Die meeste inspirasie wat ek al ooit gehad het om van bank te verander was ‘n tweet wat verlede week rond gevlieg het. As ek nou reg kan onthou was dit iets soos: “FNB has offended the ANC. What has your bank done for you.” Dit was eenvoudig net een van daardie toonkrul lekkerkry oomblikke. Daar is ‘n gesegde dat die waarheid seermaak. Daar is ook ‘n gesegde dat daar uit die mond van ‘n suigeling groot waarhede kom. Moet waar wees. Watter beter bewys is daar dat die jeug reken dat die regering uitgestem moet word om korrupsie en wanpraktyke stop te sit en die ANC neem aanstoot.
Gelukkig is ek effens in die lui kant. Kan julle dink as ek in die begin van die week met groot gejuig banke gewissel het om teen Saterdag weer stert tussen die bene terug te kruip? Ek sal nooit die smet van vernedering kan afwas nie. Teen Saterdag het ENB nie net die video’s verwyder nie, maar ook die ANC om verskoning gevra. Hulle het die harde les geleer dat dit een ding is om jou stem dik te maak en ‘n heel ander rede om dit dik te hou. Dit vat murg in jou pype om nou regtig die waarheid te praat. As murg dan min is, kies ‘n teiken wat nie ‘n mes teen jou keel het nie.
Blykbaar sou ENB ‘n miljard van die ANC se geld verloor het as die hulle besigheid onttrek het. Waar die ANC soveel geld gekry het, is ek nie seker nie, maar dit sluit seker al die ANC se gatgabbas se fondse in. Ek kan sien dat dit ‘n swaar slag vir enige instansie kan wees. Ek het ook fluisteringe gehoor dat dit was om die kinders wat die uitsprake gemaak het te beskerm. Blykbaar het die ANC geen probleem om ‘n jong kind te vernietig wat teen hulle is nie.
Die ANC het hulle stem dik gemaak. Jy is of vir die ANC of teen die ANC. Geen wonder die ANC se president kan vir besigheidleiers voorspoed belowe as hulle ANC lede is nie. Miljaarde rande moet van iewers af kom. Geld is nog steeds ‘n goeie kommoditeit om mag te koop. Duidelik het BBBEE iets gedoen om die ANC se posisie te versterk.
Maar ek wonder nou so liggies. Net omdat ENB op een of ander manier gedwing is om verskoning te vra, dink die ANC nou regtig dat die waarheid verdwyn het? Dit maak hulle nog lank nie ‘n party met integriteit nie. Geen wonder hulle is so bang vir vryheid van spraak nie.
Breinvasbrand: Wat is die beheermaatskappy van ENB?
Breinlosbrand: Charlene was reg met Kate Beckinsale en John Cusack
Wie runnik saam?