FU oomblikke

3 02 2013

Daar is sekere goed wat dood eenvoudig internasionaal is.  Ek dink nou byvoorbeeld aan STOP.  So ver my kennis strek is STOP stop in die meeste Westerse lande.  Met goeie rede ook.  Gewoonlik wanneer iemand dit skree is daar ‘n wesenlike gevaar.  Dit is dan nie die oomblik om in ‘n toeriste woordeboek vir ‘n verklaring te soek nie.  Jy kan dan nie agterna sê jy het nie geweet nie.

Vandag wil ek eintlik oor ‘n ander uitdrukking, aansienlik meer kras, praat.  Siende dat daar nie ‘n ouderdoms beperking op my blog is nie, sal ek maar by F U bly.  Almal weet wat die F woord is.   Nee, dit is nie fiets nie, maar mens is geneig om dit dikwels in konteks met ‘n arrogante fietsryer te gebruik.  Weereens ‘n woord wat redelik universieel is, ek het ‘n vermoede dat ‘n ruimtewese ook nie sal sukkel om dit mis te verstaan nie.  Dit is die kortste manier om ‘n boodskap hard en duidelik oor te dra.

Jy hoef nie eers die woorde te sê nie.  Ek meen my ma het my geleer dit is onbeskaaf om te skree.  Dit is boonop net goeie maniere om die dowes in gedagte te hou.  Hulle kan dalk dink jy beskinder hulle.  As iemand jou te nagekom het en hulle is bloot te ver om vir hulle te sis, kan jy enige een van verskeie tekens gebruik.  Een van die bekendste tekens is seker ‘n middel vinger, met jou palm na binne gedraai.  As die dominee dalk aanstoot gaan neem, kan jy dalk net vertel van die die skoolkamer.  Die juffrou staan in die middel en dan laat sy die kinders sit.

Al kan ‘n mens in Suid-Afrika die president die Californian Howdy of ‘n middelvinger saluut gee, is dit – wel, seker nie subtiel nie.  Ek is seker my tong of vinger sal afvrot as ek dit probeer.  Daar is natuurlik ander, meer gefynde maniere om die punt duidelik tuis te bring.  Op ‘n baie beskaafde manier, een wat elke mens moet erken en goedkeur.

Ek dink nou byvoorbeeld aan my gunsteling prostituut, Vivian.  Nadat sy met groot opgewondenheid Rodeo Drive binne gevaar het, het ‘n paar snobistiese tewe (jammer, winkelassistente) haar laat verstaan dat sy nie welkom is nie.  Sy het maar seergemaak ‘n lyn gesny.  Die volgende dag het sy geleer om ‘n kredietkaart te laat sing.  In ‘n meer verfynde uitrusting is sy toe terug na die winkel, waar daar skielik oor hulle voete geval is om haar te help.  Sy het eers seker gemaak dat hulle vir kommissie werk en haar van die vorige dag onthou.  “Big mistake!  Big!  Huge!”

FU dat hulle soos prostitute gevoel het wat boonop verniet gewerk het.

Wat is jou gunsteling FU oomblik?  Kan op die silwerdoek of in die regte lewe wees.  Vertel ons dat ons tone van lekker kry kan krul.

Breinvasbrand:  Wie was Vivian se woonstel maat in Pretty Woman?

Breinlosbrand:    Charlene was reg met First Rand Bank