Tyd Koop

3 10 2012

Soms is dit ‘n seën dat ‘n dag net 24 uur het waardeur ‘n mens moet worstel.  Tog is daar dikwels die dae wat jy wens jy kan daardie 24 uur op een of ander manier vermeerder.  Daar is doodeenvoudig net te veel dinge wat gedoen moet word.  Helaas word die “moet doen” altyd hoër geag as die “wil doen”.  Wie was die swernoot wat besluit het tyd kom voor plesier?

Alhoewel, siende dat ek ‘n opportunis is en boonop ‘n tweeling het wat net so ‘n drastiese te kort aan tyd het, kan ek (ons) nie help om ‘n gulde besigheidsgeleentheid te sien nie.  Gestel nou ‘n mens kan tyd koop of in ons geval dit verkoop.  Daar is natuurlik ‘n klein tegniese probleempie van hoe ‘n mens die tyd gaan kwantifiseer of verpak.  Tyd is nou nie iets wat jy met jou twee hande kan hanteer nie.  Die hoe is egter ‘n klein prys om te betaal vir iets waarmee jy in luuksheid gaan aftree.  Ek meen, as alles anders misluk, kan ons altyd vir Vader Tyd gaan gyselaar hou.  Wel, ons wil graag ‘n konstante kontantvloei hê.  Dalk kan ons hom verlei met ‘n drankie of ‘n geleentheid om sy stories te vertel. 

In elk geval, ons is nog besig om dit uit te werk.  Dit is nogal ‘n uitdaging, siende dat ons tyd ook met allerhande ander strooi opgeneem word.  Half ironies – ons het nie die tyd om te leer hoe om tyd te manipuleer en te kope aan te bied nie.  Ag wat, ek slaap tog net tussen 2 en 4 in die oggende. 

Grappies op ‘n stokkie, waarvoor sal die mens graag tyd wil aankoop?  Voor die handliggendste is seker diegene wat terminaal siek is en graag ‘n ruk langer op aarde wil deurbring.  Sal dit eties wees om aan hulle tyd te verkoop?  Ek wil aftree, nie my siel verloor nie.  Dit voel nie reg om iemand se laaste paar sente te vat om hulle lewe ‘n bietjie te rek nie.  Ek sou maar ‘n arm dokter gewees het.  Aan die anderkant, is dit reg om iemand langer op aarde te hou as wat bestem was?

Die idee om tyd te verkoop was nie veronderstel om ‘n saak van lewe en dood te wees nie.  Net om gewone sterflinge se dag te verleng.  Waarvoor sal die gewone, gemiddelde mens die tyd aanwend?  In ‘n ideale wêreld sou al die gekoopte tyd vir die “Wil Doen” aangewend word.  Tog, soos dinge reeds staan, gaan die “Moet doen” dit seker opeis soos wat dit aangeskaf word.  Nie ‘n gesonde stand van sake nie. 

Die waarheid is dat ons moet veg vir ons “Wil Doen”, want “Moet Doen” gaan altyd opslurp soveel as dit kan.  Meer tyd gaan dit nie verander nie. 

Gelukkig is daar iets soos ‘n vrye mark, waar aanvraag en aanbod hooggety vier.  Dit gaan my sak help hoe meer tyd elke mens aankoop.  Sou ons nie die tegniese probleempie kan aanspreek nie, kan ons altyd motiveringsboeke skryf.

Breinvasbrand:  In ‘n skrikkeljaar, hoeveel dae meer is daar as 52 weke?  (Soos in 52 weke en x dae vir die volle jaar).

Breinlosbrand:  Olga was reg met Pride and Prejudice.


Aksies

Information

4 responses

3 10 2012
gerdajansen1

52 weke en 2 dae.
is dit altyd tyd wat die ‘wil doen’ kelder?😉 dikwels is dit ook maar geld.

3 10 2012
Gogga

Ek het onlangs ‘n film gekyk waar jou Lewe aan tyd gekoppel was. Die konsep vervang geld met tyd en dit laat jou nogal dink aan al die goed wat jy hier bo noem. Ek dink altyd as jy vir tyd wag vat dit lank en as jy daaroor terugdink dan is dit vinnig

3 10 2012
Olga

‘n botteltjie tyd. Gr8. Ek staan eerste in lyn. Maar soos ek jou en jou tweeling ken, sal gn mens dit kan bekostig nie.

5 10 2012
JWW

Wel, tyd is slegs ‘n mensgemaakte idee, in die universe bestaan dit nie…. Maar siende dat mense dit gemaak het, en mense dit gebruik, sal ek ook baie graag van my tyd wat ek by die werk moet sit VERKOOP aan julle, cheap – dan koop ek weer NA werk tyd om te kan braai en kuier en so aan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: