Vir ‘n baba

14 08 2012

Soos julle al teen die tyd weet, is ek op my beste ‘n grootoog kind wat die wêreld oopmond beskou en bewonder.  Wel, dalk is bewonder nie die regte woord nie.  Bevraagteken is dalk ‘n beter beskrywing. 

Ek sal byvoorbeeld altyd in bewondering van ‘n menslike baba wees.  Dit is ‘n paar kilogram potensiaal wat tot enige iets kan ontwikkel.  Aan die een kant is die baba heeltemal weerloos, maar aan die ander kant is die baba soveel sterker as wat ‘n mens kan droom.  Die sielkundiges beweer dat die geboorteproses baie traumaties vir ‘n baba is.  Ek is heeltemal bereid om hulle te glo.  Tog het ek nog nooit ‘n baba gesien wat net opgee of in ‘n hoek gaan sit om bewonder te word nie.  Babas is natuurlik ook pragtig en oulik, maar babas is seker een van die grootste verantwoordelikheid wat enige iemand kan aanneem. 

Oor die ontstaan van babas kan daar seker tot aan die einde van dae gefilosofeer word.  So kan daar byvoorbeeld aangevoer word dat ‘n baba ‘n geskenk van God is.  Ander mense sal jou dalk weer vertel dat ‘n baba ‘n produk van twee mense se liefde vir mekaar is.  Dikwels word ‘n baba as ‘n seën gesien, maar daar is beslis ook tye wat ‘n baba ‘n vloek kan wees. 

As ons nou swart of wit wil wees, is ‘n baba seker maar net die produk van Biologie.  Nie ‘n versekerde produk nie, maar in die regte biologiese omstandighede met die regte biologiese komponente, is daar ‘n beduidende kans dat daar ‘n baba gaan wees.  Beduidende kans, want al is die toestande reg, gaan daar nie noodwendig ‘n baba wees nie.  Die proses is egter biologies en herhaalbaar genoeg om klinies toe gepas te word.  Die suksessyfer is weereens nie gewaarborg nie, maar as jy die geld, tyd en uithoudingsvermoë het, kan jy dalk met ‘n pienk voet beloon word. 

Die blote feit dat babas klinies gekweek kan word, maak ‘n paar blikke wurms oop.  Dit beteken basies dat mense wat nooit hulle eie kinders kon verwek het nie, nou kan besluit om biologiese kinders te hê.  Amper om soos ‘n gesogte item te kan bestel as dit jou hartsbegeerte is. 

Ek dink die meeste mense aanvaar dit as ‘n aanvaarbare keuse vir ‘n man en vrou wat weens een of ander mediese rede nie kan voortplant nie.  Dit maak egter die deur oop vir enige iemand wat ‘n baba wil hê.  Dit is ‘n kans vir homoseksuele mense om hulle eie kinders te hê.  Mense wat te oud is om natuurlik kinders te kan hê, kan soms deur in vitro bevrugting gehelp word.  Enkelopende mense kan kinders kry wanneer dit hulle pas.  Enige iemand – mits jy die fondse, geduld en tyd het. 

Wat mens laat wonder, is dit noodwendig ‘n goeie uitkoms vir die kind?  Aan die anderkant, maak mense wat ‘n doelbewuste besluit neem om kinders te hê nie beter ouers nie?  Hulle het immers die keuse gehad en het nie net een oggend verskrik na die swangerskaptoets gestaar nie. 

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Wie was die eerste proefbuisbaba wat gebore was? 

Breinlosbrand:  Olga was reg met die Afrika Unie.


Aksies

Information

6 responses

14 08 2012
MaanKind

My siening hieroor is te lank om te beskryf! Maar die siel van ‘n baba is sosuiwer, nog ongekontamineer met die mensdom wat dit kort voor lank begin opf, OK opfoeter

14 08 2012
Plasie

Ek dink dit is absoluut fantasties dat daar tegnologie bestaan wat dit kan doen, en ek is 100% ten gunste.
Babas/voorplanting/nageslag is een van die areas waar die man se alreeds brose ego selfs oorskadu kan word deur die vrou s’n. Hierdie tipe tegnologie se fokusmark is ongelukkig juis daar gesetel waar ten alle koste die heersende sentiment is, en dit plaas dit buite bereik van die gewone ou.

14 08 2012
hoendersop

Ek het gesien tot watter uiterstes my buurvrou en haar man bereid was om te gaan om hulle eie baba te kan hê. Buurvrou is nou 5 maande swanger met hulle IVF-baba en ‘n gelukkiger mens het jy nog nooit gesien nie. Aan die ander kant was die proses so klinies dat haar man naderhand gesê het hy voel heeltemal oorbodig – totdat sy vir hom gesê het hy kan kies hoe die babakamer gaan lyk. Nou mag daar net plaasdiere in die babakamer kom – geen wilde diere nie. Probeer jy lap soek wat net plaasdiere op het wat geskik is vir ‘n babakamer – ‘n onbegonne taak.

14 08 2012
demoerin

Wat ek wel weet, is dat ‘n baba ‘n ongelooflike geskenk is. Dit is ongelooflik om die ontwikkeling te aanskou, daagliks iets nuut.
Waaroor ek wel wonder is – babas is so vreesloos. Wanneer in ons lewens leer ons om bang te wees?

14 08 2012
Olga

die feit dat babas so vreesloos is, vertel my God het die mens n vreeslose bestaan gegun. Wanneer het ons dit opge4k?
Kunsmatige bevrugting? Ons was destyds, na verskeie toetse gese dat dit baie waarskynlik is, dat ons nie kinders sal he nie. Dus se ek ‘die doel dien die middele.’ Wees asb net goed vir hulle.

15 08 2012
Sonlig

Ek glo dat kinders geskenke van God is. Ek glo ook dat, as dit nie Sy Wil is nie, geen kunsmatige bevrugtingspoging suksesvol sal wees nie – al is dit teoreties gesproke menslik “gemanipuleer”.

So, ek is 100% vir kunsmatige bevrugting, want ek glo selfs daarin het God ‘n hand. Menslike inmenging kan maar bloot sorg dat die nodige komponente teenwoordig is en die toestande gunstig is. Die sukses is nooit gewaarborg nie.

Net so met die geld. As dit God se Wil is dat daar ‘n kindjie moet wees, sal die geld op ‘n manier iewers bymekaarkom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: