Wat dink Laviga??

29 11 2012

Hallo Maatjies :mrgreen:

Ekke het so effens gevergeet wat ek hierso dink.  😳  Weet julle dalk?  😈  Enige heksie kan soms iets gevergeet.  😥  Moenie lag nie.  😡

Tannie Damkrefie het my ook huiswerk gegee.  😆  Julle kan vir my enige iets vra en dan sal ek vir julle die waarheid prentjie.  🙄  Nie dat ek ‘n heks is wat jok nie.

Tata Maatjies





5 sekondes

29 11 2012

Almal het seker al van die  5 sekonde reël gehoor.  Party mense verwys na die 3 sekonde reël.  Dit is basies die aantal tyd waarin jy iets wat jy laat val het kan optel en weer eet.  Die teorie is dat kieme ‘n sekere aantal tyd nodig het voordat dit ‘n voorwerp bespring.  Die tyd is vasgestel op 5 sekondes.  So as jy jou broodjie laat val en binne 5 sekondes optel – van enige oppervlakte af – kan jy lustig verder eet sonder om oor kieme bekommerd te wees.

Dit is natuurlik op die heelbeste ‘n klomp snert.  Ons lewe nie in ‘n steriele omgewing nie en daar is kieme orals om ons.  Vloere, paaie en selfs jou lessenaar is vol kieme.  Die oomblik wat jou broodjie, lekker of self net jou hand daarmee kontak maak is dit vol kieme.  Daar is selfs kieme op die bordjie wat jy gebruik om te eet, hoewel – hopelik – aansienlik minder as op die teerpad.

Gelukkig maak elke kiem nie dood nie.  Elke kiem maak nie eers siek nie.  Die meeste is eintlik maar heel passief betreffende mense.  Baie mense sweer dood by die 5 sekonde reël en het niks daarvan oorgekom nie.  Dit is seker weer ‘n klassieke voorbeeld van wat ‘n mens nie weet nie, kan hulle nie seermaak nie.  As iemand getroos is om sy boereworsrol van die parkeerarea af op te tel en verder te eet, hoekom nie?  Solank sy ander kieme nie protesteer nie, maak dit seker nie saak nie.

Daar is natuurlik nog die gross faktor.  Die blote gedagte aan iets wat op ‘n sigbare vuil oppervlak geval het en dan geëet word, is genoeg om baie mense te laat vas.  Al was die 5 sekonde reël deur en deur bewys.  Daar is tog nie nut om te eet as jy jou dood daarvoor gril nie.

Dit is die twee kante van die munt.  Ek moet erken dat ek nie juis gepla is met kieme nie.  As dit nie uit-en-uit gross is nie, tel ek maklik op en eet verder.  Ek reken dit is deel van die rede dat omtrent nooit siek word nie.  Ek sal beslis nie elke keer wat my kind ‘n fopspeen laat val, hol om ‘n steriele een te kry nie.

Hoe voel julle daaroor?  Is julle bang vir kieme?  Of sien julle dit as ‘n verlore saak wat nie gewen kan word nie.

Breinvasbrand:  Waarvoor staan die E in E.coli?

Breinlosbrand:  Gerda was reg met Rizzo, Jan en Marty, maar sy het van Frenchie vergeet.





Laaste Nuus

27 11 2012

7 uur nuus is amper ‘n instelling.  So deel van ‘n mens se lewe as tandeborsel voor jy gaan slaap en piepie wanneer jy wakker word.  Iets wat gedoen word – outomaties en sonder om regtig daaroor te dink.  Dit is amper net.

Niemand beplan om die nuus te kyk nie.  As jy toevallig daardie tyd by die huis is, is die TV aan.  Indien nie – wel, daar is die internet, radio en koerante om seker te maak jy mis nie iets nie.  As daar iets is wat jou belangstelling prikkel, maak jy wel ‘n plan.  Nogtans was dit waarskynlik die internet, sosiale media, radio of ‘n koerant wat die saadjie geplant het.  Dit is nogtans ‘n kort termyn beplanning – ironies genoeg om iets te sien wat jy reeds weet.

26 November 2012 sal seker altyd die uitsondering bly.  Ek het sedert 2 November 2012 al beplan om die 19:00 Afrikaanse Nuus op SABC 2 te kyk.  Die laaste nuus uitsending wat Riaan Cruywagen aangebied het.  Ek moes self ‘n afspraak skuif om seker te maak ek is betyds voor die kassie.  Nuus met Oom Riaan is ‘n tradisie en ek sal van my kop af wees om die einde van ‘n instelling te mis.

