Mag, nie griewe

9 10 2012

Eers moet ek verskoning maak oor die koerant wat deesdae agterweë bly.  Ek is nog steeds van plan om die koerant daagliks aan julle te bring, maar eers moet ek weer volhoubare internet toegang kry.  Maar van die koerant gepraat, ek lees vanoggend dat die Rand in die moeilikheid is met komplimente van die stakers.  Ek is seker hulle klop hulleself trots op die skouers daaroor.  Ek het iewers oor die naweek ook gelees dat ongemerkte petrol waens met polisie vergesel moet word om petrol aflewerings te doen.  Ek verwys ook na die talle foto’s in omloop hoe die trokdrywers alles vernietig wat hulle pad kruis.  En dan praat ek nie eers van die mynwerkers wat ook staak nie. 

Daar word gesê dat mag die gevaarlikste dwelm denkbaar is.  Met die mag wat stakers kry, is dit seker geen wonder daar word so maklik na ‘n verskoning gegryp om te staak nie.  Dit gaan oor mag, die griewe is net ‘n bysaak.  Siende dat die griewe elke jaar meer onredelik raak, word die stakings net langer en langer. 

Stakings gaan deesdae nie meer daaroor om die werkgewer lam te lê nie.  Die onskuldige publiek moet ook ly.  Die idee is seker dat hulle druk op die werkgewer moet sit om sy eie keel af te sny.  Van waar ek sit lyk dit nie na ‘n baie suksesvolle poging nie.  Stakers het al lankal hulle simpatie onder die publiek verloor.  Eise word jaarliks meer onredelik en dit is bloot nie moontlik om daaraan te voldoen nie.  Almal weet dit, maar nogtans sal daar maande lank gedans word tot die honger hulle terug dryf. 

Ek wonder tog partykere wat die stakers aan hulle kinders verduidelik.  Ek neem aan die groot base word blameer, maar tog is dit die stakers wat kies om nie te werk nie en dus met die besluit verdien hulle nie geld nie.  Word hulle gesinne ooit in oorweging gebring daarmee?  Aan die anderkant, hoekom sal daar daaroor bekommer word.  Iemand sal wel gaan kos uitdeel en daarmee die stakers in hulle kwaad strek.  Aan die anderkant, die gesinne het nie gesondig nie. 

Dit is vir my opmerklik dat Solidariteit en Afriforum meer en meer deesdae probeer om ‘n staking oor siviele sake te reël.  Is dit regtig die enigste manier?  Ons weet tog die regering gaan voortploeter ongeag enige iets wat mense doen.  Of is dit jaloesie oor die mag wat Cosatu, Numsa en vennote kry wanneer hulle ‘n staking roep. 

Daar was seker ‘n tyd wat ‘n staking ‘n geldige protesaksie was.  Hoewel, die oorvloed daarvan het daarvan net ‘n boelie gemaak.  Een wat intimideer om sy sin te kry.  En die enigste manier om ‘n boelie op sy plek te sit, is om nie vir hulle intimidasie te val nie. 

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Watter land se grondwet het in 1917 die inwoners die reg om te staak gegee het? 

Breinlosbrand:  Doringrosie.