pas?

Kan iemand vir my lig werp?  Wonder julle ook oor wat iemand se bakkies oor hulle sê?  My ma het ‘n gesegde van iemand het ‘n gesig soos ‘n bicycle.  Dit smeek om getrap te word.  Is dit waar vir profiel foto’s?

Breinvasbrand:  Olga was reg met Gugile Nkwinti.

Breinlosbrand:  Watter land was eerste om foto’s (mugshots) van gevangenes te neem in 1843 / 1844?