Dis nie ek nie

28 09 2012

Persoonlik dink ek dat perfeksionisme niks is om oor opgewonde te raak nie.  Of soos ons in ons beste slang sal sê:  perfeksionisme is overrated.  In my ervaring is perfeksioniste nie baie effektiewe mense nie.  Daar word hopeloos te veel tyd en aandag aan onbelangrike besonderhede vermors wat geen verskil aan die uitkoms gaan maak nie.  Dit gaan net die perfeksionis beter laat slaap. 

Ek is nie ‘n perfeksionis nie, allermins.  Ek hou daarvan dat my werk (doen en late) reg is, maar gaan nou nie ‘n halwe dag daaraan spandeer om al my t’s se strepies in te trek of seker te maak al my i’s het kolletjies nie.  Dit is waarskynlik reg (ek meen, wie trek nie dadelik die streep deur die t en sit die kolletjie, kappie ens waar dit hoort nie?) en daar is ander mense wat dit geniet om goed te politoer.  Ek is nie een van hulle nie.  Solank die beginsels en gevolgtrekking reg is, is die res – volgens my – net kosmeties. 

Nee, ek is nie ‘n perfeksionis nie.  Ek het bloot nie die tyd daarvoor nie.  Ek moet egter erken dat daar goed is wat die wit waks uit my kan irriteer.  Goed wat my mal kan maak as ek nie iets daaraan doen nie. 

Soos ys wat lukraak uit die bak geneem word.  Gate orals sonder dat daar ‘n defnitiewe simmetrie, patroon of orde is.  Dit maak nie sin nie en moet as sulks reggemaak word.  Ek kan daarmee lewe as my passasier hulle sitplekke in my kar skuif vir hulle gemak, maar dit pla my as ek alleen ry en die sitplekke het nie dieselfde hoek of afstand nie.  Die sonskerm moet ook toegevou wees as niemand anders dit gebruik nie. 

Kyk, daar is ‘n tyd om dinge te meng, maar dit strek nie tot DVD’s en CD’s nie.  Daar moet elke DVD en elke CD in hulle eie houer wees.  Ek haat dit om twee verskillende tipes te meng.  Ek meen, mens sit tog nie rooibostee en gewone tee in dieselfde houer nie?  Hoekom sal ‘n mens dan pennetjies meng?

Ek kan my hare uit my kop trek as iets wat reguit moet wees, nie reguit is nie.  Ek het nie regtig ‘n probleem met die toilet nie, maar die toiletpapierrol moet reg in die houer wees.  Die “los kant” moet voor die rol wees en nie agter teen die muur nie.  Verder is my plek, my plek en ek gaan omgesukkel wees as iemand dit vat.  En as iemand wat van beter moes weet hulle feite verkeerd kry – toemaar, kom ons los dit daar. 

Ek weet nie wat maak dit van my nie.  Dalk ‘n klein bietjie Obsessief, maar solank dit iemand nie skade doen nie . . .

Het jy sulke irritasies?  Dryf dit jou en / of ander mal?

Breinvasbrand:  In Pretty Woman, waarvoor was Edward bang?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Jeanna Giese. 





Hondsdolheid

27 09 2012

Kyk daar is siektes en siektes.  ‘n Paar wat jy so in die verbygang optel en verloor sonder om jou testament na te gaan.  Daar is die waarvan mens met respek praat, innig bid dat jy nooit ‘n slagoffer word nie, maar as dit jou tref, is dit maar die verloop van die lewe.  Jy probeer jou bes, maar een dood is ons almal skuldig.  Dan is daar die siektes wat die blote gedagte ‘n mens laat gril en waarvan jy hard probeer om nie prentjies te sien nie.  ‘n Voorbeeld daarvan is hondsdolheid, wat natuurlik nie net honde tref nie. 

Dit klink half verkeerd dat ‘n mens hondsdolheid kan kry.  Tog sterf tot 55 000 mense ‘n jaar aan die siekte en amper die helfte van die sterftes kom van Afrika.  Dit is beslis nie een van die maklikste dode wat ‘n mens kan hê nie. 

Die siekte is deel van die Rhabdo familie virusse.  Dit word gewoonlik deur die speeksel van ‘n besmette warmbloedige organisme oorgedra na ‘n ander warm bloedige organisme.  Soos wanneer jy die oulike meerkatjie se koppie wil krap en die mal ding byt jou.  Of die simpel hond lek die wond op hand.  Alles natuurlik net van toepassing as die dier binne ‘n paar dae mal is of iewers stokstyf bene in die lug gevind word. 

Hondsdolheid kan wel in ‘n groot mate voorkom word deur troeteldiere daarteen in te ent.  Sover my kennis strek moet honde en katte elke 3 jaar ingeënt word in Suid-Afrika en jaarliks in die gebiede wat ‘n hoë voorkoms van hondsdolheid het.  Dit beskerm die diere teen moontlike infeksie, veral omdat mens hulle nie kan oortuig om van diere wat vreemd optree weg te bly nie. 

Mense word gewoonlik beskerm deur ‘n bietjie verstand te gebruik wanneer hulle met diere omgaan.  Diere, selfs geliefde troeteldiere, wat skielike gedragsveranderinge ondergaan moet nie hanteer word nie.  Dit is gewoonlik ‘n skielike aggressie, maar nie noodwendig nie.  Sou iemand deur ‘n dier gebyt of gelyk word, wat dalk hondsdolheid het, moet enige oop wonde vir 10 – 15 minute met seep en warm water gewas word.  Mense moet binne die eerste 10 dae van moontlike infeksie met die entmiddel behandel word.  Die oomblik wat die simptome ontwikkel, is dit gewoonlik verby. 

Die virus wys gewoonlik eers griepagtige simptome, maar dit word binne dae opgevolg met angs, verlamming, verwarring, slapeloosheid, irritasie, paranoia en lei dan op die einde na malheid.  Baie mense (en diere) raak ook bang vir water en dus word die siekte dikwels na verwys as hidrophobia.

Daar is wel mense wat Hondsdolheid oorleef het en agterna die storie kon vertel.  Die behandeling staan bekend as die Milwaukee Protokol.  Dit is omtrent 8 % effektief.  Mense wat hondsdolheid opdoen word hiervolgens in ‘n koma geplaas en dan met verskeie middels behandel.  Die idee is dat die skade aan die brein tydelik is, en ter syde gestel kan word as brein funksie tydelik gestop kan word. 

Voorkoming bly egter nog steeds beter as genesing.

Breinvasbrand:  Wie was die eerste mens wat in 2005 hondsdolheid oorleef het en wie se behandeling gelei het tot die ontstaan van die Milwaukee protokol? 

Breinlosbrand:  JWW was reg met Prime Circle.





Motte stories

26 09 2012

Ek moet erken dat ek nou nie die grootste kenner van Oom Neels (ook bekend as CJ Langenhoven) se werk is nie, maar ek het nogal bewondering vir die man.  Vir die mens wat hy was, nie noodwendig sy werke nie.  Die oom het ‘n paar lewenswyshede gehad wat mens jou ore aan kan uitleen.  Een wat ek vandag wil noem is die gedig “Die mot en die kers“. 

Die mot en die kers
Die ander motte is dom en dwaas,
Maar ek sal vér van die kers af bly;
Hier vér uit die skemerte sal ek kyk,
Hier vér is dit veilig en kyk is vry.

Maar ek hoef nie van éénkant net te kyk –
Ek vlieg op dieselfde afstand om,
Dan weet ek van álkant af hoe hy lyk,
Om beter te sorg om nie nader te kom.

My sirkel was skeef en ingebuig,
Maar dáár ook nog, waar ek naaste was,
Het niks gebeur – ek maak verniet
My velling so groot en so vér van die as.

Die wieletjie draai ál vinniger om,
En die lig en die gloed word ál groter genot:
En die vellings word nouer ál rondom die as –
En die end van die wiel is die as van die mot.

Weereens, die enigste poësie wat ek ken, is die wat ek op skool moes doen.  Siende dat skole min of meer dieselfde doen, verwag ek dat almal wat Afrikaans as ‘n vak gehad het, die gedig behoort te ken.  Helaas is dit nie die geval nie. 

In almal se agterkop is daar darem ‘n begrip van hoe ‘n mot na ‘n kers aangetrek word.  Dit strek selfs sover as dat dit vir die mot baie gevaarlik is om na die kers aangetrek te word.  Tog is die gedig van Langenhoven soveel meer.  Hoe dikwels word die mens nie gekonfronteer met iets wat gevaarlik is nie, hoe dikwels speel hulle tog nie saam nie, vol vertroue dat hulle die gevaar gaan vermy?  Tog, op die einde val hulle tog in die strik wat hulle verseker geweet het hulle gaan vermy. 

Elke paar weke duik daar weer proteste en bekgevegde vir die behoud van Afrikaans op.  Tog moet ek liggies wonder of dit nie meer oor die kans vir ‘n lekker geveg gaan, as oor die liefde van die Taal nie.  Hoe ver is mense bereid om self hand in eie boesem te steek om die taal te ontdek, bewaar en uit te brei?  Jy kan tog nie iets bewaar wat jy nie ken nie en netso kan jy nie iets liefhê wat jy nie ken en goed ken nie. 

Hoeveel moeite doen Afrikaners self om hulle taal te ken en om dit goed te ken?  Hoe leer jy ‘n taal ken?  Is dit in die literatuur?

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wie sing die liedjie met die volgende openingsreëls?

She Comes around like a wild fire, and like a moth drawn to a flame
I’m on my way to being burned up once again.
Breinlosbrand:  Olga was reg met Lenie van Velden. 




Massiewe Mistakes

21 09 2012

Eerstens – ek pleit internet probleme.  Ek voel al soos ‘n internet probleem.  Die huislike een is gelukkig nou beëindig en ek behoort binnekort iets meer betroubaars te hê. 

Gelukkig kan internet probleme met klagtes, dreigemente en kontrakte opgelos word.  Nou nie heeltemal so maklik soos dit klink nie, maar met ‘n bietjie baie geduld kan dit gedoen word.  Ten minste is niemand dom genoeg om met hulle internet probleme te trou nie.  Noudat ek daaraan dink, ek het ook nog gehoor van iemand wat met hulle kar-, huis- of enige ander probleme trou nie.  Dit is bloot net smeek om te sukkel.  Tog is daar mense – baie van hulle – wat dink hulle kan hulle liefdesprobleme oplos deur te trou. 

Volgens die mite, kan ‘n trouring iemand genees van jeukende hande, manipulasie en verneukery.  Die trouring is seker veronderstel om die vark uit die mens te haal.  Helaas is dit baie ver van die werklikheid af.  As iemand hom / haarself nie kan gedra wanneer die deur sonder die hulp van ‘n prokureur gewys kan word nie, gaan alles net vererger.  ‘n Trouring beskerm nie die onskuldige of weerlose nie.  Babas nog minder, maar dit is ‘n ander storie. 

Algemene kennis.  Iets waarmee mense hulle koppe eeue lank stamp, maar blykbaar word die les nie geleer nie.  Duidelik hou mense daarvan om hulle foute huis toe te sleep en dan nog daarmee te trou ook.  Trou word altyd as ‘n vreeslike romantiese daad gesien.  Net miskien moet mens meer sinies daaroor wees.  As jy die ergste verwag en daarmee kan en wil saamlewe, het jy dalk ‘n kans op ‘n gelukkige huwelik.  Van ‘n objektiewe waarnemer op die wal. 

Ek wonder tog – as mense met hulle internet-, kar-, huis- en ander probleme kon trou, sou hulle?  Blykbaar hou die mens maar een maal daarvan om martelaar te speel en swaar te kry. 

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Met wie was CJ Langenhoven getroud?

Breinlosbrand:  Maankind was reg met Melinda Bam.





Media Werk

17 09 2012

Ek het eendag ‘n artikel gelees oor Dolly Parton en plastiese chirurgie.  Sy het geen probleem daarmee dat sy wel gereeld aan haar laat werk nie, volgens haar wil niemand na ‘n ou pruimedant kyk nie.  Wat seker in ‘n mate waar is. 

Ek het ook eendag iewers in ‘n boek gelees dat dit makliker is om ‘n mooi persoon sonder talent op die kamera te laat werk as om ‘n lelike mens met al die talent in die wêreld.  Mens wil so half en half protesteer daaroor.  Dit voel net verkeerd.  Volgens die idioon vergaan mooiheid, maar deug bly staan.  Tog moet ek erken dat ek al wel flieks gekies het juis oor ‘n mooi gesig of maagspiere wat daarin verskyn.  Ja, ek is so vlak. 

Tog is dit ‘n irritasie as iemand in ‘n sterk rol moet verskyn met weinig meer as net voorkoms.  Dit is heel aangenaam om vir die skerm te staar as daar niks anders is om te doen nie, maar as jy die storie moet volg, moet die een met voorkoms dit darem oortuigend doen.  Dit moet natuurlik lyk, die oomblik wat dit na toneelspel lyk – is dit swak.  Ek het al beter akteurs in kleuterskole gesien as in groot begroting projekte. 

Die punt wat ek wil maak is dat daar ‘n stel voorvereistes is vir iemand wat voor ‘n kamera of mikrofoon wil werk.  As iemand ‘n akteur / aktrise wil wees, moet hulle die karakter wat hulle moet wees word.  Dit is waar die nodige talent vir toneelspel inkom.  Dit trek meer aandag as hulle na iets lyk, maar daar is toneelspelers wat nie prentjies is nie en nogtans baie goed doen.  Wanneer iemand net mooi is, moet daar nie veel lyf aan die stuk wees nie.  Dit raak dan skryend. 

Aan die ander kant, jy hoef nie ‘n prentjie te wees as jy agter ‘n mikrofoon inskuif nie.  Jy moet verkieslik ‘n stem hê.  Een waar duidelik en verstaanbaar is.  As jy in radio wil werk, help dit nogal as jy pittig en skerp is.  Dit laat my wonder as ek in die middae per ongeluk op Highveld land of ek ‘n loopbaan in radio kan oorweeg.  Het beslis ‘n radiogesig, is nou nie Mej Persoonlikheid nie, maar as daardie dame met haar sleeptong gewild kon raak, kan ek wragtig ook. 

Duidelik is daar nie presiese riglyne nie.  Wat vir die een ‘n moet is, is vir ‘n ander onnodig.  En dit werk blykbaar, al irriteer dit sommige mense teen die dak uit. 

Dit laat my wonder, gaan alles net oor die X faktor?  En hoe word dit gedefinieer?

Breinvasbrand:  Wie is die huidige Mej Suid Afrika?

Breinlosbrand:  Suid-Afrikaanse Steenkool, Olie en Gaskorporasie.





BOO!!!!!

16 09 2012

 

Hallo Maatjies

:mrgreen:  Ek is op ‘n hekse konkoksie iewers diep in ‘n bos onder die see.  😀  Merriegriet se rekendingetjie wil nie te lekker hier werk nie.  😦  Ekke weet nie of dit ooit weer gaan werk nie, Nimphia sê rekendingetjies hou nie van water nie.  😈  Gmf!!!!  Die skoolheks sê dan alles moet elke dag water drink of hulle gaan dot. 

Tannie Tossel het my huiswerk gegee, maar dit was vakansie en dan hoef ek nie huiswerk te doen nie.  🙄  Sy wou weet wat ek sou doen as ek onsigbaar is.  😯  Ekke het nie so lekker geweet wat onsigbaar beteken nie.  😆  Ek het vir ouma Heldina gevra en sy sê dit is wanneer mense my nie kan sien nie.   😆  :mrgreen:  Ekke is tog altyd onsoenbaar. 

Net grootmense met die harte van kinders kan my tog sien.  😛 

Tata Maatjies





Gautenger in Aksie

14 09 2012

Dit was veronderstel om ‘n doodgewone dag te wees.  Een van daardie wat jy moet deurwroeg om een stappie nader aan Vrydag te kom.  Die dagboek het niks van belang gewys nie, daar was geen spertye nie en daar was geen afsprake nie.  ‘n Dag om op te vang met liasering en die volgende projekte te deur dink. 

Hoewel daar geen haas is nie, trek jy maar jou telefoon nader en begin met die nodige aanvoorwerk.  Dit moet tog een of ander tyd gedoen word en jy het niks beters om te doen nie.  Skielik is dit nie meer ‘n doodgewone dag nie.  Ander mense se verlof begin nou jou krisis word.  Die enigste manier om dit te verhoed is om hulle binne die volgende twee uur te sien.  Aan die anderkant van die provinsie.  Toegegee, Gauteng is nie die grootste provinsie ooit nie, maar dit is die provinsie met die besigste paaie. 

Nou nie dat ‘n mens met so ‘n probleempie sommer tou opgooi nie.  Gryp die selfoon, nodige dokumentasie en soek gou vinnig na ‘n paar visite kaartjies.  Oppad kar toe word die doen lysie na werk onthou.  Heelbo aan die lys is ‘n nodige stop by Engen, die petrolliggie het al twee dae gelede aangekom.  Daar was bloot nog nie tyd om petrol in te gooi nie en net ‘n swaap gooi vroeg die oggend in sodat die kar heeldag petrol kan laat verdamp. 

Effense krisis, maar nou ja.  Dit beteken ‘n pitstop voor die N1 getref word.  Behalwe vir ‘n klein ander tegniese probleempie.  Petrol is nie verniet nie en die nodige kaarte is by die huis.  Dit is nou die tyd om te begin swets.  Vet weet hoekom handsakke nie agter mense kan aanhardloop nie.  Nog ‘n gulsige hap aan die twee ure, maar Murphy is nie gepla met ‘n horlosie nie.  Die resies van die rotte is mos nie veronderstel om maklik of te wel glad te wees nie. 

Daar is nie ‘n ander uitweg nie.  Huistoe jaag, handsak kry.  Sasol toe vir petrol.  Dan die N1 met mannetjies onder die brûe vir ekstra geluk.  Kan dit handle, is ‘n ou Transvaler. 

Alles kon natuurlik verhoed gewees het as die motor vroeër ‘n besoek aan ‘n vulstasie gemaak het.  Soos toe die liggie die eerste keer geflits het.  Of toe die motor die kwartmerk bereik het.  Of as daar ‘n pomp by die huis was. 

Maar dan was dit net ‘n onverwagte afspraak.  Nie ‘n semi-krisis nie.  En dan het ek niks gehad om oor te blog nie. 

Op watter punt maak julle gewoonlik julle karre vol?  Enige spesifieke petrol voorkeur?  Spesifieke tyd van die dag?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan die Akroniem SASOL?

Breinlosbrand:  Vlooi was eerste reg met 6 weke vir elke drie jaar.





Af siek

10 09 2012

Ek het verlede week gegrief gevoel oor PnP se “maybe I’ll forgive you” advertensies.  Iemand het die fliekadvertensie gesien en my vertel wat die konteks daarvan is.  Dit gaan basies oor mense wat maak of hulle siek is om ‘n dag nie te kom werk nie.  Hulle oortreding wat deur die kind vergewe kan word is om te maak of hulle siek is, terwyl hulle eintlik dankbaar moet wees vir hulle gesondheid.  Dit verander die prentjie, maar ek is nog steeds gegrief daardeur. 

Alhoewel, feit bly staan dat baie siekdae wat toegestaan word nie is omdat die aansoeker regtig siek is nie.  “Sick and Tired” vir jou werk is nie ‘n geldige verskoning nie.  Dit is vir my vermaaklik hoe iemand byvoorbeeld die Woensdag en Donderdag af neem om te trek.  Jy weet amper verseker die persoon gaan Vrydag voedselvergiftiging hê.  Ek meen, wie het nou regtig tyd om kos te maak as jy trek?  Die kitshoender is verseker op die spyskaart en dit het nogal ‘n gewoonte om ‘n mens verlief op jou toilet te maak.  Watter redelike mens kan daarmee stry? 

Natuurlik sou jy dokter toe gegaan het, as jy kon knyp tot die spreekkamer.  Siende dat jy nie op jou selfoon mag praat terwyl jy ry nie, is die kanse goed dat jy ook nie mag kots en bestuur nie.  Jy mag dalk net vir dronk bestuur verantwoordelik gehou word.  Al het jy nie eers na drank gekyk nie.  As jy net deur die dag kan kom, sal jy oorleef.  AS!  Dit is nie so maklik soos dit klink nie.  Niemand beny jou nie.  Dit kan met enige een gebeur en niemand wil verder daaroor dink nie.  Al vermoed hulle jy is besig om jou nuwe plek in te wy. 

Soos genoem, daar is daardie siekdae wat seker net die papier waarop dit staan glo wat die rede van afwesigheid was.  Net omdat papier geduldig is.  Daar is natuurlik die ander kant ook.  Voedselvergiftiging kan enige mens op enige dag tref.  Dit klink na net so ‘n flou verskoning as jou ouma wat dood is. 

Hoe gereeld neem jy siek dae?  Het jy al ooit ‘n siekte geveins om nie te kom werk nie?  Wat is die beste siekwees verskoning?  Wat is die een wat nooit sal werk nie?

Breinvasbrand:  Op hoeveel siekdae is iemand geregtig?

Breinlosbrand:  Blommetjies





Sleutelhouers

7 09 2012

Almal het iewers ‘n hopie sleutelhouers.  Dit is gewoonlik gerieflike aandenkings wat nie ‘n appel en ‘n ei kos nie.  Dit is lekker om op iemand se reis onthou te word, maar daar is maar net soveel sleutelhouers wat ‘n mens op ‘n slag kan gebruik.  Iewers in die toekoms sal wel een moet vervang en dan sal daardie hopie handig te pas kom. 

Want kyk, ‘n kaal sleutel is nie net vaal en verbeeldingloos nie.  Dit is onpersoonlik en laat mens amper aan ‘n weeskind (of is dit nou weessleutels) dink.  Niemand het daardie sleutels hulle eie gemaak nie.  Ondankbaar ook, veral as ‘n mens in ag neem hoe verlore mens sonder jou sleutels is.  Sleutels raak immers JOUNE met die sleutelhouer/s en maatjies wat jy aan die stel gee. 

Ek het basies 4 paar sleutels.  My kantoorsleutels is seker die mees onpersoonlike en noudat ek daaraan dink sal ek seker ‘n plan moet maak.  Die bossie sleutels het ‘n branderplank al die pad van Australië af op.  Verder het dit die sleutelhouer van een of ander diensverskaffer op.  Bloot omdat die kontak nommer daarop was en ek te lui was om iewers daarvan ‘n aantekening te maak.  As ek hulle die dag moet kontak, kyk ek net op my sleutels. 

My karsleutels het ‘n leersleutelhouer met my voorletter op.  Dit was spesiaal vir my kar gekoop, lank voordat ek ‘n kar gehad het.  Ek was ten tye nog ‘n student gewees en my gesin het dit vir my by ‘n skou gekoop.  Dit was amper ‘n geval van verskaf self die kar.  😆  Toe ek wel later ‘n kar gekry het, het ek dadelik na die sleutelhouer gaan soek vir die sleutels.  Ek het ook die houer verwyder toe ek my eerste kar laat gaan het en dit dadelik opgesit toe ek my volgende kar in ontvangs geneem het. 

My derde stel sleutels is my huissleutels.  Ons het in die koshuis ‘n geneigdheid gehad om soveel as moontlik sleutelhouers aan jou kamerssleutels te sit.  ‘n Geneigdheid wat ek steeds toepas, hoewel die aantal sleutels en afstandbeheerders dit moeiliker maak.  Daar is nogtans ‘n paar kameelperde en ‘n skulp op die sleutels. 

Die laaste stel is ‘n stel wat ek net by die huis gebruik.  Dit het nogal ‘n baie mooi sleutelhouer op met ‘n feministiese slagspreuk op.  Ek is mal oor die houer. 

Hoe maak jy JOU sleutels JOUNE?  Vertel ons ‘n bietjie van jou sleutelhouers?

Breinvasbrand:  Wie het in Wielie Walie die sleutellied gesing wanneer Bennie ‘n storie moes vertel?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 26 Oktober.





Emosionele Afpersing

6 09 2012

Gister toe ek by Pick n Pay instap sien ek die advertensie wat my tot stilstand skok.  Ja, skok.  Ek is vandag terug net om seker te gaan maak my oë het my nie bedrieg nie.  By die ingang is daar ‘n plakkaat om die Bandanas (kopdoeke) wat hulle vir die Sunflower Fund verkoop te bemark.  Die woorde lees:  ” Buy a bandana and maybe I’ll forgive you.  For you may have save my life. “

Bandana dag is een van daardie inisiatiewe wat ek met graagte ondersteun.  Ek koop jaarliks verskeie bandanas, al dra ek dit nie noodwendig op Bandana dag nie.  Dit gaan tog oor die R20 wat ingesamel word met elke bandana.  Ek moet egter eerlik sê – was dit nie dat ek al reeds een gekoop het nie, was ek nou regtig in die versoeking om 2012 uit te sit. 

Daar is min mense wat sal nee sê om die lot van kinders met leukemia te verlig.  Met die helder bandanas in elke Pick n Pay is daar nie veel meer bemarking nodig nie.  ‘n Plakkaat met statistieke, simptome of selfs foto’s help met bewusmaking onder die publiek wat altyd ‘n goeie ding is.  ‘n Paar bekendes en beroemdes en die regte media sal selfs nog meer mense bekeer.  Tog besluit een of ander bemarkingskonsultant om die publiek skuldig te laat voel.

Buy a bandana and maybe I’ll forgive you.  For you may have save my life. “

Hoekom sal ek, jy, Jannie of Sannie afhanklik wees van die vergifnis van ‘n kankerlyer?  Ek verstaan nie wat vergifnis met die saak te doen het nie. 

Die gewone persoon wat vinnig by Pick n Pay inhardloop, deel nie leukemia uit soos lekkergoed nie.  Dit is dus nie die gewone lid van die publiek se skuld dat daar kinders is wat bloedkanker het nie.  Die algemene publiek weerhou nie die lyers van die behandeling of versorging wat hulle nodig het nie.  Die gewone man op straat sal waarskynlik alles in hulle vermoë doen ‘n lyer te help waar hulle kan. 

Nou het iemand gedink hulle is verskriklik diep en wil nou almal op ‘n skuldreis sit om die bandanas te koop.  Met iets wat glad nie van toepassing is nie.  Die skoen pas nie, maar die insinuasie is steeds aanstootlik. 

So ja – in protes wil ek graag my beursie toeklap.  Tog dink ek nie dat enige lyer so ‘n truuk sou probeer het nie.  En dit is hulle wat die geld nodig het, nie die organiseerders nie.  Aan die ander kant, die organiseerders is dalk verwaand genoeg om te dink dat hulle afpersery help.

Hoe voel julle daaroor?

Breinvasbrand:  Wanneer is Bandana dag 2012?

Breinlosbrand:  Selene was reg met 77 771.