 

 

 

 

 

 





Voluit Pienk

21 11 2012

 

Nou skuld ek Toortsie nog haar dare.  Ek moet skryf oor pienk.  Ek verbeel my amper dat ek iewers al oor pienk gepraat het, maar nou ja.  ‘n Dare is ‘n dare.

Persoonlik is my gunsteling kleur groen, maar ek het ‘n baie sagte plekkie vir pienk.  Van kleintyd af het ek van pienk gehou.  Soveel so, dat as die Osse toe ek melktande gehad het in pienk gespeel het, was ek seker vandag ‘n lojale aanhanger.  Gelukkig het hulle nie, dus kan ek met ‘n oop gemoed ‘n WP ondersteuner wees.  Maar ek dwaal af.  Waar ek ‘n keuse betreffende kleur het, vat ek altyd pienk as groen nie beskikbaar is nie.  Daar is egter tye wat die pienk harder as die groen roep en met gemak wen ook.

Pienk is nogal ‘n veelsydige kleur.  Aan die een kant is dit die kleur van onskuld.  ‘n Kleur wat sinoniem met klein dogtertjies is wat droom van feetjies en prinsesse.  Dit is aan die ander kant ook die ander kant die kleur van rebellie.  Dink byvoorbeeld aan die Pink Ladies van Grease of hoe Dirty Dancing se tema kleur pienk is.  Dit is ook ‘n kleur wat die gay gemeenskap verteenwoordig.  Dalk nie so seer omdat dit ‘n kleur is wat hulle self gekies het as wat dit aan hulle afgesmeer is nie.  Dit is die kleur van borskanker en enige iets vrouliks.  Dit is die kleur van bloeisels en nuwe lewe.  Dit is die kleur van mens wees.

Pienk is nie ‘n kleur wat iemand koud laat nie.  Dit is bloot te kontrasterend en wyd om in ‘n blik gedruk te word.  Mense haat dit, is mal daaroor of haat dit omdat hulle mal is daaroor.  Pienk kan troos, pienk kan uitdaag en pienk kan beledig.  Pienk is ‘n fasinerende kleur.

Pienk is die kleur wat klein dogtertjies veilig en geliefd laat voel.  Dieselfde pienk kan groot uitgegroeide mans laat hardloop vir skuiling.  Alles deur net pienk te wees.

Het ek genoem dat ek van pienk hou?  Hou jy van pienk?

Breinvasbrand:  In Grease, wie was die Pink Ladies?

Breinlosbrand:  Natasha was reg met Romeo Montague en Juliet Capulet.





Die Groot L woord

20 11 2012

Tannie Gypsie het my gedare om van die groot liefde in my lewe te vertel.

Dit is nie ‘n mooi storie nie, maar op sy beste maar ‘n bietjie vaag.  ‘n Storie van verbode gedagtes en skepe in die nag.  Een waar daar geen held of heldin is nie.  My groot liefde  . . .

Iets wat doodeenvoudig nog nooit gebeur het nie.  Ek is bevrees as ek die storie van my grootste liefde sal moet opdis, sal ek dit uit my duim uit moet suig.  Dit is bloot iets wat my ontwyk of miskien selfs iets wat ek nie sal erken as dit kaalvoet in die reën met my dans nie.

Ek gee toe dat daar al mans was wat voelers uitgesteek het.  Een was selfs dapper genoeg om my pa te wil bel om sy toestemming te vra om my die hof te maak.  Dit was in die dae van Mxit.  Ek het nie gedink dit was ‘n vreeslike oulike gebaar nie.  Siende dat hy my die hof wil maak, reken ek dat dit nogal ‘n goeie plek is om met my te begin.  Ons het ‘n paar jaar lank met mekaar gemxit en ons het mekaar selfs ontmoet.  Ek het egter nooit aan hom enige beloftes gemaak of enige verwagtinge geskep nie.  Ek het geweet dit gaan nooit iets verder as vriendskap – soos in doodonskuldige platoniese vriendskap – ontwikkel nie.

Dit was seker die naaste aan ‘n verhouding wat ek ooit was.  Die ou was bereid om volgens my reëls te speel en ons het pret gehad.  Oor die algemeen soek ek na my tekkies, grou loopgrawe en raak sommer ongeskik as ek agterkom ‘n man het planne.  Gewoonlik het ek nie planne in dieselfde rigting nie.  Ek sal nie daarvan hou om iemand se speelding te wees nie en ek maak nie van ander my speelding om my in die tussentyd te vermaak nie.

Daar was natuurlik ook ‘n paar ouens met wie ek nie sou omgee dat iets verder moet ontwikkel nie.  Ek sal nou nie sê dat ek verlief op hulle was nie.  Eerder dat hulle heel aanvaarbaar was en baie eienskappe gehad het wat ek noodsaaklik in ‘n toekomstige eggenoot ag.  Amper soos ‘n mens iets uit ‘n katelogus bestel.  Nogtans het ek nooit moeite gedoen om dit na te jaag nie.

Sinies soos ek oor trou is, is ek nie in beginsel teen trou nie.  Dit is net bloot iets wat nog nie met my gebeur het nie.  Ek kan myself nie regtig in die rol van ‘n liefdevolle vrou sien nie.  Ek dink ek sal van ‘n metgesel hou, maar die metgesel hoef nie noodwendig in my huis of bed te wees nie.  Ek soek nie iemand die heeltyd onder my voete nie en sal baie geirriteerd wees as ek daagliks verslag sal moet doen van my kom en gaan.

So waar laat dit my?  Seker maar ‘n gebore oujongnooi of is singleton die beter woord daarvoor?  Bloot net iemand wat die Cupido nooit getref het nie, maar dalk ook iemand wat ‘n natuurlike skild teen sy pyle het.

Breinvasbrand:  Wat was Romeo en Juliet se vanne?

Breinlosbrand:  Ek het eendag iewers gelees die direkte vertaling van Kyu is Seun.  Maar Olga is reg dat dit range aandui.





Karate Afrigting

19 11 2012

Ek hoor vanoggend op Eye Witness News dat een of ander Karate Sensei skuldig gaan pleit op verskeie aanklagte van Seksuele en Onsedelike aanranding.  Hy reken glo dat die die maklikste pad is om te volg, maar volstaan dat dit onmoontlik is om karate af te rig sonder om aan die studente te raak.

Vir ‘n verandering ‘n onderwerp waaroor ek persoonlike ondervinding het.  Ek was immers jare lank ‘n karateka gewees.  In die tyd het ek met tye klasse aangebied en dikwels juniors gehelp met hulle bewegings.  Dit is seker nie onmoontlik om karate af te rig sonder om aan die studente te raak nie.  Dit is bloot net makliker om ‘n liggaamsdeel reg te draai as om die klas op te hou van ‘n lang en moeilike verduideliking van presies hoe ‘n arm, been, heup, kop of skouers moet wees te deel.

Daar is egter een baie belangrike punt om in gedagte te hou.  Die “aanraking” is bloot funksioneel.  Ek is oor die algemeen nie baie gemaklik om aan mense te vat of om dat mense aan my vat nie.  Dit het my egter nooit in ‘n karateklas gepla nie.  Daar is ‘n doel met elke beweging en dit help die student om die beweging meer korrek uit te voer.  Dit is amper soos om tafel te dek, alles moet presies reg wees.

Om eerlik te wees het ek nooit regtig voor vanoggend daaroor gedink nie.  Dit was bloot net nie ‘n dink werd nie.  Dit was ‘n “tap” met die voet dat die knie van die student ver genoeg vorentoe gestoot is.  ‘n Vinnige draai van ‘n voet of van die heupe dat die posisie effektief is.  Soms net ‘n vinger op ‘n vuis of op ‘n elmboog om die student te herinner hoe ‘n posisie moet lyk.  Daar was soms grepe en skerm wat mense nader aan die ander liggaam gebring het.  Tog was dit altyd met die doel om perfeksie na te jaag.  Niemand het ooit gewonder of dit onskuldig al dan nie was nie.  Dit was tog nie die doel nie.

Ek kan nie dink dat enige iets in ‘n karateklas wat voor ouers en medestudente gebeur as seksueel of onsedelik kan wees nie.  Elke student het ‘n GI aan en vroulike studente het dikwels ‘n t-hemp en ‘n ski pants onder die GI aan.  Punt wat ek wil maak is dat dit moeite vir ‘n afrigter is om onsedelik of seksueel te wees.  Iets wat buite die konteks van ‘n karate instruksie sal wees.  Iets wat nie per ongeluk verkeerd verstaan kan word nie.

Ek het natuurlik nie al die feite tot my beskikking nie, maar ek voel dat daardie sogenaamde instrukteur stront praat.  As dit onskuldig was, het daar niks daarvan gekom nie of elke tweede senior student of instrukteur sou moes bond staan om te verduidelik.

My mening, maar wat dink julle?

Breinvasbrand:  Die belde voor swart staan as kyu bekend.  Wat beteken kyu?

Breinlosbrand:  Gerda was reg met Sita.





Truth or Dare

16 11 2012

Olga se post het my nou laat dink.  Ons het lanklaas ‘n lekker tag gehad.  Sooooooo . . . . . .

Kom ons speel ‘n bietjie truth or dare.

Vir die volgende 24 uur kan julle my enige iets truth or dare.  Julle kan my iets vra en ek sal die waarheid moet vertel.  Julle kan my dare om oor enige iets te skryf.  Doen gaan dalk moeiliker wees, maar as jy bereid is om my woord te aanvaar, kan ons ‘n plan maak.  😉

Ek gaan net een reël instel.  Geen “truths” oor identiteit, werk, adresse of wat net dom is om op ‘n openbare forum uit te blaker.  Verder gaan vir goud.

En ek sal die dares afskop om vir Tannie Gypsie, Toortsie, Sonlig, Maankind, Olga en Selene te dare om dieselfde te doen.





Skool van die toekomstige hede

14 11 2012

Olga het net nou die dag gepraat van hoe vinnig die tyd verby snel.  Ek dink dalk is dit die aantal gebeure / ontwikkelings wat in tyd gedruk word wat tyd laat spoed optel.  Iets wat ek vanoggend besef het toe ek gou vinnig deur die koerant geloer het.

Ek het die 90’s in ‘n bottelgroen rok en ‘n wit hemp deur gebring.  Dit was natuurlik met wit enkelsokkies en swart skoene afgerond.  ‘n Vreeslike omslagtige manier om te vertel dat ek toe op skool was.  Al was ek in ‘n plattelandse skool, was ons nie heeltemal agter die klip nie.  Ons het rekenaar laboratoriums op laerskool en hoërskool gehad.  Goed en wel, dit was meer ‘n luuksheid as ‘n noodsaaklikheid op daardie stadium gewees.  Ons het hier en daar met ‘n rekenaar in aanranking gekom, maar dit was meer vir die snaaksigheid daarvan as die noodsaaklikheid.

Ek sal reken ek het in ‘n moderne tyd skool gegaan.  Ons het groenborde gehad en nie swartborde nie.  Wel, daar was ‘n paar swartborde in die hoërskool, maar hoekom iets uitgooi wat nog heel goed werk?  Ons het dikwels van transperante af klas gekry en ons het met drukpotlode of penne in skrifte geskryf.  Ons het wel – veral in die laerskool – soms op leie gewerk of is dit gespeel.  Dit was net soms ‘n maklike manier om te kyk of die klas iets begryp het.  Een of ander onderwyser het iewers die blink plan gehad om wit teëls en witbord penne te gebruik.  Ons was toe al st. 4.  Maar die leie en die teëls was eerder die uitsondering as die reël.

En dit klink seker vandag net so vreemd as die gedagte van plaaslyne.  Ek lees vanoggend dat Hoërskool Waterkloof tans besig is om tablette as ‘n onderrigmedium in te rig.  Aanvanklik net vir handboeke vir Gr 10 leerders.  Dit sal van daaraf seker vlam vat.  Hoe spyt is ek nou dat ek nie meer skool gaan nie.  Die onderwyser sal onmoontlik kan sien wat ek voor my oop het.  😉 Net omdat ek Aardrykskunde het (ja, ek het nog Aardrykskunde gehad) beteken dit nie dit is Aardrykskunde op my iPad nie.

Transperante het seker al lankal plek gemaak vir Powerpoint.  Die swartborde word seker stadig maar seker met witborde vervang.  En nou is handboeke oppad uit.  Binnekort sit kinders seker nie eers meer op skoolbanke nie.  Dit laat my nogal wonder of banke skuur nog ‘n straf kan wees.

Dit is seker alles verbeteringe – veral die witbord, maar dit is meer as net ‘n verandering.  Dit is ‘n omwenteling.  Gaan dit tot beter onderwys lei?  Dit het verseker die potensiaal.  Dit het ook die potensiaal om in ‘n nes te ontaard, een waar die armer kinders nog slegter af gaan wees.  Dit is nie asof tablette net ‘n paar rand kos nie.

En ek weet nou nog nie wat die groot bohaai oor ‘n tablet is nie.

Breinvasbrand:  Wie het die baie ou storie (was selfs in my tyd antiek) “Uit Juffrou se Dagboek” geskryf?

Naskrif:  Is Harry Potter en Twilight al voorgeskrewe boeke?

Breinlosbrand:  Selene was reg met Indonesie.





Katte en Honde

12 11 2012

Nadat ek in die afgelope week se Rekord gelees het hoe troetelhonde en -katte soms ‘n maaltyd vir Pretoria se dakloses word, was ek eerlik gewalg.  Aan die een kant is dit mense wat uit honger gedwing word om die troeteldiere te steel en te slag.  Dit vra immers altyd of jy genoeg doen om ‘n ander se nood te verlig.  As ‘n mens is jy tog verplig om ander te help waar jy kan.  Aan die ander kant – dit is honde en katte wat hulle eet.  Om hond en kat te eet is amper so goed as om mens te eet in my nederige opinie.

Tog moet ek myself afvra hoekom ‘n mens so gewalg is deur die idee van kat- en hondvleis?  Ek praat nou nie van Kietsie op die bed of Wagter voor jou deur nie. Hulle is immers deel van die huisgesin en dus net so verhewe bo ‘n pot is as Boet of Sus.  Ons eet tog vark en hoenders, wat netsoos katte en honde omnivore is.  Daar is min diere so afgryslik soos ‘n hoender.  Hoe het katte en honde taboe geword?  Siende dat baie kulture wel geen probleem het om dit te eet nie?

Daar is duisende weggooi honde en katte, wat weinig meer nut het as om elke mens wat al ooit eienaarskap oorweeg het se gewete te bewerk.  Baie van hulle gaan dood gemaak word, hoekom nie die karkasse beskikbaar stel vir diegene wat bereid is om dit te eet nie?  Dan het hulle lewe immers ‘n doel gedien.  Dit is nou natuurlik as die karkasse wel geskik is vir menslike gebruik.

Hoekom kan honde en katte nie kommersieel verbou word sou daar ‘n ontvanklike mark vir hulle wees nie?  Dit kan nie wees omdat baba katte en honde te oulik vir ‘n bord is nie.  Het julle al gesien hoe oulik lammetjies en kalfies is?  En hulle word soms juis vanweë die kwaliteit van hulle vleis geslag en hulle vleis kos amper soveel soos ‘n hele plaas.  Daar is seker geen rede hoekom katte en honde nie onder dieselfde kam geskeer kan word nie?

Behalwe natuurlik nou die goeie ou aanvraag-aanbod stelsel.  Ek twyfel sterk of daar ‘n mark ontwikkel sal kan word.  Ek vir een raak eerder ‘n vegatariër as om kat of hondvleis te eet.  Dit sal te veel voel soos om mens te eet.  As die idee ander aanstaan, sal ek wel nie in hulle pad staan nie.  Mits hulle my diere uitlos.

Hoe voel julle daaroor?  Sal julle kat of hondvleis eet?  Kan dit maar kommersieel verbou word?  Is die eet van kat en hondvleis gelykstaande aan die eet van mensvleis?  As ons so van die ongewensde diere ontslae gaan raak, is dit net ‘n kwessie van tyd voordat dieselfde lot ongewensde mense tref?

Breinvasbrand:  Watter land is die grootste uitvoerder van paddas?  Soos in om geëet te word?

Breinlosbrand:  Ek moes die vraag duideliker gestel het.  Sonlig het die antwoord wat ek gesoek het, HF Verwoerd, gegee, maar Olga is heeltemal reg dat die hospitaal in die 90’s ook Pretoria Akademies geheet het.





Kapsie Heuwel

10 11 2012

Hallo Maatjies  :mrgreen:

😡  Wordpunt is lelik met my.  😥  Ek het ‘n prentjie waar ek nie meer kan onthou wat ek dink nie.  J  Ekke het gehoop julle sal my kan help.  🙄  Maar nou kan ek dit nie reg draai nie.

Ekke hou van snaakse huise.  😆  Altyd as ek ‘n snaakse huisie sien, dan vat ek my tronkfoon en neem ‘n foto.  😈

Ek het die huisie al baie op TV gesien.  😯  Ekke het my oë getrek toe ek dit met my eie ore sien. 😀 Ekke het ver met die vliegmasjien en ‘n gautrein gegaan om dit te sien.

Die ander hekse wil my nie glo nie.  👿  Hulle sê dit is net deel van die dekor van programme.  😡  GRRR!  Ek is mos nie ‘n heks wat jok nie.

Tata Maatjies