Koerantbrokkies

15 10 2012

Attie Rudolph (44), ‘n Skoolonnie was Vrydagaand by Hoërskool Secunda erg aangerand deur 5 leerlinge (4x seuns en 1x dogter) van ‘n ander skool. Hulle wou glo ‘n vriendin by die skool se sokkie kom haal het toe Rudolph hulle gevra het om die perseel te verlaat – net ouers kan kinders kom haal.

Herbert Emil Brizee (45) is oorlede nadat hy met sy motorfiets kop aan kop met ‘n minubus-taxi gebots het. Dit het naby die Mount Grace-hotel in Magaliesburg om ’n draai gebeur. Glo is daar elke naweek tussen 3 en 4 sulke ongelukke in die area.

Johannes le Roux (63) en vrou, Magdaline (57), was deur ‘n fratsgolf getref op die Pipeline-strand in Amanzimtoti. Le Roux se vrou kon uitkruip, maar hy is deur ‘n tweede golf die see ingetrek en hy het verdrink.

Plaasaanvalle: ‘Syfers is hoër’ “Die syfers is bespiegeling. Almal stem wel saam dit is skokkend hoog,” het Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, gesê. Almal is dit eens dat die oorsprong van die probleem lê by die feit dat die polisie sedert 2007 nie meer statistieke oor plaasaanvalle en -moorde publiseer nie. Ek kon dit ook vir hulle gesê het!

Vrou ry kind by skool raak. Ek weet nie of julle die video gesien het nie… maar ek stem nogals saam met die berig! Die kind het met ‘n spoed oor die pad gehardloop… sy Ma blameer die skool en Metro dat dit ‘n baie gevaarlike kruising is… maar tog wag sy vir hom aan die ander kant van die pad?? Helllooooo vat jou lui bas en gaan haal jou seun aan die ander kant! Ghf! Hoe voel julle hieroor?

Kyk asb uit vir die vermiste 5 jarige kleuter. Sy is sedert Vrydag weg nadat sy in ‘n parkie gespeel het. Sy het ‘n peink hemp met blou pajama broek aan.

Kauthar Bobbs (Missing Children SA)

Ksd: 15-20°C More sun than clouds. Mild. Pta: 14-26°C Mostly sunny. Warm.
Jhb: 13-21°C Mostly sunny. Mild. Bfn: 16-28°C More sun than clouds. Pleasantly warm.
Dbn: 19-28°C Showers late. Afternoon clouds. Warm. PE: 16-19°C a few showers. Afternoon clouds. Mild.

 





Ken sexy grootte?

11 10 2012

Daar is ‘n gesegde in Afrikaans wat ek graag hier wil misbruik.  Al dra ‘n aap ‘n goue ring, bly hy nog steeds ‘n lelike ding. 

Ek het in die Beeld ‘n gesprek opgetel oor die versugting van sexy onderklere vir die voller figuur vrou.  Daar is baie dames wat vol dat al dra hulle ‘n paar kilogram ekstra gewig rond, wat as sulks ekstra bulte en rolle beteken, is hulle ook geregtig daarop om sexy te kan voel.  Dit is waar die sexy onderklere nou veronderstel is om ‘n verskil te maak. 

Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek dra beslis hopeloos te veel gewig saam.  Ek val verseker onder die vandel van vetsug en ek het nog die gesig nog die persoonlikheid om daarvoor op te maak.  So wat ek ookal hieroor kwyt raak is heeltemal van toepassing op myself ook. 

Die gewone, gemiddelde beeld van ‘n sexy lyf, dril gewoonlik nie.  Die regte klere of gebrek daaraan verbeter of verswak die beeld, maar die beeld self bly wat dit is.  Toegegee, verskillende mense het verskillende idees omtrent wat sexy is.  Sexy sit dalk ook meer in die houding as die verpakking.  Tog, kan ek nie sien hoe die nodige onderklere iemand skielik sexy gaan maak nie.  Onderklere is ‘n hulpmiddel, dit is nie ‘n towerstaf nie. 

In ‘n mate laat dit my weer dink aan die moderne mens se neiging om verantwoordelikheid te vermy.  In plaas om jou heil in jou eie hande te neem en iets omtrent die saak te doen, word iets anders blameer.  Dit is tog soveel makliker om dit iemand anders se probleem te maak as om hand in eie boesem te slaan. 

Hoe voel julle hieroor?

Breinvasbrand:  Wanneer was die Wonderbra Handelsmerk gestig in Amerika, al was dit later in Kanada verder ontwikkel?

Breinlosbrand:  Chicago





Te ver

10 10 2012

Ek dink ek kan met veiligheid sê dat bittermin mense vandag al hulle vriende en familie in dieselfde munisipale distrik het.  Ons werk dan nie eers noodwendig in dieselfde distrik as waarin ons bly nie.  Almal in dieselfde provinsie klink half absurb.  Deesdae bevind ons onsself as wêreldburgers en meer en meer mense se vriende en familie is oor die wêreld versprei. 

Wat ‘n familie ete op ‘n Sondagmiddag nogal kan kompliseer. 

Dinge soos Facebook en Skype maak seker dat familiebande en vriendskappe sterk staan, maar dit is nie persoonlike kontak nie.  Daar word mylpale bereik en gevier wat samekomste beteken.  Babas word gebore, die kleinspan word groot (Tannie Laurika se liedjie), daar is verlowings en troues.  Les bes is daar begrafnisse.  Alles goed wat Facebook en Skype erg onpersoonlik maak. 

Goed en wel, mens kan seker ‘n vliegtuigkaartjie koop en ‘n hotel bespreek vir elke bakatel.  Hoewel, ‘n verantwoordelike mens moet seker ‘n wakende oog op die finansies hou.  Nogtans kan finansies soms ‘n tweede plek inneem vir sekere gebeure.  Daar kan gespaar en beplan word as iemand regtig wil.  Dit is ook so dat sekere geleenthede swaarder weeg as ander?

Dus, wat bepaal die nodigheid om vir ‘n geleentheid te reis:  Is dit die mens, geleentheid of afstand?  Watter geleenthede is ononderhandelbaar?  Watter geleenthede is goed, maar finansies praat dalk net harder?  Watter geleenthede is ‘n totale mors van geld en tyd?  Is daar dalk vriende of familie wat ‘n totale mors van geld of tyd is? 

Hoe voel julle?  Hoe ver sal jy reis vir ‘n braai?  Vir ‘n verjaarsdag?  Vir ‘n troue?  Vir ‘n begrafnis?

Breinvasbrand:  Waar is Boeing se hoofkantoor?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Mexico.





Mag, nie griewe

9 10 2012

Eers moet ek verskoning maak oor die koerant wat deesdae agterweë bly.  Ek is nog steeds van plan om die koerant daagliks aan julle te bring, maar eers moet ek weer volhoubare internet toegang kry.  Maar van die koerant gepraat, ek lees vanoggend dat die Rand in die moeilikheid is met komplimente van die stakers.  Ek is seker hulle klop hulleself trots op die skouers daaroor.  Ek het iewers oor die naweek ook gelees dat ongemerkte petrol waens met polisie vergesel moet word om petrol aflewerings te doen.  Ek verwys ook na die talle foto’s in omloop hoe die trokdrywers alles vernietig wat hulle pad kruis.  En dan praat ek nie eers van die mynwerkers wat ook staak nie. 

Daar word gesê dat mag die gevaarlikste dwelm denkbaar is.  Met die mag wat stakers kry, is dit seker geen wonder daar word so maklik na ‘n verskoning gegryp om te staak nie.  Dit gaan oor mag, die griewe is net ‘n bysaak.  Siende dat die griewe elke jaar meer onredelik raak, word die stakings net langer en langer. 

Stakings gaan deesdae nie meer daaroor om die werkgewer lam te lê nie.  Die onskuldige publiek moet ook ly.  Die idee is seker dat hulle druk op die werkgewer moet sit om sy eie keel af te sny.  Van waar ek sit lyk dit nie na ‘n baie suksesvolle poging nie.  Stakers het al lankal hulle simpatie onder die publiek verloor.  Eise word jaarliks meer onredelik en dit is bloot nie moontlik om daaraan te voldoen nie.  Almal weet dit, maar nogtans sal daar maande lank gedans word tot die honger hulle terug dryf. 

Ek wonder tog partykere wat die stakers aan hulle kinders verduidelik.  Ek neem aan die groot base word blameer, maar tog is dit die stakers wat kies om nie te werk nie en dus met die besluit verdien hulle nie geld nie.  Word hulle gesinne ooit in oorweging gebring daarmee?  Aan die anderkant, hoekom sal daar daaroor bekommer word.  Iemand sal wel gaan kos uitdeel en daarmee die stakers in hulle kwaad strek.  Aan die anderkant, die gesinne het nie gesondig nie. 

Dit is vir my opmerklik dat Solidariteit en Afriforum meer en meer deesdae probeer om ‘n staking oor siviele sake te reël.  Is dit regtig die enigste manier?  Ons weet tog die regering gaan voortploeter ongeag enige iets wat mense doen.  Of is dit jaloesie oor die mag wat Cosatu, Numsa en vennote kry wanneer hulle ‘n staking roep. 

Daar was seker ‘n tyd wat ‘n staking ‘n geldige protesaksie was.  Hoewel, die oorvloed daarvan het daarvan net ‘n boelie gemaak.  Een wat intimideer om sy sin te kry.  En die enigste manier om ‘n boelie op sy plek te sit, is om nie vir hulle intimidasie te val nie. 

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Watter land se grondwet het in 1917 die inwoners die reg om te staak gegee het? 

Breinlosbrand:  Doringrosie.





Binne of Buite

8 10 2012

Dit is seker maar Sneeuwitjie en Aspoestertjie se skuld.  Ek bedoel nou dat mense dink trou is vreeslik romanties.  Ons het die prentjie van jy ontmoet jou prins, hy red jou en dan deel jy sy lewe vir ewig en vir altyd.  Dit is dalk waar die eerste jakkalsie kop uit steek.  Vir ewig en vir altyd is ‘n mite.  Selfs al doen jy jou uiterste bes om deur te druk tot die dood jou skei, bring die dood tog ‘n einde aan vir ewig en vir altyd. 

Ek sal myself nie ‘n kenner van romanse noem nie, maar ek weet darem dat syfers nooit in die verband gebruik word nie.  Die prinse wat hulle paleise en die helfte van hulle koninkryke uitdeel, weet die prinses gaan waarskynlik wegkyk as hy onder die gespuis vry nie.  Waar het jy al ooit gehoor dat die nuwe prinses die prins uitskop en sy koningkryk met die nuwe prins deel?  Of dat die prins die emmer skop en sy ma al sy goed kom opeis?  Erger nog, dat die administrateurs alles vries terwyl hulle kyk wat presies het die prins met al sy goed gemaak? 

In die moderne lewe pluis slim mense hulle goed uit voordat daar ringe geruil word.  Dit is seker maar sinisme wat praat, maar dit kom volgens my op die volgende neer.  Binne gemeenskap van goedere:  Jy is beter af as ek en ek wil seker maak ek kry my pond vleis as daar iets gebeur.  Buite gemeenskap van goedere:  My goed is my goed en ek deel nie graag nie. 

Natuurlik is dit nie so wit en swart soos ek dit skets of baie mense glo dit is nie.  ‘n Slim prokureur kan gate deur elke ooreenkoms of gebrek aan ooreenkoms skiet.  Dit laat ‘n mens wonder of dit enigsins die moeite werd is om ‘n poging aan te wend.  Dit troos seker en dit laat ‘n mens twee keer dink oor wie en wat jy mee trou.   Hoewel ‘n mens nie alles wat jy bymekaar geswoeg het aan ‘n ander se gierigheid wil afstaan nie, het jy tog ‘n sekere verantwoordelikheid aan iemand wat alles vir jou opgeoffer het.  Siende dat die opoffering minimaal is in sekere omstandighede, kan die verantwoordelikheid ook minimaal wees.  Tog, as daar kinders is, is daar verantwoordelikheid. 

