Michael Clarke Duncan

4 09 2012

As ek ‘n lys moet maak van die mees hartverskeurende tonele in flieks, sal “The Green Mile” ten minste twee plekke op die lys moet kry.  Die een toneel is waar hier reusagtige, growwe swart man – John Coffey – tussen twee bebloede dogtertjie lyke sit en huil soos ‘n baba.  Huil omdat hy hulle nie kon red nie.  Die tweede toneel is waar die stadige, maar merkwaardige Coffey se straf voltrek word.  Al het hy gevra om van die pyn van die wêreld verlos te word en al is daar soveel haat teen hom – die onskuldige man; is hy nogtans bang vir die donker.  Hy vra dan die hoofbewaarder, Paul Edgecomb, met ‘n bewende lip om nie die mus oor sy kop te trek nie, want hy is bang vir die donker. 

‘n Sagmoedige reus, beide fisies en geestelik.  Een wat van die onheiligste misdaad verdink kan word, maar wat geen onskuldige siel kwaad sou kon aandoen nie.  Die rol wat Michael Clark Duncan ‘n bekende gesig gemaak het.  Duncan was vir ‘n Oscar genomineer vir sy rol en wat welverdiend sou gewees het.  Helaas het hy nie daardie erkenning gekry nie. 

Nou sal hy vir altyd as John Coffey onthou word.  Duncan is gister dood nadat sy hart ingegee het.  Hy was 54 jaar oud. 

Rus in vrede.





Lopende begrafplase

4 09 2012

Aborsie is een van daardie onderwerpe wat om vredesonthalwe maar eerder geignoreer moet word.  Daar is baie sterk opinies vir en teen aborsies.  Vir die een kamp is dit ‘n teken van genade en die ander kamp beskou dit as moord van ‘n weerlose babas.  Objektief beskou is daar geldige argumente aan beide kante van die saak.  Wat dit natuurlik ‘n baie interessante onderwerp vir die filosoof in my maak. 

Die “Pro-Choice” kamp argumenteer dat vroue altyd die reg oor hulle eie liggame het en nie geforseer te word om deur die geboorte proses te gaan as hulle nie reg is daarvoor nie.  Die vrou se reg weeg dus swaarder as die van die embrio.  Ek vind dit ironies dat die reg van keuse so laat eers aggressief beskerm word.  Ek meen, vroue het al ‘n reg op hulle liggaam lank voordat daar ‘n baba groei.  Die wêreld sal ‘n baie beter plek wees as hulle regte op daardie punt beskerm en afgedwing word. 

Die “Pro-Lewe” kamp voel weer hoewel die vrou ‘n reg oor haar liggaam het, het die embrio ook ‘n reg op lewe wat nie deur ‘n mens ontneem mag word nie.  Die reg van die embrio word dus gelykstaande geplaas aan die van die vrou al het die embrio nog nie ‘n stem nie.  Die lewe aan die ander kant is nie noodwendig so rooskleurig soos die Pro-Lewe mense wil glo nie.  ‘n Ma wat gedwing word om moederskap te aanvaar, kan die kind se lewe heeltemal verwoes.  Dan praat ons nie eers van die minder as ideale omstandighede wat ‘n weerlose baba moet oorleef, waarby die dood dalk meer genadig sal wees nie. 

Daar is baie grys gevalle, waar ‘n mens die ma maar die beste toebid en uiters dankbaar is dat jy nie in daardie omstandighede is nie.  Daar is egter een ding waaroor die professionele mense eens is.  Aborsie is nie ‘n maklike saak nie.  Dit beskadig wel die liggaam tot ‘n mate en moet eerder vermy word.  Dus aborsies behoort uitsonderlik te wees en kan nie as ‘n gereelde (gerieflike) geboorte beperking gesien word nie.  Hoewel aborsies veilig kan wees, is daar risiko’s wat eerder vermy moet word. 

Aborsies is ook ‘n traumatiese ervaring vir die gemiddelde vrou, die baba wat sy gekies het om nie te hê nie.  Die baba sal die res van haar lewe by haar spook en sy sal altyd weet dat haar keuse hom dood gemaak het.  Weereens, nie iets wat jy sommer op jou gewete wil hê nie.  Veral as jy dit nie kan verdedig teenoor jouself nie. 

Soos reeds genoem, aborsies is nie ‘n maklike saak nie, op die beste kan dit as ‘n traumatiese saak uitgemaak word.  Met die agtergrond was ek uiters geskok om te lees van die sogenaamde “aborsie verslawing“.  Daar is vroue wat voel dat dit opwindend is dat ‘n lewe geskep kan word en dan weer wettig geneem kan word.  So is daar vroue wat al 8 aborsies in hulle lewe gehad het, net omdat hulle kan. 

Dit is siek, baie siek.  Eerstens mors hulle met hulle liggame en het dan geen berou oor die lewe wat hulle beëindig het nie.  Volgens Herriemerrie dui dit op ‘n ongesonde gees.  Ek is seker veronderstel om hulle jammer te kry, maar ek voel hulle hoort in ‘n tronk.  Sulke koelbloedige mense kan nie toegelaat word om met die samelewing te meng nie. 

Wat moet skeef loop in mense se koppe dat hulle ‘n lewe wil skep net om dit te vernietig? 

Breinvasbrand:  Hoeveel wettige aborsies is in 2011 in Suid-Afrika uitgevoer? 

Breinlosbrand:  Selene was eerste reg met Santam.