Maar dit is dan oorsee

29 10 2012

Oorsee!  Dit is seker een van die eerste onwetenskaplike Aardrykskundige begrippe wat ‘n mens optel.  Nie dat dit so maklik  is om te definieer nie.  As ‘n begin is oorsee nie dieselfde as die buiteland nie.  Ek meen, Lesotho, Swaziland, Botswana en Mosambiek is streng gesproke oorland.  Dalk oor ‘n rivier, maar almal weet tog dit is nie ‘n see nie.

Fisies oorsee is ook nie Oorsee nie.  Ja, jy moet oorsee gaan om ‘n dag in Robbeneiland deur te bring.  Dit tel niks as jy nie ‘n paspoort nodig het nie.  Om een of ander rede tel die tropiese eilande naby Afrika ook nie juis nie.  Ek weet nie hoekom nie, ek het nie die reels gemaak nie.

Nee, Oorsee is vêr.  Dit is die bestemming van verre lande, lande waar jy ‘n paspoort en dalk ook ‘n visa nodig het.  Lande waarvoor jy streng gesproke ‘n eeu of wat terug maande lank ‘n skip moes trotseer het as jy jou spore daar wou gaan laat het.

Oorsee!  Menige mense se hunkering.  Weliswaar vandag nie meer ‘n onmoontlikheid wat dit selfs ‘n paar dekades terug was nie.  As jy op SARS se radar is, is Oorsee ‘n formaliteit.  Een waarvoor daar dalk fyn begroot moet word, maar dit is haalbaar.  Nogtans is dit nie elke Jan Rap en sy maat wat Oorsee gaan nie.

Dit is nogtans Oorsee, ‘n begrip wat van kleinsaf vele betower.  Die belofde van verkenning, avontuur en dalk ook in ‘n mate voldoening?  Iets groots.  Iets anders.  Iets . . . wel, OORSEE.

Tog, is Oorsee nie Oorsee nie.  Dit was my grootste teleurstelling toe ek ‘n paar jaar gelede Oorsee getref het.  Mens moet tog seker Oorsee voel.  Ja, daar is opgewondenheid, daar is die lus vir avontuur, daar is daardie gevoel van prestasie.  Alles goed wat ek in Suid-Afrika ook gevoel.  Wel, om eerlik te wees, ek het dit al gevoel voordat ek ‘n kaartjie gekoop het.

Ek stel dit nie baie goed nie, verskoon, ek het die EK van ‘n klip.  Die laaste ding wat ek verwag het toe ek van die vliegtuig afgeklim het, was om gewoon te voel.  Daar was nie ‘n Oorsee gevoel nie.  Dit was maar net ‘n ander plek.

Dalk is ek maar net blasé.

Was jy al oorsee?  Wat was jou grootste teleurstelling?  Het jy iets anders gevoel?  Was daar aan al jou verwagtinge voldoen?

Breinvasbrand:  Behalwe vir ‘n tronk en ‘n opleidingsentrum, waarvoor is Robbeneiland van 1846-1931 ook gebruik?

Breinlosbrand:  1939

Baie dankie vir Selene wat vir ‘n paar weke vir my ingestaan het toe my arms te kort was. 


Aksies

Information

10 responses

29 10 2012
gerdajansen1

om die kapenaars van gevaar te waarsku, dink ek.

29 10 2012
gerdajansen1

ek weet nie of ek oorsee wil gaan nie. dit klink my mos soms die lelikste goed gebeur met suid afrikaners, wel, oorsee.

29 10 2012
Toortsie

Ja, ek was al daar. oor die see. En dis heerlik. Want dis vakansie. En alles is anders. Teleurstelling? Dat my rande maar min werd is daar…..🙂

29 10 2012
charlene2714

Ek het in 2004 vir my boetie gaan kuier in Londen. Die lekkerste was om alleen die strate in te vaar, die bus te vat, die tube te vat en rond te hang in plekke soos Picadilly circus en Covent Garden. Tot 15:00 in die middag wanneer dit pikdonker geraak het en dan in die donker-middag die tube en bus terug te vat huis toe en alleen terug te stap sonder om bang te wees. Dit het vir seker vir my heeltemal anders as by die huis gevoel. En so wonderlik en van uitstekende standaard SA se Phantom of the opera is, dit was ‘n lewenslange droom om dit in Her Majesty’s theatre in die West-End te gaan kyk. ‘n Absolute belewenis.

Behalwe daarvoor was ek nog net in Swaziland.

29 10 2012
MaanKind

Oorsese reise is vir my die beste ding in my lewe! Ek het al meer gereis as waaroor ek gedroom het, en ek sal myself op ander gebiede laat kortkom, maar ek spaar alweer vir my volgende reis.

En Robbbeneiland is waar melaatses daardie jare aangehou is.

29 10 2012
Sonlig

Ek was al “in-see”by die Maldive eilande en Mauritius en ook onlangs oorsee in Skotland. Ook by die Afrika eilande wat nie tel nie. In al die gevalle was dit heerlik! Die eilande was vir vakansie saam met my ridder en Skotland was vir werk.

Ek dink ek sou teleurgesteld gewees het as al hierdie plekke net soos Suid-Afrika was. Dis juis die andersheid wat dit so lekker gemaak het. Alles was presies soos ek gedink en gehoop het dit sou wees – die eilande was tropies met spierwit strande en blóú water en Skotland was…wel….Skots! Met manne in kilts, doedelsakke, whiskey and brosbrood om elke hoek en draai. ‘n Pragtige land met groen, groen heuwels en REGTIG meer skape as mense.

Ek sal graag hierdie land ook vir die een wat ek liefhet wil gaan wys, want dis darem soveel lekkerder om dit saam met iemand te ervaar.

Ek dink die groot vraag is eerder: Is dit net lekker om vir ‘n week of twee daar te kuier, of sal ek werklikwaar daar wil gaan bly? Skotland se weer en winters sal my waarskynlik onderkry – al was my besoek beslis een van die hoogtepunte in my lewe.

29 10 2012
Olga

Ek het geen begeerte om oorsee te gaan nie. Ek hoef op enige sonnige dag net Godwindow op te stap om oorsese aksente te hoor,

29 10 2012
JWW

Ek was darm al ‘n paar keer BY die see… en self IN die see, maar OOR hom was ek noggie…. dis rykgatte se speelplek daai ek kanie dit bekostig nie, en spaar is ‘n supermark in die hoofstraat !

29 10 2012
seegogga

Die eerste keer moes ek myself knyp om myself te oortuig dat dit waar was, en nie net ‘n droom nie. Dis jare gelede en dit was wonderlik, al moes ek ‘n maand lank met dieselfde klere loop omdat die lugredery my tasweggegooi het. Van die heerlikste ervarings in my lewe. Die2 de keer, 3maande alleen in Europa, was wonderlik, op ‘n ander manier. En nou die laaste tweekeer by my kinders in Holland, steeds heerlik. Dit maak jou oe oop, jy sien die wereld in breer perspektief, en dis heerlik. Maar snaaks genoeg, het ek nie behoefte aan die Ooste of self Amerika nie. Gee maar vir my Europa of Afrika.

30 10 2012
lekkerjeuk

Reis is vir my wonderlik, of dit nou hier of oorsee is. Om in Suid-Afrika te reis is so gemaklik. Jy ken die taal, verstaan hoeveel goed kos, jy voel tuis. Jy mag moan oor hoe die plek lyk, want dis jou land en jou reg om te kla. Oorsee begin al op die lughawe wanneer jy die aankondigings hoor wat jy nie kan uitmaak nie. Dit voorspel veraf lande en onbekende plekke.

Dis wonderlik! Jy is uit jou gemaksone en niks kom sommer vanself nie. Jy dink en ervaar en suig nuwe dinge op soos ‘n stofsuier wat mal gaan in ‘n vuil garage. Jy onthou dit vir ewig en altyd want alles is nuut en die eerste keer. Ek het ook al baie oorsee gereis en dit bly vir my ‘n voorreg en ‘n lekkerte.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: