Persoonlike ondervinding en giftonge

22 07 2012

Hier’s ek weer, hier’s ek weer, met my Merrie voor jou deur.  En tipies, die oomblik wat ek my rug draai is daar toe so ‘n bietjie drama.  Nie dat ek iets teen drama het nie, allermins.  Hier is die opmerking:

Ek het in my lewe nog nooit na so ‘n klomp gemors geluister nie. Wie is enige van julle om klippe te gooi? Meeste van julle het nie eens ‘n krieseltjie clue waarvan julle praat nie. Hoe durf julle veralgemeen? Ek is skaam om julle my medemens te noem. Soveel veroordeling! Wat as die rolle omgekeerd was en julle was in daardie situasie en het deur daardie emosionele tyd geworstel?

Ek was 25 toe dit met my gebeur het. Niemand sou my ooit vir my situasie kon voorberei nie. Ek mis my kind elke dag, maar ek weet ook dat sy in goeie hande is. Sedert dit gebeur het , was ek nooit weer dieselfde nie.

Ons mense is te geneig om te vinnig te oordeel en hul los venynige menings met almal wat wil luister, te deel. Al ooit gewonder, jy wat so op jou pedestal sit en ander veroordeel, watter seerkry julle ongevoelige en oningeligte menings aan ander veroorsaak.

Praat oor onderwerpe waarvan julle persoonlike ondervinding het. Andersins bly stil. Die wat so uitwei oor hoe hulle nooit kan lief wees vir ‘n ander se kind nie, ek hoop dat ‘n aanneemkind of enige kind daar buite wat in nood is vir ‘n liefdevolle familie nooit oor jou pad gestuur word nie.

Rene, Rene – jy het my op “let’s agree to disagree” en “elkeen het ‘n reg tot ‘n mening” gehad tot jou laaste paragraaf.   Ek verwys nie nou na “Die wat so uitwei oor hoe hulle nooit kan lief wees vir ‘n  ander se kind nie” mening nie.  Hoewel ek dink dit doen aansienlik minder skade om vooraf te erken dat jy nie ‘n aangenome kind jou eie kan maak nie.  Voordat jy ‘n baba se lewe verwoes deur voortegee om iets te wees wat jy nie is nie.  Ek dink egter ek het reeds my mening in daardie onderwerp gegee.

Ek wil eintlik gesels oor “Praat oor onderwerpe waarvan julle persoonlike ondervinding het.  Anders bly stil.”  Is jy nou wragtig ernstig?  Dink jy nou regtig dat persoonlike ondervinding die alfa en omega is?

Jy is terloops heeltemal reg, ek was nog nooit in my lewe dat ek moes besluit het wat van my baba moet word nie.  Net so was ek nog nooit in die posisie waar ek ‘n kleuterhandjie in ‘n pot warm olie gedruk het nie.  Ek het nog nooit nodig gehad om my praatwerk met my vuiste te doen nie.  Ek het nog nooit ‘n pistool teen iemand se kop gedruk en die sneller getrek nie.  Ek het nog nooit my dierlike drange op iemand afgedwing of ‘n vrou (of selfs ‘n man) verkrag nie.  Ek het nog nooit gemaak of ek slaap sodat my man ongesteurd my kind sy hoer kan maak nie.  Ek ook nog nooit ou mense se pensioen gesteel om ryk te word nie.

As ek volgens jou idee van moenie bly stil as jy nie persoonlike ondervinding moes lewe, sal ek kindermishandeling moet goedkeur.  Ek sou moord, verkragting, kindermolestering en diefstal moes goedkeur.  Ek sou moes terugsit en die wêreld laat boser en boser word, want ek het nie persoonlike ondervinding nie.

Wat beteken  dit in elk geval?  Verkeerd is nie meer verkeerd as ek dit persoonlik gedoen het nie?

