
Hier’s ek weer, hier’s ek weer, met my Merrie voor jou deur. En tipies, die oomblik wat ek my rug draai is daar toe so ‘n bietjie drama. Nie dat ek iets teen drama het nie, allermins. Hier is die opmerking:
Ek het in my lewe nog nooit na so ‘n klomp gemors geluister nie. Wie is enige van julle om klippe te gooi? Meeste van julle het nie eens ‘n krieseltjie clue waarvan julle praat nie. Hoe durf julle veralgemeen? Ek is skaam om julle my medemens te noem. Soveel veroordeling! Wat as die rolle omgekeerd was en julle was in daardie situasie en het deur daardie emosionele tyd geworstel?
Ek was 25 toe dit met my gebeur het. Niemand sou my ooit vir my situasie kon voorberei nie. Ek mis my kind elke dag, maar ek weet ook dat sy in goeie hande is. Sedert dit gebeur het , was ek nooit weer dieselfde nie.
Ons mense is te geneig om te vinnig te oordeel en hul los venynige menings met almal wat wil luister, te deel. Al ooit gewonder, jy wat so op jou pedestal sit en ander veroordeel, watter seerkry julle ongevoelige en oningeligte menings aan ander veroorsaak.
Praat oor onderwerpe waarvan julle persoonlike ondervinding het. Andersins bly stil. Die wat so uitwei oor hoe hulle nooit kan lief wees vir ‘n ander se kind nie, ek hoop dat ‘n aanneemkind of enige kind daar buite wat in nood is vir ‘n liefdevolle familie nooit oor jou pad gestuur word nie.
Rene, Rene – jy het my op “let’s agree to disagree” en “elkeen het ‘n reg tot ‘n mening” gehad tot jou laaste paragraaf. Ek verwys nie nou na “Die wat so uitwei oor hoe hulle nooit kan lief wees vir ‘n ander se kind nie” mening nie. Hoewel ek dink dit doen aansienlik minder skade om vooraf te erken dat jy nie ‘n aangenome kind jou eie kan maak nie. Voordat jy ‘n baba se lewe verwoes deur voortegee om iets te wees wat jy nie is nie. Ek dink egter ek het reeds my mening in daardie onderwerp gegee.
Ek wil eintlik gesels oor “Praat oor onderwerpe waarvan julle persoonlike ondervinding het. Anders bly stil.” Is jy nou wragtig ernstig? Dink jy nou regtig dat persoonlike ondervinding die alfa en omega is?
Jy is terloops heeltemal reg, ek was nog nooit in my lewe dat ek moes besluit het wat van my baba moet word nie. Net so was ek nog nooit in die posisie waar ek ‘n kleuterhandjie in ‘n pot warm olie gedruk het nie. Ek het nog nooit nodig gehad om my praatwerk met my vuiste te doen nie. Ek het nog nooit ‘n pistool teen iemand se kop gedruk en die sneller getrek nie. Ek het nog nooit my dierlike drange op iemand afgedwing of ‘n vrou (of selfs ‘n man) verkrag nie. Ek het nog nooit gemaak of ek slaap sodat my man ongesteurd my kind sy hoer kan maak nie. Ek ook nog nooit ou mense se pensioen gesteel om ryk te word nie.
As ek volgens jou idee van moenie bly stil as jy nie persoonlike ondervinding moes lewe, sal ek kindermishandeling moet goedkeur. Ek sou moord, verkragting, kindermolestering en diefstal moes goedkeur. Ek sou moes terugsit en die wêreld laat boser en boser word, want ek het nie persoonlike ondervinding nie.
Wat beteken dit in elk geval? Verkeerd is nie meer verkeerd as ek dit persoonlik gedoen het nie?
Punt is, self in ‘n lewe waar die grense daagliks vervaag, is daar nog ‘n reg en verkeerd. As ek ‘n prentjie kan teken, die lewe is eintlik wit en swart, al raak die grys tussen in by die dag meer. Die grys word basies misbruik omdat mense nie die verantwoordelikheid van hulle dade wil dra nie. Hulle wil nie erken dat hulle verkeerd gedoen het nie en soek dan nog regverdiging vir hulle optrede in ander. As hulle dit nie nie kry nie, moet die ander die blaam dra (vinnige oordeel ens.) sodat die sondaar nie sondig voel nie.
Want jy sien, Rene, as mense soos jy die verantwoordelikheid van julle besluite wil dra, sal dit nie vir mense soos ek nodig wees om julle kastaiings uit die vuur vir julle te kom krap nie. As daar meer mense is wat onthou van reg en verkeerd, gaan daar heelwat minder vet in die vuur wees.
Kom ons kom terug na jou beswaar. Ek was nog nooit swanger nie. Juis omdat ek verantwoordelikheid geneem het vir my dade het ek nie drooggemaak en met gevolge gesit wat ek nie kon hanteer nie. Ek sal wel ‘n ander se kind my eie kan maak. En ironies genoeg sal ek ‘n vrou kan verdedig wat wel haar baba opgegee het. Want ek kan wel die ander kant insien.
Punt is, as jy in jou hart geweet het jy het die regte besluit geneem, sou niemand se uitsprake saak gemaak het nie. Jy sou die verantwoordelikheid van jou besluit kon dra en eendag aan jou dogter kon verdedig het. Geen ander “regter” maak tog saak nie. Nogtans wil jy jou verantwoordelikheid ander s’n maak.
In die geval kan jy my van ‘n giftong beskuldig. Ek het egter die vermoede dat jy persoonlike ondervinding van ‘n giftong in jou mond het.
Breinvasbrand: In Sonkring, watter karakter se ma het haar by haar pa gelos om van die man ontslae te raak?
Breinlosbrand: Ek sien nou eers ek het soos my gat gevra. Ek het Cecil John Rhodes se broer gesoek wat Herbert Rhodes was.
Wie runnik saam?