Skies, Amerika

17 04 2013

Explosion-at-Boston-marat-011

Kom ons stel dit so:  Ek het nie juis op en af gespring toe ek die dag gehoor het ek moet Amerika toe gaan nie.  In die proses om myself daar te kry, het ek basies gewissel tussen oë rol en oë opslaan na bo.  Die prosesse het vir my gewissel van absoluut belaglik tot heeltemal oorbrood.  Ek dink enige iemand wat 11 September 2001 gesien het, het simpatie met hulle geveg teen terrorisme.  My simpatie het egter spoedig min geraak met van hulle maatreëls.

Tot my verdediging, ek kan regtig nie sien hoe ‘n terroris op ‘n Visa aansoekvorm sal erken dat hulle ‘n terroris is nie.  Ek dink ook nie jou gemiddelde booswig is eerlik genoeg om te erken dat hulle terreur en trauma in Amerika sal gaan saai nie.  Goed, die vrae het my geamuseer.  Toe ek egter fisies deursoek word voordat ek op die vliegtuig kon klim, het ek nie meer gedink dit is snaaks nie.  Al het ek geweet almal wat gaan vlieg deursoek gaan word.  Ek het selfs geweet ek word as ‘n formaliteit deursoek.  As hulle regtig gedink het ek het iets sou hulle beslis hoër as my knieë gevoel het.  Daar sou ook nie een verskuilde hoekie in my bra gewees het nie.

Nodeloos om te sê, ek het dit nogal sterk oorweeg om net daar om te draai en terug deur paspoort beheer te beweeg.  As ek in my eie land al as ‘n terroris behandel word, wat nog as ek my voete op hulle grond sit.  Ek het op die spesifieke oomblik regtig simpatie gehad met enige iemand wat lyk asof hulle ‘n Arabiese oorsprong het.

Ek moet egter erken dat ek met my aankoms aangenaam deur die Yanks verras is.  Hulle was vriendelik, professioneel en het my beslis nie soos ‘n terroris behandel nie.  Nogtans was dit duidelik dat hulle veiligheid en sekuriteit voorop stel.  So moes my rugsak deursoek word voor ek by ‘n museum kon ingaan.  By die stasies was daar weer elke paar minute dat enige verdagte mense of goed dadelik aangemeld moet word.  Dit raak nogal na die eerste 10 minute irriterend.  Daar is tog orals heelwat polisie en/of sekuriteit beamptes wat ‘n oog kan hou.

Ek het gedink dit ruk darem nou regtig die dam onder die eend uit om Wall Street letterlik van karre af te sper.  Boonop, sou jy by die effekte beurs (onder andere) wou ingaan, gaan jy deursoek word.  Die stories rondom Ground Zero het die gebeure wat ek in 2001 op die TV gesien het, meer werklik gemaak.  Nogtans is daar ‘n lyn tussen veiligheidsbewus en paranoies.

So voltooi mens jou besoek terwyl jy so effens in jou mou lag.  Net om een oggend wakker te word dat een of ander sot onskuldige mense gaan vermink het by die Boston Marathon.  Skielik lyk al Amerika se maatreëls yl, skiet dit ver te kort en is daar geen lus om te lag nie.

Die twee stoompotte vol spykers en ysterballetjies het iemand se manier geword om ‘n punt te bewys.  Dit is niks persoonlik teen die drie mense wat dood, verskeie wat vermink is of die 176 mense wat beseer is nie.  Hulle was net die pionne in een of ander siek brein se magspel.  Ek weet nie of daar ooit enige regverdiging daarvoor kan wees nie.

Die Amerikaners is besig om nog ‘n hoër toring te bou waar die Twin Towers voorheen gestaan het.  Dit is ‘n monument dat hulle nie die gevangenes van vrees is nie.  Bewonderenswaardig!  Tog is daar ‘n groot gesukkel om die toring te verhuur / verkoop.

Nou is elke samekoms ‘n potensiële bomaanval.  Kan dit nog paranoia genoem word?  Is dit ‘n manier om jou lewe te lei? Is dit ‘n geval van lewe omdat jy nie dood is nie?

Tog onthou ek in my agterkop “Aandag alle onderwysers.”  Kode vir duik onder julle stoele in en beskerm julle koppe teen ‘n moontlike terroriste aanval.  Ek onthou die plakkaat van bomme wat in elke klaskamer was, die vermaninge dat as ons enige van die ploftoestelle sien, ons dit dadelik aan ‘n onderwyser moet aanmeld.

Dit klink verskriklik, maar ek kan nie onthou dat ons daagliks van vrees gebewe het nie.  Dalk ook net omdat ons te jonk was om die erns van die situasie te besef.

Mens kan seker nie meer doen as om die Boston slagoffers in jou gebede te onthou nie.  En om elke dag opreg te bid dat een of ander psyco nie (weer) dieselfde plan vir Suid-Afrika het nie.


Aksies

Information

4 responses

17 04 2013
Olga

EERSTE!!!!!!

17 04 2013
Olga

Hoe het die malmens deur die sekuriteit gekom? As hulle na dese niemand toelaat om enige byeenkoms met ‘n pakkaas binne te gaan nie, sal ek hulle beslis nie verkwalik nie.

18 04 2013
Toortsie

Ek reageer nou op jou herinneringe van toe jy nog op skool was. Dis mos maar wat ouers en onderwysers doen. Ons leer ons kinders om paraat te wees, sonder om bevrees te wees. Ek glo dit sou so aan jou oorgedra gewees het dat jy nie in angs en bewing hoef te leef nie, maar net die bewustheid dat jou oë OOP moet wees. Ja, dis jammer dat daar soveel mal mense toegelaat word om hulle ding te doen.

18 04 2013
Skoor

Even in jou huis is dit nie veilig nie. So travel sussie, reis jou gat af. Jou tyd is jou tyd. Wat jy op jou lewensblad griffel tot dan, DIS wat mense van jou gaan onthou!

Mal moere soos die terroriste sux. Wens hulle wil in hulle alaballas in vlieg.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: