Baddag

9 11 2013

Ek eksperimenteer so ‘n bietjie.  Laat weet my of ek hiermee moet voortgaan en of ek dit eerder vir die toekomstige herrievulletjies moet hou.  Ongelukkig het ek nie op die oomblik geskikte foto’s hiervoor nie.  Sal ‘n plan maak. 

Lispiek is nie ‘n kat wat van laat slaap hou nie.  As die son uitkom, is sy reg om buitekant te gaan speel.  Dit is nie lekker om alleen te gaan speel nie en dus moet sy eers wag vir Laviga om wakker te word.  Laviga aan die anderkant word nie wakker voordat daar kos te sprake is nie.  Wel, gewoonlik nie, maar Lispiek gaan nie so maklik opgee nie.

Sy rek haarself lang uit en spring dan van haar bed op Laviga se bed.  Sy gaan byt Laviga se tone, maar Laviga trek haar voete diep onder die kombers in.  Lispiek krap haar kop, maar voordat sy aan ‘n nuwe plan kan dink, roep ouma hulle vir ontbyt.  Laviga het nie ‘n uitnodiging nodig nie.  Lispiek ook nie en hulle kom altwee gelyk in die kombuis om hulle pap te eet.

Na ontbyt sê ouma dat Laviga moet gaan bad.  Lispiek is nie ‘n vuil kat nie.  Terwyl sy op die bad se rand sit om toe te sien dat Laviga skoon was, was sy haarself.  Eers lek sy haar pootjie nat en vee haar gesiggie skoon.  Toe haar gesiggie skoon is, was sy agter haar ore en miaau dat Laviga dieselfde moet doen.  Hulle bad tot Laviga die prop uittrek.  Lispiek vertel vir Laviga om gou te maak en hol solank om buite vir haar te gaan wag.

Ouma het egter ander planne.  Sy tel vir Lispiek op voordat Lispiek by die deur kan uitgaan.  Lispiek weet hier kom moeilikheid en sy klou aan Ouma vas.  Laviga het skoon water ingetap en ouma sit vir Lispiek in die water.  “Miaau!” kla Lispiek.

“Toemaar.” troos Laviga.  “Ouma sal jou gou-gou bad.”

“Maar ek het myself alklaar gebad.” miaau Lispiek.

Soos alle hekse, kan Ouma ook verstaan as diere praat.  “Jy het, Liefie, maar soms moet jy ‘n regte bad ook kry.”

“Dit is g’n niks lekker nie.” kla Lispiek.

“Ek hou van bad.” sê Laviga.  “Dit is hoekom ek die mooiste heks is.”

Lispiek rol haar oë.  Sy moet nog ‘n mooi heks teëkom.  Ouma en Laviga bad haar dat die skuimbolle staan.  Daarna moet sy twee keer afgespoel word om seker te maak dat al die seep uit is.  Asof dinge nie erg genoeg is, moet sy drooggeblaas word.  Elke keer wat sy weg wil hardloop, vang Laviga haar en bring haar terug na ouma.

Lispiek het vas besluit dat sy gaan wegloop wanneer hulle klaar is.  Sy het haarself mos gebad.  Buitendien het sy better gebad as Laviga en Ouma het Laviga nie van vooraf gebad nie.  Niemand wil vir Lispiek luister nie en sy gluur hulle net aan.  Voordat sy wegloop gaan sy hulle ore byt as hulle slaap.

Uiteindelik is Ouma klaar.  “Laviga, jy het nie jou tande geborsel nie.” raas sy terwyl sy ‘n pienk strikkie in Lispiek se hare sit.  Laviga wil eers stry, maar sy wil nie in die hoekie staan nie.  Ouma tel vir Lispiek op en sit haar voor ‘n spieël neer.

“Kyk nou hoe lyk die mooiste kat.”

Lispiek draai dikbek na die spieël.  En daar is die mooiste kat in die wêreld.  Die bad en droogblaas het haar donsig soos ‘n droom gemaak.  Dalk is bad nie so sleg nie.  Lispiek hou baie van wat sy in die spieël sien.

“Nou het die mooiste heks die mooiste kat.” lag Laviga.


Aksies

Information

7 responses

11 11 2013
Olga

Hier het ek nou my rug gedraai. Net vir ‘n lang naweek met my liefies en wat gebeur? Jy post weer. Ek het gedink daar sal eers weer Desember ‘n nuwe post wees.

11 11 2013
Olga

Weet jy wat???? Ek was tog EERSTE!

11 11 2013
Olga

Ek hou hiervan.

12 11 2013
Toortsie

O? So Laviga leef tog nog steeds? Of het sy net ekstra lui geraak? Wat is haar storie?

12 11 2013
Olga

Ek dink Laviga het ‘n kerel ontmoet.

20 11 2013
musiek uitdaging | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

[…] Ns. Seegogga! Wat maak jy met die onderwerp “Musiek”? En Xena? […]

23 11 2013
seegogga

ek mis ook daai heks

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: