Wanneer ‘n mens met staatsdepartamente te doen het, verwag ‘n mens nie veel nie. Ek jok nou blatant – mens verwag lang toue, bedompige, donker vertrekke en reuke wat ‘n mens eerder sal wil vermy. Jy verwag eindelose frustrasies en mense wat geen idee het wat om te doen nie. Jy verwag die slegste – punt.
Toegegee, dit is nie net in Suid-Afrika wat die landsburgers nie juis simpatie met die staatsdienswerkers het nie. Buitendien, daar is baie staatsdepartamente wat ‘n mens eerder nie nugter moet aandurf nie. Dit is nie net tipies staatsdiens nie, dit is sommer net verby pateties. Tog, is daar departamente wat tog hulle gang gaan en boonop effektief is. So tussen die Onderwysskandale, die gemors van die paaie en die toestand van die hospitale is dit net soms bitter moeilik om dit raak te sien.
Ek moet erken dat ek nog nooit regtig ‘n krisis met Binnelandse Sake gehad het nie. Dit beteken nie dat ek op en af gespring het toe ek vir ‘n paspoort moes aansoek doen nie. Dit is en bly ‘n pyn in die agterent en ek was nie lus vir oë toeknyp, wag vir die ergste en bid vir die beste nie. Almal by wie ek my lot bekla het, het getroos dat dit net 2 weke gaan vat. Klink pragtig, so pragtig soos ‘n feëverhaal. Ek het my tyd goed gekies en die nodige administrasie gaan doen. Hopende vir ‘n wonderwerk het ek die klerk gevra hoe lank ek daarvoor moet wag. 5 – 7 weke was haar antwoord terwyl sy haar epos adres neerskryf dat ek my ID vir haar kan epos.
Twee weke later kry ek die sms dat ek my paspoort kan gaan haal. Verby is die dae wat jy moes 6 weke aftel en dan weer in ‘n tou moet gaan val om te hoor of jou boekie gekom het. Verby is die dae wat jy na 6 weke moes bel om te hoor of iemand hulle al verwerdig het om na jou aansoek te kyk. Verby is die dae wat jy die posbus verniet moet dophou terwyl jy vir jou boekies wag. En wragtig, my paspoort was gereed.
‘n Tipiese geval van: “Under promise and over deliver.” Die publiek verwag deesdae ‘n paspoort binne twee weke en hulle KRY dit binne twee weke. Dit is knap gedaan.
Dit laat my wonder oor wat verander het. Dalk Nkosazana Dlamini Zuma wat in die departament koningin gekraai het? Niemand het ooghare vir haar gehad in haar dae van gesondheid nie. Daar was nie veel verwagtinge toe sy Buitelandse Sake oorgeneem het nie en nog minder toe sy Binnelandse Sake oorgeneem het nie. Volgens die publiek was die departament in chaos en kon dit nie erger nie. Niemand het verwag dat dit sal verbeter nie.
Soos ek verstaan het Dlamini Zuma gereeld by die kantore ingeval en sommer self skouer aan die wiel gesit. Blykbaar het dit gewerk. En wie weet? Miskien motiveer dit die departamente van onderwys en gesondheid ook.
Breinvasbrand: Van watter organisasie is Dlamini Zuma in 2012 as die voorsitter aangewys?
Breinlosbrand: Olga was reg met DJ Opperman.
Wie runnik saam?