Toegegee, die besluit hoef nie noodwendig net op ‘n moontlike egskeiding te berus nie.  Die lewe gebeur ook.  Besighede word gestig en gaan onder.  Ongelukke gebeur en die dood tree in.  Dit alles het ‘n invloed op die gesamelike boedel.  Sou die krediteure aan die deur kom klop, wie se bates kan hulle gryp?  Syne, hare of hulle s’n?  Net die een wat skuldig is of moet die hele gesin daaronder ly.

Dit is dus nie so maklik as om emosie te laat besluit op watter voorwaarde mense trou nie?  Snaaks hoe die sprokies nooit die voorwaardes van die huwelik uitgespel het nie.

Breinvasbrand:  Wie was met ‘n 100 jaar slaap oorval nadat sy haar vinger geprik het?  Sy was vervloek omdat haar pa nie die slegte feetjie genooi het nie.

Breinlosbrand:  6 Februarie 1838





Kom Koos

5 10 2012

Ek het al voorheen genoem dat ek nie ‘n voorstaander vir “goeie” tradisionele name is nie.  Ek kan seker ‘n boek skryf oor hoekom nie, maar een van die voorhandliggendste redes is dat daar baie ander mense met dieselfde naam kan wees.  Dit help nou nie juis om ‘n identiteit te vestig nie.  Ken jy vir Koos?

Aan wie het jy heel eerste gedink?  Dalk Koos de la Rey, wat volgens dr. Jackie Grobler, geskiedkundige van Tukkies, die grootste Afrikaner van alle tye was.  Jy sien dalk ‘n onverstrokke leier, of te wel die leeu van die Wes-Transvaal.

As jou wortels eerder in die kunste lê, dink jy dalk aan Koos du Plessis.  Swerwers sonder rigting, soekers wat nooit vind, maar hulle kan swart riviere volg om dalk ‘n brokkie son te vind.  Ek hoop nie die Koos se aanhangers het nou ‘n beroerte gekry vir my verdraaiing nie.

Daar is ook die beroemde, of is dit nou berugte Koos Kombuis.  Hy kan nie sy ma blameer vir sy naam nie, hy het dit immers self gekies.  Dalk toe hy ‘n bietjie te lank saam met Lisa gekuier het en die boemelaars se smaak verfyn het.

Geen verslag oor Koos sal volledig wees sonder Koos van der Merwe nie.  ‘n Bekende aan almal wat al ‘n Afrikaanse grap gehoor het.  Dit is seker nie sy skuld dat hy so beskaaf is dat hy in die apteek sal sluip om nie die slaappille wakker te maak nie.  Voorbeeld vir baie.

Daar was verseker ‘n Koos of drie saam met jou op skool.  Jy is dalk vandag nog met ‘n Koos bevriend.  Dan praat ons nie eers oor al die Kose wat soos hulle agterente ry nie.  Ja, Koos.  Wat sal ons sê.  Suid-Afrika kan seker nog ‘n paar dra.  Wees net versigtig om nie met ‘n ander een verwar te word nie.





Afrika Leierskap

4 10 2012

Verskeie gesaghebbendes reken Suid-Afrika se probleem is ‘n gebrek aan leierskap.  Zuma is nie ‘n slegte leier nie, hy is doodeenvoudig nie ‘n leier nie.  Nou nie ‘n stand van sake waarmee mens rustig in die aande kan gaan slaap nie.  Hoewel, dit is ook nie juis iets nuut nie.

Dit is altyd half ironies hoe die leiers van die verlede altyd as vrome en opregte mense gesien word.  Kom ons wees blatant eerlik.  Selfs (of is dit veral) die VOC leiers wat die Kaap kom stig het, was tot in hulle laaste vesel korrup.  Hulle was daar om hulle eie sakke te vul en as ‘n mens vandag na Constantia kyk, was die Van der Stels meesters van korrupsie.  Iets wat baie mense heimlik weet, maar verkies om nie aan te dink nie.  Buitendien het die Britte van die VOC ontslae geraak en die Boere was net so verdruk gewees deur die VOC se amptenare. 

Dit is veral die Boere wat as die opregste van alle opregheid voorgehou word.  Die arme mens wat aan die een kant so besteel is van die Xhozas en aan die anderkant deur die Engelse verdruk was.  Dit was ‘n keuse van tussen ontplof of pak jou goed en trek.  Vir vredesonthalwe was daar getrek en die Voortrekkers het die lig deur donker Afrika versprei.  Mense sonder ‘n klad op hulle naam. 

Hoewel, mense sonder sonde bestaan nie op die aarde nie.  Ek het gister ‘n baie interessante artikel omtrent Piet Retief (die man) raakgeloop.  As ‘n oud-Pietie weet ek dat Piet Retief die Voortrekkers se leier was en dat hy die manifes geskryf het oor hoekom die Voortrekkers in die pad geval het. 

Wat ek nie geweet het nie, is dat Piet Retief ‘n geskiedenis van slegte skuld, lieg onder eed en onbetroubaarheid gehad het.  Hy het selfs sy vrou uit al haar geld bewimpel.  Skielik klink hy vir my baie soos ‘n sekere huidige president van Zuma.  Ek wonder net wat het die Voortrekkers besiel om van hom die leier te maak in Thaba ‘Nchu?  Sal nie weet nie, maar hy is beslis nie ‘n goeie voorbeeldige leier nie.  Dit is nou as die stukkie geskiedenis nie net ‘n goeie storie is nie. 

Dit bring my tot ‘n ander interessante artikel wat ek van ‘n Afrika leier gelees het.  Joyce Banda het president van Malawi geword nadat Bingu wa Mutharika die tydelike met die ewige verwissel het.  Sy het aangekondig dat haar en die visepresident se salarisse met 30% gesny gaan word.  Hulle gaan ook ‘n jet vir die kabinent verkoop, omdat dit ‘n verkwisting van geld is.  Dit is alles deel van ‘n program om die regering se uitgawes te verminder. 

Klink vir my na ‘n plek waar Zuma, sy maatjie Bob en die koning van Swaziland kan gaan aanklop vir lesse.

Breinvasbrand:  Wanneer het Piet Retief gesterf?

Breinlosbrand:  Gerda was reg met twee dae.





Tyd Koop

3 10 2012

Soms is dit ‘n seën dat ‘n dag net 24 uur het waardeur ‘n mens moet worstel.  Tog is daar dikwels die dae wat jy wens jy kan daardie 24 uur op een of ander manier vermeerder.  Daar is doodeenvoudig net te veel dinge wat gedoen moet word.  Helaas word die “moet doen” altyd hoër geag as die “wil doen”.  Wie was die swernoot wat besluit het tyd kom voor plesier?

Alhoewel, siende dat ek ‘n opportunis is en boonop ‘n tweeling het wat net so ‘n drastiese te kort aan tyd het, kan ek (ons) nie help om ‘n gulde besigheidsgeleentheid te sien nie.  Gestel nou ‘n mens kan tyd koop of in ons geval dit verkoop.  Daar is natuurlik ‘n klein tegniese probleempie van hoe ‘n mens die tyd gaan kwantifiseer of verpak.  Tyd is nou nie iets wat jy met jou twee hande kan hanteer nie.  Die hoe is egter ‘n klein prys om te betaal vir iets waarmee jy in luuksheid gaan aftree.  Ek meen, as alles anders misluk, kan ons altyd vir Vader Tyd gaan gyselaar hou.  Wel, ons wil graag ‘n konstante kontantvloei hê.  Dalk kan ons hom verlei met ‘n drankie of ‘n geleentheid om sy stories te vertel. 

