In watter hoek om te baklei

30 07 2012

Beker & Boontjie het iets wat hulle “Conversation Starters” noem.  Wat geduldig op jou piering wag vir wanneer jy jou beker of koppie optel.  Toegegee, van die gesprekspunte is maar flou – baie flou, maar soms is daar iets wat nogal amusant is.  En soms is daar iets wat jou tot toemaaktyd daar kan hou. 

Soos gister, my gesprekspunt was iets in die lyn van as jy in die regsprofessie was, sou jy as ‘n aanklaer of ‘n verdediger wou werk. 

Mens sou dink dit is ‘n maklike a of b antwoord.  Tog as ‘n mens regtig daaroor dink, dan is die antwoord nie so voor die handliggend nie.  Min mense wil aan die kant van die luise wees.  Die meeste van ons sal verkies dat die monsters vir eens en vir altyd uit ons samelewing verwyder word.  Ek vir een sal dan nie in die gereg se kant wil staan om sy loop te gaan nie.  Buitendien hou ek nie daarvan om te verloor nie.  Tog wil ek nie my siel verkoop vir ‘n wen nie. 

Die voorhandliggende antwoord is dus om die aanklaer te wees.  Die een wat die monsters met elke vesel in hulle liggame beveg om seker te maak hulle kry wat hulle toekom.  Dit moet darem lekker wees as jy weet die varkdrel voor jou gaan die res van sy lewe agter tralies deur bring.  Tog, nie almal wat hulle in die verkeerde kant van die wet bevind is slegte mense nie.  Nie almal verdien om tronk toe te gaan nie.  Het ek al genoem ek haat dit om te verloor, maar wil ook nie my siel verkoop om te wen nie? 

Dit laat my dink aan JAG, waar die regslui aan enige kant van die saak toegewys kan word.  Dit was helaas nie ‘n geval van self kies nie. 

Voordat ek die vraag aan julle kan stel, moet ek dit seker self antwoord.  As ek dink iemand hoort nie in die tronk nie, sal ek daardie persoon verdedig.  Dit is nogal ‘n breë konsep, siende dat ek dink dit is belaglik om iemand maande lank tronk toe te stuur vir ‘n klein winkeldiefstal uit honger.  So dink ek ook nie ‘n vrou wat die man wat haar jare lank misbruik het, vrek maak hoort in ‘n tronk nie.  Ek sal mense nie mense in ‘n onheilsnes wil instuur net omdat dit my werk is nie.  Ek moet ook erken ek sal nie ‘n aanklaer kan wees as daar so iets soos ‘n doodstraf is nie. 

Ek sal sulke mense nie kan vervolg nie.  Terselfde tyd kan ek weier – dalk teen my verlies – om kinderverkragters, plaasmoordenaars en pensioenstelers te verdedig.  Ek dink nie aanklaers het daardie keuse nie.  As ek eerlik is, weet ek daar is sake wat ek ‘n veer sal voel wat die uitkoms is.  Veral as dit ‘n lekker argument is, sal geld my wel motiveer om my beste vir enige kant te gee.  Geld praat wel vir die verdediging.  

Ek dink ek sal dus eerder ‘n advokaat vir die verdediging wees as ‘n staatsaanklaer.   

Daar is natuurlik ook die persoon wat moet besluit wie se argumente dra die meeste gewig.  ‘n Baie groot verantwoordelikheid en as jy droog maak, kan jy ander se lewens verwoes.  Eintlik, al maak jy nie droog nie, verwoes jy nogtans ander se lewens.  Die meriete van die saak het ook nie juis te doen met reg of verkeerd nie.  Dit gaan oor die lig wat op die voorval gewerp word. 

Maar dit is ‘n ander storie waaroor jy eers kan besluit as jy jare lank verdedig of aangekla het.  Sou jy eerder ‘n advokaat vir die verdediging wees of sou jy eerder ‘n aanklaer wil word?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan JAG (soos in die televisie program)?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 1908 en 1948.


Aksies

Information

2 responses

30 07 2012
Olga

eerste.
yikes!!!
kan ek net n toeskouer wees?

30 07 2012
gerdajansen1

judge advocate general. ha, ek sal n staatsaanklaer wil wees. veral om valse, tweegesig, skynheilge mense in hulle moer te stuur. al is dit n crime nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: