Toespraak Skrywer

15 01 2013

Ek het eendag lank terug die staaltjie gehoor.

Daar was die minister (parlementslid of so iets) wat jare lank iemand gehad het wat sy toesprake vir hom geskryf het.  Mooi toesprake – die belangrike goed is reg oorgedra en daar was net genoeg humor in gewees.  Die minister het hom soveel vertrou, dat hy later nie eers meer die toesprake vooraf gelees het nie.  Hy sou die eerste bladsy in die kar lees, dan met elke applous of lag van die gehoor, die volgende bladsy.

Eendag het die toespraakskrywer genoeg gehad en wou bedank.  Dit was hier te lank en daar te kort, maar die toespraakskrywer het klaar besluit:  hy was klaar.  Die minister oortuig hom toe om nog een laaste toespraak te skryf.  Hy willig in en die minister is met die getikte toespraak weg na die geselligheid.  Soos altyd was dit ‘n pragtige toespraak tot waar die minister tydens ‘n applous na die tweede bladsy gekyk het.  Daar was net een sin:  “Nou is jy op jou eie, blikskottel!”

Deesdae, elke keer wat Zuma sy mond oopmaak dink ek aan die staaltjie.  Ek wonder wat de hel het van die president se toespraakskrywer geword.  Begin hy ook die tweede bladsy met “Nou is jy op jou eie” of is hy besig om ‘n wêreldrekord vir die langste staking na te jaag.  Elke liewe keer wat Zuma sy mond in die openbaar oopmaak, sê hy iets wat eerder ongesê moes word.  Daar is altyd ‘n debat daaroor na die tyd met ‘n verklaring van die presidensie en die ANC dat Zuma ALWEER verkeerd verstaan is.

Kyk, ek voel half kaal as my voet nie in my mond is nie.  Ek is ‘n tipiese voorbeeld van “fools rush in where angels fear to thread”.  Daar is egter ‘n baie belangrike onderskeid.  Ek is nie die land se president wat homself vir eenheid onder sy mense moet beywer nie.  Ek moet myself uitdaardie gat uit grou en nie nog mense moeite aandoen om ALWEER  te verduidelik dat ek verkeerd aangehaal is nie.

In minder as ‘n maand het Zuma besluit dat dit nie ‘n Afrika tradisie is om na jou troeteldiere te kyk nie.  Blykbaar is dit ‘n euwel wat saam met kolonialisme die land binnegeval het.  Die week word daar weer vure doodgeslaan dat ANC lidmaatskap nie ‘n maatskappy vooruitstrewend maak nie.  Altwee blykbaar metafore wat die Anti-Zuma groep glo te dom is om te verstaan.

Ek betwyfel egter of Zuma self weet wat ‘n metafoor is.  Dalk moet hy daarvan weerhou tot hy dit kan oordra sonder enige verwarring.  Dit is tog nou nie of hy een of ander letterkunde prys najaag nie.

Breinvasbrand:  Wat is Zuma se privaatwoning se naam?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Weskaap.