Missy Paige

6 08 2012

Verlede week was nogal ‘n goeie week vir Suid-Afrikaanse swem gewees.  Cameron van der Burgh en Chad le Clos is twee name wat nie sommer vergeet gaan word nie.  Roland Schoeman ook nie – kyk, as daar die dag wat daar ‘n Olimpiese item vir whine (is die Afrikaans daarvoor neul?) is, gaan hy loshande goud, silwer en brons vat.  Maar dit tersyde. 

Vrydagaand sien ek toe dat Chad le Clos veronderstel is om net na Noot vir Noot te swem.  Ek moet tog seker ten minste een Olimpiese item kyk en siende dat ek in elk geval niks beters het om te doen nie, besluit ek maar om vir Chad te kyk.  Almal praat van daardie 0.05 sekondes waarmee hy goud voor Michael Phleps se neus weggesteel het.  Dit is weer hy teen Phleps en enige iets kan weer gebeur.  Tipies, sweer die uitsaaiers weer saam en toe hulle oorskakel, is dit beslis nie die mans vlinderslag item op die skerm nie. 

Dit is eers een of ander vroueswem item – ek het nie juis opgelet wat nie.  Swem is swem in my boekies.  Ek het maar so met ‘n halwe oog gekyk en gesien dat die poppie van Amerika gewen het.  Siende dat geen Suid-Afrikaner gewen het nie, was dit vir my maar om ewe wie wen.  Toe hoor ek iets wat my dadelik ‘n aanhanger van ‘n Amerikaanse swemmer gemaak het. 

Haar naam is Missy Franklin.  ‘n 17 jarige Amerikaner van Denver wat pas haar tweede goue medalje in haar eerste Olimpiese spele ingepalm het.  As ‘n amateur! 

In vandag se sportmal wêreld is amateursport – wel, net vir drawwers en fietsryers bedoel.  Die meeste sportgeesdriftiges is met ‘n drankie in die hand voor elke sport uitsending voor die TV.  Dit help hulle nou nie juis om na sport geesdriftiges te lyk nie.  As jy naam wil maak in sport, doen jy sport vir ‘n lewe. 

Mej Franklin het daardie idee ‘n bietjie nek omgedraai.  Sy is nog steeds by dieselfde afrigter as wat sy as ‘n 7 jarige gehad het.  Sy gaan selfs nog skool en is beplan om na skool te gaan swot.  Sy bedank egter alle prysgelde en borgskappe om te verseker dat sy ‘n amateur bly. 

Missy het ook moed, iets wat ek in enige mens kan waardeer.  Haar ouers is Kanadese en Missy het dubbele burgerskap.  Toe dit begin blyk het dat sy dalk Olimpiese drome kan droom, wou haar ouers hê dat sy vir Kanada swem.  Juis omdat dit daar makliker sal wees om die swemspan te haal.  Sy het egter besluit dat sy in haar hart ‘n Amerikaner is en sy sal vir Amerika swem of glad nie. 

Dan gaan wen sy boonop nonchalant 2 individuele goue medaljes.  Dit sit nie in enige een se broek nie, of jy nou nommer 13 voete het of nie. 

Wow!

Breinvasbrand:  Watter jaar het Penny Heyns twee goue Olimpiese medaljes gewen?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Roseanne Bar

(Verskoon die posts wat Vrydag in die slag gebly het.  Eers het my internet nie gewerk nie en toe het ek nie gewerk nie).