In elk geval, ons is nog besig om dit uit te werk.  Dit is nogal ‘n uitdaging, siende dat ons tyd ook met allerhande ander strooi opgeneem word.  Half ironies – ons het nie die tyd om te leer hoe om tyd te manipuleer en te kope aan te bied nie.  Ag wat, ek slaap tog net tussen 2 en 4 in die oggende. 

Grappies op ‘n stokkie, waarvoor sal die mens graag tyd wil aankoop?  Voor die handliggendste is seker diegene wat terminaal siek is en graag ‘n ruk langer op aarde wil deurbring.  Sal dit eties wees om aan hulle tyd te verkoop?  Ek wil aftree, nie my siel verloor nie.  Dit voel nie reg om iemand se laaste paar sente te vat om hulle lewe ‘n bietjie te rek nie.  Ek sou maar ‘n arm dokter gewees het.  Aan die anderkant, is dit reg om iemand langer op aarde te hou as wat bestem was?

Die idee om tyd te verkoop was nie veronderstel om ‘n saak van lewe en dood te wees nie.  Net om gewone sterflinge se dag te verleng.  Waarvoor sal die gewone, gemiddelde mens die tyd aanwend?  In ‘n ideale wêreld sou al die gekoopte tyd vir die “Wil Doen” aangewend word.  Tog, soos dinge reeds staan, gaan die “Moet doen” dit seker opeis soos wat dit aangeskaf word.  Nie ‘n gesonde stand van sake nie. 

Die waarheid is dat ons moet veg vir ons “Wil Doen”, want “Moet Doen” gaan altyd opslurp soveel as dit kan.  Meer tyd gaan dit nie verander nie. 

Gelukkig is daar iets soos ‘n vrye mark, waar aanvraag en aanbod hooggety vier.  Dit gaan my sak help hoe meer tyd elke mens aankoop.  Sou ons nie die tegniese probleempie kan aanspreek nie, kan ons altyd motiveringsboeke skryf.

Breinvasbrand:  In ‘n skrikkeljaar, hoeveel dae meer is daar as 52 weke?  (Soos in 52 weke en x dae vir die volle jaar).

Breinlosbrand:  Olga was reg met Pride and Prejudice.





Aanpassings

2 10 2012

Een van die grootste voordele van enkellopend wees, is dat jy niemand anders in gedagte moet hou nie.  Jy kan doen wat jy wil, wanneer jy wil en met wie jy wil.  Wat dit outomaties een van die grootste nadele maak om van getroud te wees.  En seker een van die moeilikste goed om deur te werk nadat jy voor die kansel was.  Dit is nou as jy tot voor die troue wag om soos getroudes saam te lewe. 

Ek het al dikwels my mond uitgespoel oor kinders wat wil trou.  Daar is natuurlik ‘n ander kant ook, hoe ouer jy word, hoe moeiliker gaan dit wees om met iemand anders aan te pas.  Tog, ongeag van ouderdomme, is daar twee individue wat uit verskillende families (met hulle eienaardighede en tradisies kom).  Elkeen het ‘n verskillende verwysingsraamwerk en het verskillende verwagtinge.  Ek dink dit raak nog erger gegewe die bagasie wat elkeen saam met hom / haar bring en as daar nog verskillende gelowe en kulture betrokke is. 

Dan is daar nog elkeen se verskillende voorkeure.  A dink niks daarvan om ‘n hele Saterdag in nagklere te bly nie.  Daarmee saam word daar so min as moontlik gedoen.  B haat die idee van vermorsde tyd en vlieg 7 uur op ‘n Saterdag uit die bed om seker te maak alles word gedoen.  A kry maklik koud, B kry weer maklik warm.  Daar is seker ‘n miljoen voorbeelde wat ek kan noem. 

Punt is dit is alles klein jakkalsies in ‘n wingerd van “verewig en altyd gelukkig saam”.  Nie juis vreeslik romanties nie.  Tog gaan daar derduisende mense elke dag deur die aanpassings en kom seker beter mense anderkant uit. 

Vandag wil ek by julle weet wat was die moeilikste ding om aan gewoond te raak?  Hoe het julle van twee families een geword?  Watter raad het julle aan pas getroudes?  Kan ‘n huwelik uit twee verskillende huise werk?

Breinvasbrand:  Watter boek handel oor die liefdesverhoudig van Elizabeth Bennet en Mark Darcy?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 15 Jan 1929.





Dis my geld wat ek kan nalaat soos ek wil

1 10 2012

Ek het die naweek gelees hoe die appèlhof beslis het dat Daphne de Villiers van Stellenbosch se laaste wens kan bly soos dit is.  De Villiers se laaste wens was dat beurse aan blanke studente toegeken word wat oorsee hulle PhD in organiese chemie wil gaan doen.  Met die klem op blanke studente.  Sou die geld nie aan blanke studente mag gaan nie, moet die geld aan liefdadigheid gaan.  Ons praat hier van ‘n bedrag van R250 000 ‘n jaar. 

Die betrokke universiteite (US, UP, UVS en UK) is nie van plan om daardie geld af te skryf nie.  Terselfde tyd gaan dit teen hulle grein dat net blanke studente voordeel hieruit kan trek.  Dus het hulle die hof genader om die bepaling te verwyder.  En sover sukkel hulle nog daarmee.  Ek is seker die onderskeie prokureurs kyk alreeds na die grondwet hof en De Villiers se testament gaan nog lank vat om afgehandel te word. 

“All animals are equal, some are just more equal than others” het nog nooit vir my gewerk nie.  In ‘n ideale wêreld sal ras nêrens ‘n rol speel nie.  Beurse sou op meriete uitgedeel word aan die mees verdienstelike studente.  Velkleur behoort nie ‘n faktor te wees nie.  Feit is egter ons bly in Suid-Afrika, nie in Utopia.  Hoewel geen haan daarna sou kraai as De Villiers se testament net swart studente (of selfs indiër studente) bevoordeel het nie, is dit amper doodsonde dat net blanke studente bevoordeel kan word.  ‘n Blanke student moet op eie stoom vorder of vir die aalmoese bid. 

En dit is vir my onregverdig.  Toegegee, op een punt kon net blanke studente bevoordeel word, maar twee verkeerds het nog nooit in die lewe ‘n reg gemaak nie.  Mens is tog juis veronderstel om uit die foute van die verlede te leer om dit nie te herhaal nie.  Die les behoort te wees dat voortrek op grond van ras (en geslag) dom is.  Dit lei na onmin en haat.  Dit gaan lei dat meer en meer mense hulle eie gaan beskerm, wat op die einde tot ‘n verlies vir die hele gemeenskap gaan lei. 

So waar laat dit die gemiddelde redelike mens?  Sou meer mense De Villiers se sentimente deel (en die geld het vir hulle sentimente) gaan die voorheen benadeeldes sukkel.  Nie omdat daar nie swart geld is nie, wit geld is net meer vrylik beskikbaar.  Verder is daar vandag baie swart studente wat elke voordeel denkbaar vanaf geboorte geniet het.  Is dit regverdig om hulle die voordele van voorheen benadeel te laat geniet?  Tog moet ons ook erken dat die gemiddelde voorheen blanke skool, aansienlik (dramaties selfs) beter as die gemiddelde voorheen swart skool is?  Tot die dag dat die voorheen swart skool kwaliteit onderrig gee, gaan die leerders benadeel bly.  Dit bring net niemand iets in die sak om die blanke kind se kanse te ontneem nie. 

Catch 22?  Of tyd om velkleur vir eens en vir altyd af te skryf en die gemeenskap help om elke kind sy / haar droom te laat najaag?  Is dit ooit moontlik?

Breinvasbrand:  Wanneer is Martin Luther King Jr gebore?

Breinlosbrand:  Gerda was reg met hoogtes.