Punt is, self in ‘n lewe waar die grense daagliks vervaag, is daar nog ‘n reg en verkeerd.  As ek ‘n prentjie kan teken, die lewe is eintlik wit en swart, al raak die grys tussen in by die dag meer.  Die grys word basies misbruik omdat mense nie die verantwoordelikheid van hulle dade wil dra nie.  Hulle wil nie erken dat hulle verkeerd gedoen het nie en soek dan nog regverdiging vir hulle optrede in ander.  As hulle dit nie nie kry nie, moet die ander die blaam dra (vinnige oordeel ens.) sodat die sondaar nie sondig voel nie.

Want jy sien, Rene, as mense soos jy die verantwoordelikheid van julle besluite wil dra, sal dit nie vir mense soos ek nodig wees om julle kastaiings uit die vuur vir julle te kom krap nie.  As daar meer mense is wat onthou van reg en verkeerd, gaan daar heelwat minder vet in die vuur wees.

Kom ons kom terug na jou beswaar.  Ek was nog nooit swanger nie.  Juis omdat ek verantwoordelikheid geneem het vir my dade het ek nie drooggemaak en met gevolge gesit wat ek nie kon hanteer nie.  Ek sal wel ‘n ander se kind my eie kan maak.  En ironies genoeg sal ek ‘n vrou kan verdedig wat wel haar baba opgegee het.  Want ek kan wel die ander kant insien.

Punt is, as jy in jou hart geweet het jy het die regte besluit geneem, sou niemand se uitsprake saak gemaak het nie.  Jy sou die verantwoordelikheid van jou besluit kon dra en eendag aan jou dogter kon verdedig het.  Geen ander “regter” maak tog saak nie.  Nogtans wil jy jou verantwoordelikheid ander s’n maak.

In die geval kan jy my van ‘n giftong beskuldig.  Ek het egter die vermoede dat jy persoonlike ondervinding van ‘n giftong in jou mond het.

Breinvasbrand:  In Sonkring, watter karakter se ma het haar by haar pa gelos om van die man ontslae te raak?

Breinlosbrand:  Ek sien nou eers ek het soos my gat gevra.  Ek het Cecil John Rhodes se broer gesoek wat Herbert Rhodes was.


Aksies

Information

21 responses

22 07 2012
MaanKind

Is ek by die regte blog? Ek is ‘n vreemdeling in Jerusalem hier, maar ek het ingeloer.

23 07 2012
Xena Phoenix

Jip. So tussen die gif deur. Ek moet darem ‘n herrie opskop om te wys ek skop nog. 😆

23 07 2012
MaanKind

Jou link is so dof, en my oëe oud, ek het dit misgekyk, toe kon ek nie verstaan waaroor dit gaan nie!

22 07 2012
Olga

Tweeste!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!
Maryna.
“Wat beteken dit in elk geval? Verkeerd is nie meer verkeerd as ek dit persoonlik gedoen het nie?” Whaaaaaa haaaaa haaaa. My feelings exactly. almal wat mos nie bollemakiesie en handstands doen vir bewondering vir wat hulle gedoen het nie, is die vyand. voorwaarts mars, die fight is oop. Free 4 awl.

23 07 2012
Xena Phoenix

Ek dink dinge word heeltemal te veel gesugarcoat. Noem ‘n ding by die naam en kyk die waarheid in die oë.

Dit laat my dink aan “Die staat teen Anna Bruwer.” Anna skiet die man wat haar lank verkrag het dood. Almal het simpatie met haar, maar die punt is dat sy nog steeds die moord gepleeg het. Versagtende omstandighede is daar beslis, maar moord is moord.

En persoonlik is ek net spyt dat sy nie haar ma ook geskiet het nie.

22 07 2012
Son

Ek gaan jou more antwoord op hierdie inskrywing en ook die vorige een hieroor. Op my eie blog. En ek hoop Rene kom lees ook daar. Maar nou gaan ek eers slaap 🙂

23 07 2012
Xena Phoenix

So gesien. 😉

23 07 2012
gerdajansen1

as jy verantwoordelik vat vir jou dade, grootmaak of daarvan ontslae raak met n aborsie of aanneming, en jy kak en kerm heeltyd weet jy jy het nie reg gedoen nie. as n mens oortuig is jy het reg opgetree, smeek jy God en jou ouers, sibbe en ander kinders se vergifnis sit die voorval agter jou en gaan aam met jou lewe. jy vergeet ‘dit’ nie en jy maak nie weer dai fout nie. L.W ek oordeel nie die DAAD OF DIE KEUSE WAT DAARUIT VOORGESPRUIT HET NIE!

23 07 2012
Xena Phoenix

Dit is eintlik ongelooflik. In die geval van Emma was ek teen aanneming. Maar ek het nog die nut gesien om ‘n vrou te stenig wat haar kind vir aanneming opgegee het nie. Ek is heeltemal kapabel om haar te gaan help waar ander haar wil doodgooi.

23 07 2012
Rene

Soos ek reeds gese het julle, veroordeling kom al te maklik. Soos maar net weer bewys hierbo. Dis net altyd ontstellend om te sien hoe erg dit regtig kan raak. En nee, ek soek glad nie simpatie van enigiemand nie, want die keuses wat ek in my lewe daardie tyd gemaak het, soms baie slegtes ook, le voor my deur. Tog in my geval, was die aanneming die beste vir my kind. Maar vir my was dit kak. Vir jare. Weereens, die gevolg van my eie dade.

En nie alle annemings is weggooi nie. Ek respekteer ander se reg op ‘n opinie, maar nie as dit uit die lug gegryp word nie. En alles is nie altyd wit en swart nie, soos ek seker is julle almal weet, soms speel grys ook ‘n rol.

Ek stem saam dat verkeerd met gevolge kom en dat mens in die eerste plek nie die stront moes aanvang nie, maar wie van ons is sonder foute?

Lekker dag vir julle

23 07 2012
Xena Phoenix

Wat jy veroordeling noem, is wat ek filosofeer noem. Bedoelende vra die vrae en probeer dan by ‘n antwoord uitkom. Ek het nog nooit die mening gehuldig dat ‘n vrou wat haar kind vir aanneming opgee op ‘n brandstapel verbrand moet word nie.

24 07 2012
griffel

Dis nou n goeie soldaat. Aanval is die beste verdediging. Jy is reg Rene. Niemand weet wavan hulle praat nie. Jy het mos alleen die fout gemaak. 😉

23 07 2012
gerdajansen1

arme rene. sy het die regte keuse gemaak. sy het van haar kind ontslae geraak. darem deur aanneming nie aborsie nie. laat my dink aan iemand wie ek geken het. sy was destyds n jong weduwee met 2 kinders. hy het binne 2 jaar met haar getrou. toe stel hy sy eis. RAAK ONTSLAE VAN DIE GOED. om hom te behou het sy. een vir haar ma gegee, een laat aanneem en tot met haar dood sy voetmat gewees. deur sy dronk aanrandings op haar en SY kinders gelieg oor waar die wonde en littekens vandaan gekom het. snaaks hoe sy kinders vandag dink die son skyn uit sy gat. en dan vertel hulle jou hoe het hy hulle, klein kindertjies met die vuis geslaan en geskop. gee haar wt haar toekom, sy het probeer keer en dan het hy haar geslaan omdat sy probeer keer het. vandag idolise hulle die luis.

23 07 2012
Olga

luis, inderdaad. Spoeg.

23 07 2012
Vyftig skakerings van grys « Kouevuur

[…] Die Merrie het vir ene Rene aangevat oor haar kommentaar, maar ek dink beide van hulle twee het bietjies te veel oorgehel na die een kant van die saak waarin hulle elkeen so vas glo en so seker is daarvan dat net hulle antwoord reg is. Vir Rene ken ek nie, en Merrie beskou ek as ‘n vriendin, of ten minste baie goeie kennis. Iemand wat ek enige dag in my vriendekring sou wil hê, as sy net so bietjie nader gebly het Ek wil egter nie so ‘n lang kommentaar gaan los op haar blog nie, so ek skryf eerder my opinie hier op my eie werf neer. […]

23 07 2012
Selene Phoenix

Daar gaan ons terug in tyd in! Ha ha ha!! Tweeling… eks besig maar nooit besig genoeg vir sports nie! Jy moes my kom haal het! LOL

”Praat oor onderwerpe waarvan julle persoonlike ondervinding het. Andersins bly stil. Die wat so uitwei oor hoe hulle nooit kan lief wees vir ‘n ander se kind nie, ek hoop dat ‘n aanneemkind of enige kind daar buite wat in nood is vir ‘n liefdevolle familie nooit oor jou pad gestuur word nie.”

Het jy ’n kind aangeneem Rene?

Ja jy sê jy het een laat aanneem, maar daars ’n groot verskil. Mens sal nooit weet hoe dit is om ’n kind te laat aanneem nie, nie totdat jy self daar is nie. Ek vir een sal dit NOOIT kan doen nie!! Altyd wonder… dit sal my einde beteken. Ek hoop regtig jy weet vir \’n feit dat die kind beter af is.

En my Tweeling het vewys na iemand wat heel duidelik in die posisie is om na ’n kind te kyk en te weet dat mens swanger kan raak wanneer jy seks het… as jy weet jy gaan nie ’n goeie ma wees nie, moet dan nie swanger raak nie! Helloooo kondome, diafragma?, pilletjies en as jy moet morning after pill! En as jy nou regtig drasties wil gaan maak dan ’n ander plan en haal uit wat moet uit as jy NOOIT kinders wil he nie! Mens word ook nie elke dag van die maand swanger nie, so gaan maak dan jou sommetjies!

Moenie ’n kind weggee omdat dit nou ’n ongemaklike tyd in jou lewe is nie… maar oor vyf jaar verander jou lewe en DAN soek jy ’n kind!

23 07 2012
turksvy

Mens mag dalk jou kind laat aanneem, daardeur werk en aangaan met jou lewe, maar ek dink dis nie iets wat jy ooit net sal kan vergeet nie. Dan kom jy op ‘n blog waar mense links en regs oordeel, asof dit die grootste sonde is om jou kind op te gee vir aanneming. Dit moet verseker ou wonde weer oopkrap. Alle simpatie, Rene.

24 07 2012
Xena Phoenix

🙄

24 07 2012
demoerin

Sjoe…dit was nou ‘n lekker timetravel…ek sien selfs ek het daar kommentaar gelewer 😆
Ek glo die volgende – dit is jou persoonlike keuse. Solank jy verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Moenie oor 2 jaar ewe bedruk op my skouer wil kom huil oor wat kon gewees het nie. Jou keuses, jou bagasie.

24 07 2012
Xena Phoenix

Demoerin, hierso! ‘n Hele bottel Bells. Dit is presies my punt.

24 07 2012
Toortsie

Wel, na 2 jaar mag ek seker maar uiteindelik my antwoord gee. Jis, maar jy dink taai toffies uit! Ek weet nie of daar ‘n regte of ‘n verkeerde besluit is nie en elke geval is sekerlik anders. Ek weet van kinderlose egpare wat smag na ‘n kindjie om aan te neem. Ek ken mense wie kinders aangeneem het en wat vir hulle goed was. Ek ken ook kinders wie deur nie baie liefdevolle ouers aangeneem is. Ek ken ook kinders wie hulle lewe lank nog smag om te weet wie hulle regte ouers is. ek ken ouers wie hulle kinders “afgegee” het en spyt is daaroor. Ek is regtig trots op ‘n jong vriendinnetjie wat so pas haar studies en alles gelos het omdat sy onbepland swanger geraak het en haar kind self gaan versorg. Maar sou sy anders besluit, sou ek ook haar groot hart bewonder het. (Eintlik ‘n niksseggende antwoord, né?)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: