Raaisels

5 09 2012

Olga het my huiswerk gegee oor die raaisels wat ons in die laerskool vir mekaar gevra het. 

Om eerlik te wees, dink ek die raaisels was ‘n bietjie voor my tyd gewees.  Ek kan regtig nie onthou of ons ooit raaisels onder mekaar gevra het nie.  Ek onthou die sywurmfase en die ruilpapier fase, maar nie ‘n raaisel fase nie.  Het my dalk ontgaan.  Die raaisels wat ek wel ken, het ek of by my ma geleer of in Pieter W. Grobbelaar se “Liewe Lawwe Lollery”. 

In die laerskool was daar baie onderwysers wat gehou het van Bybelvasvrae.  Iewers tussen deur, was daar wel die meer nie-feitlike vasvrae waarvan ‘n paar vasgesteek het.  Ek sal van hulle met julle deel. 

  1. Hoe lank was Petrus?
  2. Hoeveel diere het Moses is die ark geneem?
  3. Wie het nooit sy huis verlaat nie?
  4. Wie was die eerste man in die Bybel wat geskeer het?

Ken julle die antwoorde?  Wat was cool in die tyd toe julle in die laerskool was?

Ek moet die raaisel huiswerk verder uitdeel.  Sal Tannie Gypsie en Tannie Maan asseblief saamspeel?