We don’t need no education

30 08 2012

Ek het eers my oë gerol toe ek hoor daar is nou weer ‘n onderwyskrisis in die Noord-Kaap.  Ek meen, wie nie.  Dit was dalk ‘n goeie ding, ek dink die rollery het my oë ‘n bietjie stywer vasgeskroef voordat dit uit my kop kon val. 

Die keer was dit nie die Departement of selfs die Minister van Onderwys se skuld nie.  Nee, die keer is dit die ouers wat reken die burgermeester griewe weeg swaarder as hulle kinders se opvoeding.  Dit is belangriker om die kinders te misbruik vir protes as om iets in hulle koppe te kry.

Sedert die diamand stormloop verby is, word daar nie juis veel van die Noord-Kaap verwag nie.  Hulle het van die laagste matriekslaagsyfers in die land.  Hulle is boonop ook een van die armste provinsies in die land.  Dit is te verwagte, so al asof iemand niks meer van die mense van die dorre area verwag nie.  Ek is seker onregverdig, dit wat ons daar sien kon in enige provinsie in die land gebeur het.  Ek kon egter nie die ironie miskyk nie. 

Om hoeveel brandvleisvure word daar daagliks besluit dat die dom ******* te onopgevoed om die land te laat werk.  Elke jaar word veral die swart jeugdiges aangemoedig om “further education” te kry.  In die twee uiterstes, lê opvoeding en dus ook onderwys in die middel.  Onderwys wat ‘n gerieflike politieke speelbal is en te lekker deur elkeen met ‘n voet geskop kan word.  Feit bly staan dat Suid-Afrika se heil in die onderwys gesetel is.  Dit is immers ook die mening van verskeie redelike gesaghebbendes. 

Selfs die regering het dit in hulle dik koppe gekry.  Hulle gooi elke jaar die grootste deel van die begroting in onderwys in.  Toegegee, daar is seker meer onderwys nodig voordat die fondse aangewend sal word om goeie resultate te kry.  Daar kan baie gesê word oor ons land se onderwys stelsels, maar een ding staan soos ‘n paal bo water uit.  Die beste onderwysstelsel in die wêreld beteken niks as die leerders nie daarvan gebruik maak nie.  Opvoeding en opleiding is nie net gee nie, iemand moet ook neem. 

Ek raak nou vreeslik filosofies, maar ek het regtig iets te sê.  Siende dat die land se toekoms in onderwys lê, dink ek Suid-Afrikaners is hopeloos te ongeërgd waar dit onderwys aangaan.  Dit is makliker om die stelsel aan te val as om self verantwoordelikheid te neem.  Ek meen waar het jy gesien dat omdat die gemeenskap nie van die burgermeester hou nie, word verskeie skole in die gebied gesluit?  ‘n Gemeenskap wat allermins kan bekostig dat hulle kinders nie skool gaan nie?  Dit is genoeg om jou polse te begin vreet. 

Dit is egter nie net in die agtergeblewe gebiede waar die mense die voorreg van onderwys afskiet nie.  Skool het ‘n grap geword in alle gemeenskappe.  Die klem is op proteste, sport, pret, – op alles behalwe om iets in die leerders se koppe te kry.  Kyk hoe haal baie ouers hulle skouers op as die kinders ‘n dag van skool mis.  Dit maak bloot net nie saak nie. 

Skool – soos in akademie – is doodeenvoudig nie meer ‘n prioriteit nie.  Die slapgat mentaliteit wys en nie net op die skoolbanke nie.  As jy jou verantwoordelikheid op skool opsy skuif, wat gaan jou eendag ‘n goeie werker maak?

Dit bring ons by ‘n slapgat Suid-Afrika.  Kom ons raai hoekom.

Breinvasbrand:  Uit watter lied kom “We don’t need no education”?

Breinlosbrand:  Gerda was reg met Central Intelligence Agency.