Prioriteite

2 08 2012

Almal het seker al die epos gesien wat jou vra om ‘n aantal diere van jou gunsteling tot die een waarvan jy die minste hou te rangskik.  Die diere is:  ‘n vark, ‘n skaap, ‘n tier, ‘n koei en ‘n perd.  Hoe jy die diere rangskik, bepaal glo jou prioriteite in die lewe. 

My rangskikking en die gedagte daaragter is as volg: 

  • Tier (Dit is pragdiere en die enigste een van die lys wat nie ‘n plaasdier is nie.)
  • Koei (Dit is darem bruikbaar vir melk en om die gras kort te hou)
  • Vark (Kan geslag word wanneer die vlieë te veel raak)
  • Skaap (Kan geslag word wanneer die vlieë te veel raak)
  • Perd (Regtig, ek het ‘n kar.  Wat de hel wil ek met ‘n perd maak?)  (Nota:  As dit ‘n donkie was, was die tier dalk tweede)

Volgens die toets is my prioriteite in die lewe trots (pride), loopbaan, geld, liefde en dan familie.  Wat seker nie baie goed op my weerkaats nie.  Ek sal dit aan julle laat om te besluit of dit waar is. 

Punt is wel dat elke mens ‘n stel prioriteite het.  Elke prioriteit het ‘n ander gewig en die een wat die swaarste weeg is die een wat gewoonlik die hardste roep.  So kry ‘n mense wat alles vir sogenaamde liefde sal opoffer.  Ander mense gooi weer alles in hulle werk in en alles anders kom na dit.  Nog ander laat niks in die pad van hulle geld lus staan nie.  Prioriteite is seker maar ‘n dryfveer wat mens stuur om te doen wat jy doen. 

Ek wonder egter of prioriteite ‘n konstante is.  Ek het eendag ‘n artikel oor Helen Zille gelees van hoe sy haar loopbaan met haar gesin balanseer.  Sy het erken dat sy nie altwee alles elke dag kan gee nie.  Haar loopbaan kom gewoonlik eerste (die grootste prioriteit).  Wanneer een van haar huismense haar egter nodig het, word alles opsy geskuif om daardie een te help.  Wanneer hulle weer geholpe is, is dit terug na haar werk.  Haar prioriteite skuif dus wanneer haar gesin haar benodig. 

Ek is seker sy is nie die enigste nie.  Dalk moet ‘n mens wonder oor wat bepaal prioriteite.  Is dit ‘n kombinasie van dringendheid en belangrikheid – met liefde en lojaliteit wat ekstra gewig aan dringendheid en belangrikheid kan gee?  Dit is tog seker niet net ‘n geval van kies en kies klaar nie.  Met sekere tye of sekere gebeure, kan prioriteite tydelik (dalk selfs permanent?) skuif. 

Hoe voel julle?  Hoe sal jy die diere rangskik?  Wat is jou prioriteite in die lewe?  Maak prioriteite van iemand ‘n slegte of ‘n goeie mens?

Breinvasbrand:  Baie gesinsfilms word familie altyd as die hoogste prioriteit uitgebeeld.  In “Look who’s talking too”, wie is Julie se stem?

Breinlosbrand:  Sonlig was reg met Chad le Clos.