Vroue in Koue

8 08 2012

Ek wonder partykeer wat het die mense wat die vakansiedae bepaal gedink toe hulle die nuwe Vakansiedae gedoop het.  Vrouedag as ‘n voorbeeld.  Dit word op 9 Augustus herdenk oor die optog wat duisende vroue teen die paswet gehou het.  Maar om dit vrouedag te doen, gee ‘n mens die vryheid om enige waarde daaraan toe te ken.  Mits jy natuurlik vroue daarmee vier. 

So is ons nou op die vooraand van Vrouedag, ‘n dag nadat dit die eerste keer sedert die 60’s in Pretoria gesneeu het.  Dit is nie eers nodig vir my om daaroor te dink nie.  Daar is twee heldinne wat ek vandag wil vier en ek dink beide is baie verdienstelik. 

As ek aan helde dink, is die eerste naam wat in my kop kom, Racheltjie de Beer.  Tydens die Groot Trek, in 1843, het die De Beers se kalfie, Frikkie weggeraak.  Daar was ‘n soek geselskap uitgestuur en die De Beer kinders het gehelp soek.  Rachel en haar boetie het toe van die groep weggedwaal.  Toe Rachel agterkom hulle het verdwaal, het sy ‘n aardvarkgat vir haar boetie gekry.  Sy het al haar klere vir haar boetie aangetrek en hom in die uitgeholde miershoop laat lê.  Daarna het sy die bek van die gat met haar eie liggaam bedek.  Hulle is die volgende dag gekry en Rachel se selfopoffering was nie te vergeefs nie.  Sy het haar lewe gegee om die van haar boetie te red. 

Ek verstaan daar is baie mense wat die geskiedenis van die storie bevraagteken.  Eerlik, ek kan die meriete van die argument insien.  Ek dink nie dit maak juis saak of dit op die waarheid gebaseer of uit iemand se duim gesuig is nie.  Die is ‘n Afrikaner helde storie wat ek wel eendag met my kinders sal deel. 

Die tweede dame op wie ek vandag wil fokus, is Klara Majola.  Ek ken die storie van Klara Majola waarskynlik al net so lank as die een van Rachel de Beer.  Ons het haar beslis meer as een keer op die skoolbanke ontmoet.  In storie tyd, geskiedenis en Afrikaans – laasgenoemde was natuurlik in gedig vorm. 

KLARA MAJOLA

Klara Majola wou haar vader
toe die skemer sak, gaan haal
waar hy, die blinde, hout vergader;
maar Klara Majola het verdwaal.

Klein Klara Majola lê verkluim
in die Bokkeveld se bros kapok,
haar arms en bene bruin
en kromgetrek soos wingerdstok.

Klara Majola, die koue geweld
sif stadiger oor my uit die ruim,
maar nooit sal ek in die Bokkeveld
so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.

Klara se pa was blind, maar kon darem na die kinders kyk terwyl sy vrou in 1950 gaan werk het.  Die spesifieke dag het hy gaan hout soek vir die vuur en Klara het saam met die jonger kinders by die huis gebly.  Teen die tyd wat haar ma by die huis gekom het, was haar pa nog nie terug nie.  Klara het hom toe gaan soek.  Haar ma het later bekommerd geraak en werkers gevra om na hulle te gaan soek.  Hulle roepe is deur die pa gehoor, maar nie deur Klara nie.  Sy is die volgende dag dood gekry.  Volgens ‘n berig van die dag het sy vermoedelik op nat klippe gegly en was sy te koud om weer regop te kom. 

Nog ‘n heldin wat haarself opgeoffer het om iemand te gaan red.  Kan julle egter glo?  Ek het vandag eers besef dat Klara nie ‘n blanke meisie was nie.  Sy was al die jare net as ‘n heldin – wat sy was – vir my voorgehou. 

Dit laat my wonder, maar vir vandag vier ek net die heldinne – vroue van die koue. 

Breinvasbrand:  Wie het die gedig van Klara Majola geskryf? 

Breinlosbrand:  Little Black Dress