Sleutelhouers

7 09 2012

Almal het iewers ‘n hopie sleutelhouers.  Dit is gewoonlik gerieflike aandenkings wat nie ‘n appel en ‘n ei kos nie.  Dit is lekker om op iemand se reis onthou te word, maar daar is maar net soveel sleutelhouers wat ‘n mens op ‘n slag kan gebruik.  Iewers in die toekoms sal wel een moet vervang en dan sal daardie hopie handig te pas kom. 

Want kyk, ‘n kaal sleutel is nie net vaal en verbeeldingloos nie.  Dit is onpersoonlik en laat mens amper aan ‘n weeskind (of is dit nou weessleutels) dink.  Niemand het daardie sleutels hulle eie gemaak nie.  Ondankbaar ook, veral as ‘n mens in ag neem hoe verlore mens sonder jou sleutels is.  Sleutels raak immers JOUNE met die sleutelhouer/s en maatjies wat jy aan die stel gee. 

Ek het basies 4 paar sleutels.  My kantoorsleutels is seker die mees onpersoonlike en noudat ek daaraan dink sal ek seker ‘n plan moet maak.  Die bossie sleutels het ‘n branderplank al die pad van Australië af op.  Verder het dit die sleutelhouer van een of ander diensverskaffer op.  Bloot omdat die kontak nommer daarop was en ek te lui was om iewers daarvan ‘n aantekening te maak.  As ek hulle die dag moet kontak, kyk ek net op my sleutels. 

My karsleutels het ‘n leersleutelhouer met my voorletter op.  Dit was spesiaal vir my kar gekoop, lank voordat ek ‘n kar gehad het.  Ek was ten tye nog ‘n student gewees en my gesin het dit vir my by ‘n skou gekoop.  Dit was amper ‘n geval van verskaf self die kar.  😆  Toe ek wel later ‘n kar gekry het, het ek dadelik na die sleutelhouer gaan soek vir die sleutels.  Ek het ook die houer verwyder toe ek my eerste kar laat gaan het en dit dadelik opgesit toe ek my volgende kar in ontvangs geneem het. 

My derde stel sleutels is my huissleutels.  Ons het in die koshuis ‘n geneigdheid gehad om soveel as moontlik sleutelhouers aan jou kamerssleutels te sit.  ‘n Geneigdheid wat ek steeds toepas, hoewel die aantal sleutels en afstandbeheerders dit moeiliker maak.  Daar is nogtans ‘n paar kameelperde en ‘n skulp op die sleutels. 

Die laaste stel is ‘n stel wat ek net by die huis gebruik.  Dit het nogal ‘n baie mooi sleutelhouer op met ‘n feministiese slagspreuk op.  Ek is mal oor die houer. 

Hoe maak jy JOU sleutels JOUNE?  Vertel ons ‘n bietjie van jou sleutelhouers?

Breinvasbrand:  Wie het in Wielie Walie die sleutellied gesing wanneer Bennie ‘n storie moes vertel?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 26 Oktober.


Aksies

Information

6 responses

7 09 2012
MaanKind

My sleutels is aan ‘n eenvoudige ringetjie, sonder ‘n sleutelhouer. Voordeur, agterdeur en garagehek.

7 09 2012
gerdajansen1

ek het net een bos sleutels.voordeur, agterdeur, garage en karsleutels op. aan n ou elektriese paneelboordjie vas.

8 09 2012
Olga

Ek het drie bosse sleutels. Op die Fordjie se bos het ek Mc Gee se leer sleutelhouer. Op die voordeur sleutel met die deur en die veiligheidshek se sleutels is die ringetjie, die ornamentjie self, was ‘n mooi alfabet plaatjie, is al jare gelede weg. Op die agterdeur se bos, dis deur, veiligheidshek, garage en hek se bos het ek net ‘n afstandbeheerder. Tog het ek ‘n kleinhuisie vol sleutelhouers.

8 09 2012
Olga

Die Mc Gee sleutelhouer het ‘n metaalplaat met hulle besonderhede op die leerplakkie. Hopelik as ek die sleutel verloor, sal iemand dit by Mc Gee inhandig as hulle ooit in L;ydenburg kom.

11 09 2012
Toortsie

Al die sleutelhouers wat ek so as geskenke ontvang, gebruik ek. Ek hang een aan elke deur of kas wat ‘n sleutel het en so word ek gereeld aan een van my maatjies herinner wat iewers toe hulle ver op reis was, aan my gedink het.

11 09 2012
freddieburger

Vandat ons in Alaska bly, het ons net ‘n karsleutel. Ons weet nie waar die huissleteuls is nie want ons sluit nooit nie. Sal moet soek of laat maak voordat ons Dinsdag na SA vertrek.

Lewer kommentaar