Plaas Illusie

28 10 2013

Ek het al my brood en botter in landbou gemaak.  Ek is geen kenner van boerdery nie, maar ek besef een ding baie goed.  Boerdery is nie ‘n beroep vir elke Jan, Pieter of Schalk op straat nie.  Selfs al sou Jan, Pieter en Schalk ‘n plaas kan koop of erf, maak dit nie van hulle suksesvolle boere nie.

‘n Eenvoudige antwoord op ‘n eenvoudige som.  As jy nie weet hoe om te boer nie, moet jy maar eerder terugstaan vir ander wat van beter weet.  Dit is ‘n mengsel van wetenskap, biologie, rekeningkunde, meganika, bestuursvernuf en ‘n vet skoot geluk.  Let wel:  ‘n Vet skoot geluk is nie al wat jou gaan help nie.  Sonder die ander is dit maar ‘n vermorsing van grond, tyd en geld.

Dit val my deesdae op hoeveel Jan, Pieter en Schalks daar is wat wil gaan boer.  Mense wat hulle lewe lank in die dorp gewoon het en beroepe buite landbou gevolg het.  Hulle lewe en spaargeld is daaraan gewy om eendag ‘n plaas te koop.  Waarop hy (soms sy) beplan om te leef met wat hulle uit die aarde uithaal.

Ek gun elke diertjie sy plesiertjie, maar ek wonder tog waar kom die fasinasie om te boer vandaan.

Gaan dit oor klas?  Van kleinsaf as jy Afrikaans sprekend is, word dit aan jou voorgehou dat boere edele mense is.  Hulle voer die land.  In baie van die ouer Afrikaanse flieks en boeke, word boere as die room van die samelewing gesien.  Daar word ook nie juis doekies omgedraai oor mense se afkeur aan bybewoners nie.  Dit was op ‘n stadium heeltemal aanvaarbaar om op bybewoners neer te sien.

Daar is ook ‘n persepsie dat boere ryk is.  Fondse wat oor geslagte opgebou is en net met elke geslag vermeerder word.  Ek wonder of mense besef dat daar ‘n aansienlike insetkoste is vir elke projek.  Jy het dan ‘n sekere opbrengs nodig om die insetkoste te regverdig.  Die opbrengs se sukses is in Moeder Natuur se hande.  Jy kan haar dalk ‘n bietjie manipuleer, maar as sy haar voet neersit dan weet jy presies wat jou plek is.

Ek dink baie mense glo ook dat boere net heeldag op die stoep sit en koffie drink.  Dinge gaan sy natuurlike gang op die plaas en al wat jy af en toe moet doen is om iemand mark toe te stuur.  Verkieslik iemand eerlik wat jou nie sal probeer indoen nie.

Helaas werk dinge nie so nie.  Boere is nie almal edel nie, boere is nie almal ryk nie en geld groei nie aan bome nie (oops, ek bedoel dit is harde werk om te boer).

Sal Jan, Pieter en Schalk nog steeds wil boer as hulle dit besef?    Dit is dalk waar die antwoord lê:  Spel vir alle voornemende boere uit presies wat boerdery behels.  Maak seker dat hulle verstaan.  Sou hulle nog die mal perd wil opsaal, het hulle miskien die passie wat benodig word.

Sal jy graag ‘n boer wil wees?  Watter loopbaan sal jy graag na aftrede van jou regte werk wil volg?

Breinvasbrand:  Met watter reeks word die plaas Southfork verbind?

Breinlosbrand: Satï word deur die Hindoes beoefen.  Olga was reg dat die ontstaan van Indië afkom.


Aksies

Information

8 responses

28 10 2013
The Rider

Breinvasbrand: Dallas

28 10 2013
Korrelkop Kahuna

Ek sal nogal seer graag wou boer, maar ‘n man loop word nie ‘n boer nie. Jy word ‘n boer gebore en grootgemaak in die boerdery. As troosprys wil ek graag eendag as ek groot is sulke foto’s kan neem. Jou eie?

28 10 2013
Xena Phoenix

Ai Korrel, van Google gesteel. As ek darem sulke foto’s geneem het, het ek die wEreld deurkruis om dit met my kamera te verander.

28 10 2013
Olga

Ek het geen begeerte om te boer nie. Sover ek kan onthou, behels dit meestal “hands on” harde werk. Sou a lady of leisure wou wees.

29 10 2013
Sonlig

Ek dink ek sou kon boer. Dis nie vreeslik verskillend van wat ek nou doen nie.

Dis harde werk, daar moet prosesse in plek wees, die roumateriaal moet goeie kwaliteit wees om goeie eindprodukte te verseker, jou masjienerie moet reg werk en gereeld nagesien word, jy moet jou werkers reg leer en mooi oppas en jou moet ‘n oog oor elke area hou en probleme aanspreek soos wat dit opduik, trouens, “Kwaliteit” is die wagwoord.

Ek dink dit moet baie bevredigend wees om te boer, maar mens moet aanvaar dat daar ‘n baie groot faktor betrokke is waaroor jy nie beheer het nie – die natuur! Droogtes, siektes ens. het al menige boer geknak en as jy dan nie reserwe kapitaal het om op terug te val nie – is jy onderdeur.

Die hoofrede hoekom en NIE sal gaan boer nie, is nie die harde werk nie, maar die huidige politieke situasie in ons land. Grondeise! Dis hartverskeurend om te hoor hoe plase en grond wat vir generasies aan families behoort het sommer net “up for grabs” is om deurgetrek te word deur mense wat presies soos jy hier beskryf ‘n wanbegrip van ‘n boerdery het.

29 10 2013
Toortsie

Ek kan nie boer nie. Gelukkig kan my man.
‘n Tannie het jare gelede een dag so sit en kerm oor haar seun wat so swaar kry. Hy doen een of ander werk, werk so van 9 tot 4…
Toe sê ek vir haar: “Tannie, as Okkie net die HELFTE van die ure werk wat my man werk, sal hy ‘n uitstekende bestaan voer. ” Net die HELFTE is genoeg. Want ja, boere werk baie lang en baie harde ure. En ja, boere werk SAAM MET HULLE WERKERS.
Dankie Xena

4 11 2013
Klip

Ek boer voor die TV

5 11 2013
Son

Dit sou wondelrik gewees het om te kon boer, maar ek hou nie daarvan om iets te doen waaroor ek eintlik GEEN beheer het nie. En die mens is nie die natuur se baas nie. So ek haal my hoed af vir alle boere wat so hard werk om kos in ons monde te sit. Dis nie speletjies om ‘n boer te wees nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: