Vraatsigheid vs Varklikheid

16 01 2013

Daar was ‘n rukkie terug ‘n artikel in die Beeld gewees oor ‘n man wat bitterlik ontstoke was nadat Wimpy geweier het om vir hom nog ‘n glas “Bottomless” koeldrank na sy 7de een.  Aan die een kant verstaan ek sy grief.  Bottomless is veronderstel om ‘n putlose bron van drinkgoed te wees.  Tog weet ek nie of ek koerant toe sal hardloop en erken dat ek 7 groot glase koeldrank in ‘n uur en ‘n half gedrink het nie.  Ek meen regtig?  7?  Sonder dat sy blaas bars?  Blykbaar was dit nog niks, die man het ‘n uitdaging aanvaar en 26 glase koeldrank in 2 uur gedrink.  Die blote gedagte maak my sommer naar.

Dit is seker ‘n geval van elke diertjie het sy plesiertjie.  Volgens die man hou hy van uitdagings en probeer hy gereeld sy vorige rekords oortref.  Hy is blykbaar nie die enigste wat wil kyk waar die bodem van bottomless is nie.  Daar is ook blykbaar mense wat wil kyk of hulle die kombuis kan breek met “Eat all you can” aanbiedinge.  Blykbaar is dit vir party mense niks snaaks om 9 keer te gaan skep nie.  Skielik kyk my oë vanself oor mekaar.

Kom ons erken dit maar, baie mense ooreet hulle self waar daar ‘n buffet is.  Jy gaan beslis nie na ‘n “Eat all you can” ding om matigheid voor die oë te hou nie.  Die doel hier is kwantiteit en gewoonlik is kwaliteit nou nie van die hoogste belang nie.  Nogtans dink ek dat daar iewers ‘n perk moet wees.  Daar is ‘n streep waar ‘n vraat voordeel uit so ‘n aanbod kan trek.  Daarna raak dit varksigheid.

So waar begin vraatsigheid?  Is ‘n tweede bord net ‘n verwagde voordeel wat jy uit so ‘n aanbod kan trek?  Dit is immers iets wat in die meeste huise wel gebeur en aanvaarbaar is.  Maak die derde bord van jou ‘n vraat?  Is dit aanvaarbaar as ‘n gemiddelde mens meer as 4 borde eet net omdat hy / sy kan?  Wanneer tree varkerigheid in?  Wanneer raak dit ‘n selfmoordpoging deur middel van ooreeting?

Vreet ons oor die algemeen nie te veel nie?  Is dit regtig nodig om nog meer te gaan soek?

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Van watter land af het Wimpy ontstaan?

Breinlosbrand:  Olga was reg Nkandla.