We don’t need no education

30 08 2012

Ek het eers my oë gerol toe ek hoor daar is nou weer ‘n onderwyskrisis in die Noord-Kaap.  Ek meen, wie nie.  Dit was dalk ‘n goeie ding, ek dink die rollery het my oë ‘n bietjie stywer vasgeskroef voordat dit uit my kop kon val. 

Die keer was dit nie die Departement of selfs die Minister van Onderwys se skuld nie.  Nee, die keer is dit die ouers wat reken die burgermeester griewe weeg swaarder as hulle kinders se opvoeding.  Dit is belangriker om die kinders te misbruik vir protes as om iets in hulle koppe te kry.

Sedert die diamand stormloop verby is, word daar nie juis veel van die Noord-Kaap verwag nie.  Hulle het van die laagste matriekslaagsyfers in die land.  Hulle is boonop ook een van die armste provinsies in die land.  Dit is te verwagte, so al asof iemand niks meer van die mense van die dorre area verwag nie.  Ek is seker onregverdig, dit wat ons daar sien kon in enige provinsie in die land gebeur het.  Ek kon egter nie die ironie miskyk nie. 

Om hoeveel brandvleisvure word daar daagliks besluit dat die dom ******* te onopgevoed om die land te laat werk.  Elke jaar word veral die swart jeugdiges aangemoedig om “further education” te kry.  In die twee uiterstes, lê opvoeding en dus ook onderwys in die middel.  Onderwys wat ‘n gerieflike politieke speelbal is en te lekker deur elkeen met ‘n voet geskop kan word.  Feit bly staan dat Suid-Afrika se heil in die onderwys gesetel is.  Dit is immers ook die mening van verskeie redelike gesaghebbendes. 

Selfs die regering het dit in hulle dik koppe gekry.  Hulle gooi elke jaar die grootste deel van die begroting in onderwys in.  Toegegee, daar is seker meer onderwys nodig voordat die fondse aangewend sal word om goeie resultate te kry.  Daar kan baie gesê word oor ons land se onderwys stelsels, maar een ding staan soos ‘n paal bo water uit.  Die beste onderwysstelsel in die wêreld beteken niks as die leerders nie daarvan gebruik maak nie.  Opvoeding en opleiding is nie net gee nie, iemand moet ook neem. 

Ek raak nou vreeslik filosofies, maar ek het regtig iets te sê.  Siende dat die land se toekoms in onderwys lê, dink ek Suid-Afrikaners is hopeloos te ongeërgd waar dit onderwys aangaan.  Dit is makliker om die stelsel aan te val as om self verantwoordelikheid te neem.  Ek meen waar het jy gesien dat omdat die gemeenskap nie van die burgermeester hou nie, word verskeie skole in die gebied gesluit?  ‘n Gemeenskap wat allermins kan bekostig dat hulle kinders nie skool gaan nie?  Dit is genoeg om jou polse te begin vreet. 

Dit is egter nie net in die agtergeblewe gebiede waar die mense die voorreg van onderwys afskiet nie.  Skool het ‘n grap geword in alle gemeenskappe.  Die klem is op proteste, sport, pret, – op alles behalwe om iets in die leerders se koppe te kry.  Kyk hoe haal baie ouers hulle skouers op as die kinders ‘n dag van skool mis.  Dit maak bloot net nie saak nie. 

Skool – soos in akademie – is doodeenvoudig nie meer ‘n prioriteit nie.  Die slapgat mentaliteit wys en nie net op die skoolbanke nie.  As jy jou verantwoordelikheid op skool opsy skuif, wat gaan jou eendag ‘n goeie werker maak?

Dit bring ons by ‘n slapgat Suid-Afrika.  Kom ons raai hoekom.

Breinvasbrand:  Uit watter lied kom “We don’t need no education”?

Breinlosbrand:  Gerda was reg met Central Intelligence Agency.





7 geheime

29 08 2012

Olga het huiswerk uitgedeel en gaan my ore trek tensy ek saamspeel.   Ek hoop sy is tevrede met ‘n gedeeltelike saamspeel. 

Na ‘n paar jaar in die blogwêreld is ek nie so seker watse geheime ek nog kan hê nie.  Laat ek maar probeer en dan kan julle my vertel of dit al ou nuus is. 

  1. Ek was eendag na skool terug na my ou skool sommer net om hier en daar iemand te gaan groet.  Natuurlik moes ek toe so ‘n bietjie verduidelik het wat ek met myself aangevang het.  My een rekeninkunde onderwyseres was vies omdat ek nie ‘n beroep in rekeningkunde gevolg het nie.  My skoolhoof was teleurgestel omdat ek nie onderwys gaan swot het nie. 
  2. Ek het Shrek ore – ek sweer party dae kan ek ‘n kers uit my ore trek. 
  3. Ek het aanlegtoetse op universiteit gedoen wat aangedui het dat ek enige iets onder die son kan gaan doen, maar dat hulle aanbeveel dat ek my aan die akademiese kant oorgee van wat ek ookal wil doen.  Dus – dat ek ‘n dosent moet word. 
  4. Ander mense se boek, CD en DVD rakke fassineer my.  Dit vertel ‘n mens nogal baie van die eienaar.
  5. Ek het al baie genoem dat die mense oor die algemeen my fassineer.  Die mens is ‘n komplekse wese wat dikwels vol teenstrydighede is en dit kan my eindeloos amuseer.  Ek praat nou van eienskappe, nie woordspel nie.  Ek hou nie daarvan as mense net die regte geluide maak nie – dit dui op ‘n verskuilde agenda.  Iets wat die meeste mense het.
  6. Ek ken nog al die woorde van my laerskool skoollied. 
  7. My troeteldiere se name is Robyn en Jamie.  Robyn is ‘n rebel, maar is ook meer oop vir vertroeteling.  Jamie is my bakleier, maar ook die rustiger een van die twee.  Ek is tans in die mark vir ‘n derde troeteldier, maar ek het iets baie spesifieks ingedagte. 

Breinvasbrand:  Waarvoor staan CIA?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Apollo 11.





One small step

28 08 2012

Die naweek het Neil Armstrong op die ouderdom van 82 jaar die aarde vaarwel geroep.  Nou nie die eerste keer wat hy die aarde verlaat het nie, maar die keer sal hy nie weer in die stoflike vorm terug keer nie. 

Neil Armstrong was die eerste man wat in 1969 sy spore op die maan gelaat het.  Hy was op die missie vergesel gewees deur Buzz Aldrin en Michael Collins – die laasgenoemde wat die ruimteskip moes oppas.  Armstrong was 38 ten tye en was ‘n baie ervare vlieënier gewees.  Hy was die een wat die roemryke woorde – One small step for man, one giant leap for mankind – geuiter het en daarmee ook homself in die Geskiedenisboeke gevestig het. 

Blykbaar was dit nie sy eie filosofiese gedagte nie.  Daar was vooraf besluit wat hy gaan sê sou hulle wel op die maan land.  Ten spyte van die ervaring (hallo, die eerste man op die maan), was Armstrong nie juis lus vir die roem wat daarmee saam gekom het nie.  Hy het gevoel dat alles net om geld gedraai het, en het hom meestal onttrek uit die publieke oog.  Hy het later ingenieurswese gedoseer by die Universiteit van Cincinnati. 

Was dit maar net nederigheid van ‘n man wat maar net sy werk gedoen het?  Of was dit skaamte en die onvermoë om blatant te lieg?

Amerika het die ruimtewedloop verloor, deurdat Rusland die eerste land was wat ‘n man in die ruimte gehad het.  Hulle moes iets beters doen om die Russe te klop en hulle name in ere te herstel.  Teen enige prys – waarvan integriteit nie juis hoog is as jy in politiek speel nie. 

Daar is tot vandag toe mense wat aanvoer dat die maan verskriklik baie soos die omgewing van Houston lyk.  Buitendien, waar sou die wind op die maan vandaan gekom het waarin die Amerikaanse vlag gewapper het?  As daar nie atmosfeer op die maan was nie en ook nie iets tussen die aarde en die maan nie, hoe sou daar klank en beeld na die aarde oorgedra kon word.  Ek het selfs eendag ‘n teorie gehoor dat die beeld materiaal wel in Houston geskiet is, net ingeval die maan nie bereik was nie.  Daar was glo ‘n krisis met die beeld materiaal en die voorstelling is gebruik.  😉 Buitendien kon almal sien die maan is nie van kaas gemaak nie. 

Interessant genoeg het niemand sedert 1976 die maan besoek nie.  Seker ‘n aanduiding dat dit nie die aanvanklike koste en moeite werd was nie. 

Maar dit verklaar nog steeds nie – was Neil Armstrong regtig die eerste man op die maan?   

