Aanpassings

2 10 2012

Een van die grootste voordele van enkellopend wees, is dat jy niemand anders in gedagte moet hou nie.  Jy kan doen wat jy wil, wanneer jy wil en met wie jy wil.  Wat dit outomaties een van die grootste nadele maak om van getroud te wees.  En seker een van die moeilikste goed om deur te werk nadat jy voor die kansel was.  Dit is nou as jy tot voor die troue wag om soos getroudes saam te lewe. 

Ek het al dikwels my mond uitgespoel oor kinders wat wil trou.  Daar is natuurlik ‘n ander kant ook, hoe ouer jy word, hoe moeiliker gaan dit wees om met iemand anders aan te pas.  Tog, ongeag van ouderdomme, is daar twee individue wat uit verskillende families (met hulle eienaardighede en tradisies kom).  Elkeen het ‘n verskillende verwysingsraamwerk en het verskillende verwagtinge.  Ek dink dit raak nog erger gegewe die bagasie wat elkeen saam met hom / haar bring en as daar nog verskillende gelowe en kulture betrokke is. 

Dan is daar nog elkeen se verskillende voorkeure.  A dink niks daarvan om ‘n hele Saterdag in nagklere te bly nie.  Daarmee saam word daar so min as moontlik gedoen.  B haat die idee van vermorsde tyd en vlieg 7 uur op ‘n Saterdag uit die bed om seker te maak alles word gedoen.  A kry maklik koud, B kry weer maklik warm.  Daar is seker ‘n miljoen voorbeelde wat ek kan noem. 

Punt is dit is alles klein jakkalsies in ‘n wingerd van “verewig en altyd gelukkig saam”.  Nie juis vreeslik romanties nie.  Tog gaan daar derduisende mense elke dag deur die aanpassings en kom seker beter mense anderkant uit. 

Vandag wil ek by julle weet wat was die moeilikste ding om aan gewoond te raak?  Hoe het julle van twee families een geword?  Watter raad het julle aan pas getroudes?  Kan ‘n huwelik uit twee verskillende huise werk?

Breinvasbrand:  Watter boek handel oor die liefdesverhoudig van Elizabeth Bennet en Mark Darcy?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 15 Jan 1929.


Aksies

Information

12 responses

2 10 2012
Loli Pretorius

Dit was nogal vreemd om gewoond te raak aan saam slaap,( ek het na my man se asemhaling geluister.) Dit klink snaaks, maar was , toé romanties. Vandag terg hy my daaroor, as ek sê, hy snork, want waar is die romanse heen van ” ek luister na jou as jy slaap” (mens kan ‘n liedjie daaroor skryf!)

4 10 2012
Loli Pretorius

Askuus nou vir dit Xena, stuur asb ‘n epos adres, en delete die comment. Toorts sê, jy kan raad gee oor WP, meer spesifiek af.wordpress.com, en bv. my comments en posts wat nie verskyn nie en in spam beland ooral?

2 10 2012
charlene2714

Ek en Thilo is 5 en ‘n half jaar saam en ons woon apart. Ons kinders kom goed oor die weg (drie tieners en een laerskool seun). Wanneer ons almal saamkuier of oor naweke dieselfde huis deel, maak almal beurte om op te ruim en skottelgoed te was, ons vra almal om hul volume bietjie af te draai en ons verwag om uitgelos te word as ons voel om bietjie in te lê in die oggend. Ons het nie noodwendig huisreëls of sulke dinge nie. Dit is meer ‘n geval van bedagsaamheid, agter jouself netjies maak en almal in ag te neem.

Verder is ons gelukkig dat daar nie juis konflik is nie. Ons sorteer sommer self dinge met ons eie kinders self uit en wanneer dit nodig is dat ons as ‘n eenheid iets moet uitsorteer, doen ons daai sonder om aanvallend of bakleierig te raak.

Maar op die lang duur, aangesien ons verhouding vir ons so kosbaar is, sien ons nie kans vir die moontlike risiko wat ons kan loop deur saam in te trek terwyl die kinders op skool is nie. Nog so drie, vier jaar, dan is dit ons beurt.

Vir nou werk dinge soos dit werk.

Sien, ek het my eie huishouding en Thilo syne. Ons maak elkeen sy/haar eie besluite. Ons ken egter mekaar in ons besluite, ons bespreek dit. Maar elkeen doen wat nodig is vir sy/haar kinders.

Ek voorsien nie veel van ‘n aanpassing wanneer ons besluit dit is tyd om saam te bly nie, want ons werk regtig so goed saam. Ons manier van doen stem nogal ooreen en dit kom natuurlik.

Byvoorbeeld. Ek maak nie Thilo se huis skoon wanneer ek daar kuier nie. Ek was skottelgoed, help kosmaak, ons maak beurte om die bed op te maak en ek tel my goed op en ruim op. By my huis maak ek weer skoon en Hy help.

Daar is naweke wat ons net lê. Ander naweke is weer super besig. Die ding lê daarin dat ons daaroor praat en besluit wat ons wil doen. Ek staan altyd vroeër op as Hy en dan hou ek my maar besig met watookal. Dit was nog nooit ‘n twispunt nie.

Ons deel ook kostes wanneer ons winkels toe gaan. Soms tel Hy die rekening op, ander kere doen ek dit weer.

Dis seker maar hoe dit werk wanneer mens mekaar se beste vriende is🙂

2 10 2012
lekkerjeuk

Grootmense wat soos volwassenes optree. Dit klink vir my asof dinge vir julle goed uitwerk en in die toekoms nog beter gaan werk.

2 10 2012
MaanKind

Verskillende slaapritmes was moeilik vir ons vandat ons van die huis af werk. Beide is toegeeflik, en dis al manier, as beide partye toegee.

2 10 2012
Toortsie

Daar is maar ou verskilletjies, veral hoe ons oor dinge dink, maar met tyd verander dit tog. My grootste aanpassing? Die ARMOEDE!! Regtig. Dit was ERG!! En ek is ‘n laatslaper en my skoonmense het nog altyd gedink dis ‘n swakheid. O well… deesdae durf niemand meer iets oor my slaapgewoontes te sê nie…

2 10 2012
Olga

Pride and Prejudice
Sewe uur? Goedige vy. Probeer 5vm. om van op te gooi ek belowe jou. Die moeilikste was die toilet bril wat altyd opstaan. Hoekom kan hulle dit nie net weer laat sak nie?
Homer het altyd gordyn beetgekry en eenkant toe geruk. Gn niks in die middel die twee of drie gordyne uitmekaar trek nie. Koffiebeker op die vloer neersit. Reg langs ‘n tafeltjie. Dis genoeg anders tik ek volgende week steeds.

3 10 2012
lekkerjeuk

Voete en bene wat my deel van die bed oorneem. Kommentaar op telefoongesprekke wat ek met familie en vriende gehad het was die heel ergste.

3 10 2012
Twilight

Ja, die feit dat ek iemand anders moet in ag neem sommer in die geheel. Toe ek nog my eie geld verdien het, het ek maklik ‘n groterige aankoop gedoen sonder om my man te ken in die saak of na werk by ‘n vriendin gaan teedrink of die sitkamer begin geel verf. Terwyl hy my sou konsulteer oor elke klein detail. Deesdae het ons gewoon nie baie tyd vir sulke in-detail konsultasies nie en ons los mekaar redelik uit. Elke ou het sy gebied en ons sal dit hoogstens vir mekaar noem. Maar ek raak steeds warm onder die kraag as my man op die ingewing van die oomblik by iemand kuier sonder om my darem net in te lig en dan daar vashaak vir ure terwyl ek dink hy is op pad.

3 10 2012
Gogga

My raad is om familie en skoonfamilie so lank moontlik buite die verhouding of huwelik te hou
Maar snork en oop tandepasta buisies het my mal gehad

3 10 2012
brieweuitdievreemde

Twee verskillende kulture: Europees + Suid-Afrikaans… Die moeilikste was om gewoond te raak aan ‘n soort arrogansie wat ‘n mens in die algemeen net nie by S.Afrikaners kry nie, ‘n ingesteldheid van: ‘ek kry altyd my sin, want dis hoe dinge werk’. Dis nou van my kant af. Van die ander kant af, seker die feit dat ek rook.

Die verhouding het nie gehou nie🙂

5 10 2012
Skottelgoedwas Reël Nommer Een « goeienuusloli

[…] nie!!!! Almal se huise is anders. My ma het my nie geleer dat as ek by ander mense kuier, moet ek die skottelgoed was nie. En ek […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: