‘n Kwessie van Tyd

27 08 2012

Ek het eendag iewers gelees dat die mens nie regtig die omvang van tyd besef nie.  Ons ervaring daarvan is net te beperk.  Selfs iemand wat ‘n 100 jaar oud word, is maar ‘n kers teenoor miljoene aarde wat die aarde bestaan en sal voort bestaan.  

Ek dink darem die gemiddelde mens besef dat geen mens tyd kan beheer nie.  Dat ons tyd op aarde maar beperk is en nie onnodig verkwis kan word nie.  Die meeste van ons verstaan ook maar te goed dat daar net 24 uur in ‘n dag is en dat dit telkens hopeloos te kort is.  Die gevolg is dat daar baie oordeelkundig met tyd te werk gegaan moet word.  Daar moet geprioriseer word, daar is tog dinge wat gedoen MOET word.  Dikwels is dit nie dieselfde as die dinge wat ons WIL doen nie.  Die wil-doen word dikwels agterweë gelaat, plig kom immers voor plesier. 

Ek praat nou natuurlik van die tyd wat ons aan ons familie en vriende spandeer.  Heel dikwels word werk en ander verpligtinge voorgehou, wat tyd vreet soos ‘n larwe.  Natuurlik sit dit die brood en botter op die tafel, maar daar kan altyd ‘n plan gemaak word wanneer dit nodig is.  Mens kan altyd ‘n plan maak om by ‘n verjaarsdag, verlowingspartytjie en troue uit te kom.  Daar word eenvoudig tyd gemaak.  Les bes – daar is altyd tyd vir ‘n begrafnis.  Waar die persoon aan wie die tyd afgestaan word, nie eers bewus is van die teenwoordigers. 

Ironies? 

Of net skynheilig? 

Ek wonder, as iemand ‘n keuse gegee word, sal hulle verkies dat hulle roubeklaers 2 of 3 ure aan hulle begrafnis moet spandeer of om eerder die 2 of 3 ure te gebruik wanneer die persoon nog lewe? 

As ek dit ‘n stap verder kan neem . . . saam met wie sal jy die tyd van jou begrafnis wil spandeer?  Vir watter rede sal jy eerder die begrafnistyd wil gebruik?  Sal jy tyd kan inruim voordat jy in die kis lê om jou naastes te waardeer?

Breinvasbrand:  Wie se gevleuelde woorde is dit:  “Dit beteken nie altyd veel om ‘n man van belang te wees nie. Die belangrikste persoon op ‘n begrafnis is die dooi man“?

Breinlosbrand:  Louise Brown