Maar dit is dan oorsee

29 10 2012

Oorsee!  Dit is seker een van die eerste onwetenskaplike Aardrykskundige begrippe wat ‘n mens optel.  Nie dat dit so maklik  is om te definieer nie.  As ‘n begin is oorsee nie dieselfde as die buiteland nie.  Ek meen, Lesotho, Swaziland, Botswana en Mosambiek is streng gesproke oorland.  Dalk oor ‘n rivier, maar almal weet tog dit is nie ‘n see nie.

Fisies oorsee is ook nie Oorsee nie.  Ja, jy moet oorsee gaan om ‘n dag in Robbeneiland deur te bring.  Dit tel niks as jy nie ‘n paspoort nodig het nie.  Om een of ander rede tel die tropiese eilande naby Afrika ook nie juis nie.  Ek weet nie hoekom nie, ek het nie die reels gemaak nie.

Nee, Oorsee is vêr.  Dit is die bestemming van verre lande, lande waar jy ‘n paspoort en dalk ook ‘n visa nodig het.  Lande waarvoor jy streng gesproke ‘n eeu of wat terug maande lank ‘n skip moes trotseer het as jy jou spore daar wou gaan laat het.

Oorsee!  Menige mense se hunkering.  Weliswaar vandag nie meer ‘n onmoontlikheid wat dit selfs ‘n paar dekades terug was nie.  As jy op SARS se radar is, is Oorsee ‘n formaliteit.  Een waarvoor daar dalk fyn begroot moet word, maar dit is haalbaar.  Nogtans is dit nie elke Jan Rap en sy maat wat Oorsee gaan nie.

Dit is nogtans Oorsee, ‘n begrip wat van kleinsaf vele betower.  Die belofde van verkenning, avontuur en dalk ook in ‘n mate voldoening?  Iets groots.  Iets anders.  Iets . . . wel, OORSEE.

Tog, is Oorsee nie Oorsee nie.  Dit was my grootste teleurstelling toe ek ‘n paar jaar gelede Oorsee getref het.  Mens moet tog seker Oorsee voel.  Ja, daar is opgewondenheid, daar is die lus vir avontuur, daar is daardie gevoel van prestasie.  Alles goed wat ek in Suid-Afrika ook gevoel.  Wel, om eerlik te wees, ek het dit al gevoel voordat ek ‘n kaartjie gekoop het.

Ek stel dit nie baie goed nie, verskoon, ek het die EK van ‘n klip.  Die laaste ding wat ek verwag het toe ek van die vliegtuig afgeklim het, was om gewoon te voel.  Daar was nie ‘n Oorsee gevoel nie.  Dit was maar net ‘n ander plek.

Dalk is ek maar net blasé.

Was jy al oorsee?  Wat was jou grootste teleurstelling?  Het jy iets anders gevoel?  Was daar aan al jou verwagtinge voldoen?

Breinvasbrand:  Behalwe vir ‘n tronk en ‘n opleidingsentrum, waarvoor is Robbeneiland van 1846-1931 ook gebruik?

Breinlosbrand:  1939

Baie dankie vir Selene wat vir ‘n paar weke vir my ingestaan het toe my arms te kort was.