Ek moet erken dat ek heeltemal bereid is om die amptelike Amerikaanse weergawe te glo.  Al was dit dalk net ‘n goeie storie.

Wat dink jy?

Breinvasbrand:  Waarmee het Neil Armstrong op die maan geland?

Breinvasbrand:  Olga was reg met CJ Langenhoven.





‘n Kwessie van Tyd

27 08 2012

Ek het eendag iewers gelees dat die mens nie regtig die omvang van tyd besef nie.  Ons ervaring daarvan is net te beperk.  Selfs iemand wat ‘n 100 jaar oud word, is maar ‘n kers teenoor miljoene aarde wat die aarde bestaan en sal voort bestaan.  

Ek dink darem die gemiddelde mens besef dat geen mens tyd kan beheer nie.  Dat ons tyd op aarde maar beperk is en nie onnodig verkwis kan word nie.  Die meeste van ons verstaan ook maar te goed dat daar net 24 uur in ‘n dag is en dat dit telkens hopeloos te kort is.  Die gevolg is dat daar baie oordeelkundig met tyd te werk gegaan moet word.  Daar moet geprioriseer word, daar is tog dinge wat gedoen MOET word.  Dikwels is dit nie dieselfde as die dinge wat ons WIL doen nie.  Die wil-doen word dikwels agterweë gelaat, plig kom immers voor plesier. 

Ek praat nou natuurlik van die tyd wat ons aan ons familie en vriende spandeer.  Heel dikwels word werk en ander verpligtinge voorgehou, wat tyd vreet soos ‘n larwe.  Natuurlik sit dit die brood en botter op die tafel, maar daar kan altyd ‘n plan gemaak word wanneer dit nodig is.  Mens kan altyd ‘n plan maak om by ‘n verjaarsdag, verlowingspartytjie en troue uit te kom.  Daar word eenvoudig tyd gemaak.  Les bes – daar is altyd tyd vir ‘n begrafnis.  Waar die persoon aan wie die tyd afgestaan word, nie eers bewus is van die teenwoordigers. 

Ironies? 

Of net skynheilig? 

Ek wonder, as iemand ‘n keuse gegee word, sal hulle verkies dat hulle roubeklaers 2 of 3 ure aan hulle begrafnis moet spandeer of om eerder die 2 of 3 ure te gebruik wanneer die persoon nog lewe? 

As ek dit ‘n stap verder kan neem . . . saam met wie sal jy die tyd van jou begrafnis wil spandeer?  Vir watter rede sal jy eerder die begrafnistyd wil gebruik?  Sal jy tyd kan inruim voordat jy in die kis lê om jou naastes te waardeer?

Breinvasbrand:  Wie se gevleuelde woorde is dit:  “Dit beteken nie altyd veel om ‘n man van belang te wees nie. Die belangrikste persoon op ‘n begrafnis is die dooi man“?

Breinlosbrand:  Louise Brown





G’n Kaapplek nie

17 08 2012

Merriegriet het vir my gerok en sy dink ek is te stupid om dit te weet.  👿  Ek het skinder vir haar, ek is die slimste heks wat ek ken.  😡

Merriegriet het gesê ons gaan Kaapplek toe.  🙂  Ekke was bly, ekke hou van die Kaapplek.  Ekke wou met die patrose gaat speel en op die bitch gaan lê.  😈  Ons was op die vliegskip en als. 

😯  Ek weet nie waar Merriegriet ons gevat het nie, maar dit is nie Kaapplek nie.  🙄  Al wat hier is, is reën, wind en water!  😡

GRRRRR!!!!

Laviga, die kwaaiste heksie wat julle ken.





Vir ‘n baba

14 08 2012

Soos julle al teen die tyd weet, is ek op my beste ‘n grootoog kind wat die wêreld oopmond beskou en bewonder.  Wel, dalk is bewonder nie die regte woord nie.  Bevraagteken is dalk ‘n beter beskrywing. 

Ek sal byvoorbeeld altyd in bewondering van ‘n menslike baba wees.  Dit is ‘n paar kilogram potensiaal wat tot enige iets kan ontwikkel.  Aan die een kant is die baba heeltemal weerloos, maar aan die ander kant is die baba soveel sterker as wat ‘n mens kan droom.  Die sielkundiges beweer dat die geboorteproses baie traumaties vir ‘n baba is.  Ek is heeltemal bereid om hulle te glo.  Tog het ek nog nooit ‘n baba gesien wat net opgee of in ‘n hoek gaan sit om bewonder te word nie.  Babas is natuurlik ook pragtig en oulik, maar babas is seker een van die grootste verantwoordelikheid wat enige iemand kan aanneem. 

Oor die ontstaan van babas kan daar seker tot aan die einde van dae gefilosofeer word.  So kan daar byvoorbeeld aangevoer word dat ‘n baba ‘n geskenk van God is.  Ander mense sal jou dalk weer vertel dat ‘n baba ‘n produk van twee mense se liefde vir mekaar is.  Dikwels word ‘n baba as ‘n seën gesien, maar daar is beslis ook tye wat ‘n baba ‘n vloek kan wees. 

As ons nou swart of wit wil wees, is ‘n baba seker maar net die produk van Biologie.  Nie ‘n versekerde produk nie, maar in die regte biologiese omstandighede met die regte biologiese komponente, is daar ‘n beduidende kans dat daar ‘n baba gaan wees.  Beduidende kans, want al is die toestande reg, gaan daar nie noodwendig ‘n baba wees nie.  Die proses is egter biologies en herhaalbaar genoeg om klinies toe gepas te word.  Die suksessyfer is weereens nie gewaarborg nie, maar as jy die geld, tyd en uithoudingsvermoë het, kan jy dalk met ‘n pienk voet beloon word. 

Die blote feit dat babas klinies gekweek kan word, maak ‘n paar blikke wurms oop.  Dit beteken basies dat mense wat nooit hulle eie kinders kon verwek het nie, nou kan besluit om biologiese kinders te hê.  Amper om soos ‘n gesogte item te kan bestel as dit jou hartsbegeerte is. 

Ek dink die meeste mense aanvaar dit as ‘n aanvaarbare keuse vir ‘n man en vrou wat weens een of ander mediese rede nie kan voortplant nie.  Dit maak egter die deur oop vir enige iemand wat ‘n baba wil hê.  Dit is ‘n kans vir homoseksuele mense om hulle eie kinders te hê.  Mense wat te oud is om natuurlik kinders te kan hê, kan soms deur in vitro bevrugting gehelp word.  Enkelopende mense kan kinders kry wanneer dit hulle pas.  Enige iemand – mits jy die fondse, geduld en tyd het. 

Wat mens laat wonder, is dit noodwendig ‘n goeie uitkoms vir die kind?  Aan die anderkant, maak mense wat ‘n doelbewuste besluit neem om kinders te hê nie beter ouers nie?  Hulle het immers die keuse gehad en het nie net een oggend verskrik na die swangerskaptoets gestaar nie. 

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Wie was die eerste proefbuisbaba wat gebore was? 

Breinlosbrand:  Olga was reg met die Afrika Unie.





Gee die duiwel wat hom / haar toekom

13 08 2012

Wanneer ‘n mens met staatsdepartamente te doen het, verwag ‘n mens nie veel nie.  Ek jok nou blatant – mens verwag lang toue, bedompige, donker vertrekke en reuke wat ‘n mens eerder sal wil vermy.  Jy verwag eindelose frustrasies en mense wat geen idee het wat om te doen nie.  Jy verwag die slegste – punt.

Toegegee, dit is nie net in Suid-Afrika wat die landsburgers nie juis simpatie met die staatsdienswerkers het nie.  Buitendien, daar is baie staatsdepartamente wat ‘n mens eerder nie nugter moet aandurf nie.  Dit is nie net tipies staatsdiens nie, dit is sommer net verby pateties.  Tog, is daar departamente wat tog hulle gang gaan en boonop effektief is.  So tussen die Onderwysskandale, die gemors van die paaie en die toestand van die hospitale is dit net soms bitter moeilik om dit raak te sien.  

Ek moet erken dat ek nog nooit regtig ‘n krisis met Binnelandse Sake gehad het nie.  Dit beteken nie dat ek op en af gespring het toe ek vir ‘n paspoort moes aansoek doen nie.  Dit is en bly ‘n pyn in die agterent en ek was nie lus vir oë toeknyp, wag vir die ergste en bid vir die beste nie.    Almal by wie ek my lot bekla het, het getroos dat dit net 2 weke gaan vat.  Klink pragtig, so pragtig soos ‘n feëverhaal.  Ek het my tyd goed gekies en die nodige administrasie gaan doen.  Hopende vir ‘n wonderwerk het ek die klerk gevra hoe lank ek daarvoor moet wag.  5 – 7 weke was haar antwoord terwyl sy haar epos adres neerskryf dat ek my ID vir haar kan epos. 

Twee weke later kry ek die sms dat ek my paspoort kan gaan haal.  Verby is die dae wat jy moes 6 weke aftel en dan weer in ‘n tou moet gaan val om te hoor of jou boekie gekom het.  Verby is die dae wat jy na 6 weke moes bel om te hoor of iemand hulle al verwerdig het om na jou aansoek te kyk.  Verby is die dae wat jy die posbus verniet moet dophou terwyl jy vir jou boekies wag.  En wragtig, my paspoort was gereed. 

‘n Tipiese geval van: “Under promise and over deliver.” Die publiek verwag deesdae ‘n paspoort binne twee weke en hulle KRY dit binne twee weke.  Dit is knap gedaan. 

Dit laat my wonder oor wat verander het.  Dalk Nkosazana Dlamini Zuma wat in die departament koningin gekraai het?  Niemand het ooghare vir haar gehad in haar dae van gesondheid nie.  Daar was nie veel verwagtinge toe sy Buitelandse Sake oorgeneem het nie en nog minder toe sy Binnelandse Sake oorgeneem het nie.   Volgens die publiek was die departament in chaos en kon dit nie erger nie.  Niemand het verwag dat dit sal verbeter nie. 

Soos ek verstaan het Dlamini Zuma gereeld by die kantore ingeval en sommer self skouer aan die wiel gesit.  Blykbaar het dit gewerk.  En wie weet?  Miskien motiveer dit die departamente van onderwys en gesondheid ook.

Breinvasbrand:   Van watter organisasie is Dlamini Zuma in 2012 as die voorsitter aangewys?

Breinlosbrand:  Olga was reg met DJ Opperman. 





Vroue in Koue

8 08 2012

Ek wonder partykeer wat het die mense wat die vakansiedae bepaal gedink toe hulle die nuwe Vakansiedae gedoop het.  Vrouedag as ‘n voorbeeld.  Dit word op 9 Augustus herdenk oor die optog wat duisende vroue teen die paswet gehou het.  Maar om dit vrouedag te doen, gee ‘n mens die vryheid om enige waarde daaraan toe te ken.  Mits jy natuurlik vroue daarmee vier. 

So is ons nou op die vooraand van Vrouedag, ‘n dag nadat dit die eerste keer sedert die 60’s in Pretoria gesneeu het.  Dit is nie eers nodig vir my om daaroor te dink nie.  Daar is twee heldinne wat ek vandag wil vier en ek dink beide is baie verdienstelik. 

As ek aan helde dink, is die eerste naam wat in my kop kom, Racheltjie de Beer.  Tydens die Groot Trek, in 1843, het die De Beers se kalfie, Frikkie weggeraak.  Daar was ‘n soek geselskap uitgestuur en die De Beer kinders het gehelp soek.  Rachel en haar boetie het toe van die groep weggedwaal.  Toe Rachel agterkom hulle het verdwaal, het sy ‘n aardvarkgat vir haar boetie gekry.  Sy het al haar klere vir haar boetie aangetrek en hom in die uitgeholde miershoop laat lê.  Daarna het sy die bek van die gat met haar eie liggaam bedek.  Hulle is die volgende dag gekry en Rachel se selfopoffering was nie te vergeefs nie.  Sy het haar lewe gegee om die van haar boetie te red. 

Ek verstaan daar is baie mense wat die geskiedenis van die storie bevraagteken.  Eerlik, ek kan die meriete van die argument insien.  Ek dink nie dit maak juis saak of dit op die waarheid gebaseer of uit iemand se duim gesuig is nie.  Die is ‘n Afrikaner helde storie wat ek wel eendag met my kinders sal deel. 

Die tweede dame op wie ek vandag wil fokus, is Klara Majola.  Ek ken die storie van Klara Majola waarskynlik al net so lank as die een van Rachel de Beer.  Ons het haar beslis meer as een keer op die skoolbanke ontmoet.  In storie tyd, geskiedenis en Afrikaans – laasgenoemde was natuurlik in gedig vorm. 

KLARA MAJOLA

Klara Majola wou haar vader
toe die skemer sak, gaan haal
waar hy, die blinde, hout vergader;
maar Klara Majola het verdwaal.

Klein Klara Majola lê verkluim
in die Bokkeveld se bros kapok,
haar arms en bene bruin
en kromgetrek soos wingerdstok.

Klara Majola, die koue geweld
sif stadiger oor my uit die ruim,
maar nooit sal ek in die Bokkeveld
so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.

Klara se pa was blind, maar kon darem na die kinders kyk terwyl sy vrou in 1950 gaan werk het.  Die spesifieke dag het hy gaan hout soek vir die vuur en Klara het saam met die jonger kinders by die huis gebly.  Teen die tyd wat haar ma by die huis gekom het, was haar pa nog nie terug nie.  Klara het hom toe gaan soek.  Haar ma het later bekommerd geraak en werkers gevra om na hulle te gaan soek.  Hulle roepe is deur die pa gehoor, maar nie deur Klara nie.  Sy is die volgende dag dood gekry.  Volgens ‘n berig van die dag het sy vermoedelik op nat klippe gegly en was sy te koud om weer regop te kom. 

Nog ‘n heldin wat haarself opgeoffer het om iemand te gaan red.  Kan julle egter glo?  Ek het vandag eers besef dat Klara nie ‘n blanke meisie was nie.  Sy was al die jare net as ‘n heldin – wat sy was – vir my voorgehou. 

Dit laat my wonder, maar vir vandag vier ek net die heldinne – vroue van die koue. 

Breinvasbrand:  Wie het die gedig van Klara Majola geskryf? 

Breinlosbrand:  Little Black Dress





Dit is wit, sag en val uit die lug

7 08 2012

Net in Suid-Afrika!

Wanneer daar wit, donserige goed uit die lug val, is almal buite.  Of ten minste by ‘n venster.  Natuurlik met iets wat ‘n foto kan neem, vir toekomstige geslagte. 

Want as dit soos sneeu lyk, is dit sneeu.  Nie iets waaraan die gemiddelde Suid-Afrikaner gewoond is nie.  Wie weet wanneer daar weer iets soos sneeu uit die hemel gaan val.





In elke kas

7 08 2012

Ek het gister ‘n stukkie op die radio (Jacaranda) gehoor oor wat in elke manstudent se kas behoort te wees.  Ek het iets gevang van ‘n besonderse goeie paar denim, ‘n swart formele baadjie, ‘n harde kraag wit hem en ‘n goeie paar swart skoene met ‘n gordel wat by hulle pas. 

Van tyd tot tyd kry ‘n mens artikels oor wat een of ander guru dink in jou klere kas moet wees.  Dit is gewoonlik uit die oogpunt dat jy darem nie soos Sannie van die plaas moet lyk wanneer jy in die openbaar verskyn nie.  Tog is daar sekerlik ‘n paar standaard items wat elke mens moet hê – vir die wis en die onwis natuurlik. 

Ek moet erken – klere is vir my net ‘n manier om my naakheid te bedek.  Helaas is ek nie in die posisie dat ek sommer net iemand kan stuur om vir my iets te koop nie.  Ek moet maar daardie takie self afhandel.  Ek sal myself beslis nie ‘n modebewuste noem nie.  Dit is dan seker die rede hoekom ‘n denim die eerste moet-hê item is waaraan ek kan dink.  Ek twyfel nogal sterk of daar mense is wat nie ten minste een paar besit nie. 

Ek het al dikwels mense gehoor spot dat jy in iets moet slaap waarmee sonder huiwering by die deur kan uithol as jy moet.  Seker nou nie vir elke aand nie, maar daar moet tog dienbare nagklere wees vir wanneer jy gaste kry of nie in jou eie bed slaap nie.  Helaas gaan almal seker een of ander tyd hospitaal toe. 

‘n Goeie wit bloes / hemp is ook ‘n treffer in my oë.  Veral as jy effens meer formeel moet aantrek, maar nie regtig moeite wil doen nie.  Die hoogte van jou skoen doen ook baie vinnig iets aan die formaliteit van jou voorkoms.  So helaas, elke vrou het ‘n stel hakke nodig.  Verkieslik ‘n paar waarin sy nie haar nek gaan breek of in geselskap gaan neerslet nie. 

Dit is net ‘n paar voorbeelde.  Wat – volgens jou – hoort in elke kas?  Watter klere geheime het jy om met almal te deel?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan LBD?  (engels en seker slang ook).

Breinlosbrand:  Gerda was reg met 1996.