Van Boek tot Fliek

11 06 2012

Ek het al in die verlede genoem dat een van my gunsteling boeke “Plekkie in die Son” van Ena Murray is.  Dit is een van daardie boeke wat elke jaar gelees moet word.  Nou die dag toe ek die DVD raak loop kon dit nie anders nie.  Uit nuuskierigheid koop ek dit dadelik, net om te sien wat hulle daarmee gemaak het. 

Almal weet dat die fliek nooit kers kan vashou met die boek nie.  Ek sal seker ook nooit verstaan hoekom Afrikaanse dramas baie goed met internasionale produksies kan kompeteer, maar Afrikaanse flieks 95% van die tyd gemors is nie.  Ek het ook geweet Ena Murray het nie van die fliek gehou nie. Ook geen wonder nie.  Daar is nie eers ‘n poging aangewend nie. 

Die fliek begin in die middel en eindig ook sommer in die middel van die boek.  Die boek self het 131 bladsye, ek kan nie dink daar soveel saamgepers moes word nie.  Al is die video materiaal van die regte leprose gevalle walglik, dink ek nie die fliek het naastenby die walglikheid wat Karen en die ander leproselyers moes konfronteer vasgevang nie.  Daar is vae verwysings, maar die verstoting van die buitewêreld (uitlanders) was ook maar flou.  Die manlike hoofkarakter se rokery het amper die meeste aandag gekry. 

Die besonderhede wat tussen die boek en die fliek verlore gegaan het, maak my ook lam.  In die boek kom Karen byvoorbeeld van ‘n klein dorpie en in die fliek is sy ‘n ryk stedelike vrou.  Sandra Hough in die boek is ‘n briljante dokter, maar sonder ‘n greintjie menslikheid of deernis.  In die fliek is sy heel beskaaf en toeganklik.  Karen se beste vriendin in die inrigting verskil ook van die in die boek.  Ek vermoed die vervaardigers het probeer om soveel as moontlik groot name op die rolverdeling te kry.  So is daar ‘n skoonma ingebring, wat Otto se ontrou se konteks heeltemal verander het. 

Hoewel ek nou op Plekkie in die Son gefokus het, is die kritiek seker maar dieselfde vir elke boek waarvan daar ‘n fliek gemaak is.  Nogal ironies.  Daar word gesê dat ‘n prentjie ‘n 1000 woorde werd is.  As ‘n gemiddelde boek 50 000 woorde bevat, behoort 50 prentjies genoeg te wees om die boek weer te gee.  Dit werk egter nie.  Hoekom nie?

Dalk omdat ‘n skrywer se verbeelding die enigste beperking op ‘n boek is, maar in ‘n fliek skree tyd en begroting harder.  Dalk omdat die akteurs en regisseur hulle eie stempels wil afdruk op die storie of karakters.  Dalk is dit so eenvoudig soos dat geen fliek, hoe goed ookal, in ‘n karakter se kop kan klim soos ‘n skrywer nie. 

Was daar al ooit ‘n fliek gemaak wat die boek die loef afsteek?  Watter flieks het die boek totaal en al gemis?  Hoekom kan ‘n fliek gewoonlik nie reg aan ‘n boek laat geskiet nie? Hoe voel julle oor Afrikaanse flieks? 

Breinvasbrand:  Wat is die melaatse inrigting in die boek se naam wat op Westfort gebaseer is?

Breinlosbrand:  Olga was reg met regter hand.


Aksies

Information

7 responses

11 06 2012
Sonlig

Ek het nog nie ‘n fliek gekyk wat die boek oortref het nie.

Nog ‘n paar powere fliekpogings:
The Da Vinci Code en Angels and Demons – ek dink as jy nie hier die boeke gelees het nie, glo ek jy sou nie altyd lekker geweet het wat aangaan nie.

Eat Pray Love – Pragtige tonele, maar baie van die wysheid het verlore gegaan.

‘n Reeks wat nogal nie te sleg t.o.v. die boek was nie, was Orion van Deon Meyer.

Ek dink Afrikaanse flieks het nog ‘n entjie om te gaan. Dis asof Suid-Afrikaners net nie groot genoeg dink nie. Dalk is daar nie geld nie? En sal almal ASSEBLIEF wegbeweeg van die “musical” genre af? Dis nice vir ‘n koue Sondagmiddag, maar mens kan regtig net soveel daarvan kyk!

11 06 2012
Olga

genadendal?
Is daar nie n dorp ook iewers in die goeie ou kaap met die naam nie?

11 06 2012
Xena Phoenix

Liefling het my afgesit van Afrikaanse musicals en flieks. 😉

Ek moet erken dat “The Devil wears Prada” vir my af fliek beter was. Die boek het natuurlik meer detail gehad, maar die Miranda karakter was net ‘n teef. In die fliek was die Miranda meer menslik, die gehoor kon meer simpatie met haar hê. Dit het haar diepte gegee.

11 06 2012
Olga

ek dink die fout met Suid Afrikaanse flieks is die neiging om mense met naam te gebruik om die rolle te vertolk. So dink ek aan die ‘musicals’ wat Sonlig noem. Dan gebruik hul prulsangers wie soms n leke liedjie sing. Die hele fliek deur is dit dan n geval van ‘kyk na my, nie
na wat ek doen nie.’

hulle kan die musiek, liedjies in ‘edit.’ Dis nie nodig om S.Afrikaners se geld, uit lojaliteit, op kak te laat uitgee nie. S.A het tog n paar goeie akteurs. Hoekom hulle werkloos laat om n prulsangertjie te bevorder?

Wat my weer bring na n reeks wat op tv was, waarin oe, die vaal donner, ek dink sy naam is Valiant Sumbody n dr gespeel het. Niks om na te kyk nie, tog sit hul hom teenoor n swak aktrise soos die Benade vrou. Dan sal ons Afrikaans sprekenes net uit lojaliteit aan ons taal na die gemors kyk. As hul n lae budget fliek of reeks wil maak, kan hulle wragtig eerder drama studente gebruik en die modelle en sangers los om te doen wat hul die beste doen, DIEET.

Dit help ook nie hul gebruik groot name om n goeie storie dood te druk nie.

11 06 2012
gerdajansen1

is so. die suid afrikaanse film makers dink n naam is belangriker as die spel of die storie. dis hoekom ‘lelik is my offer’ die laaste goeie Afrikaanse fliek was. koert kerm lyk soos n middeljarige oompie, sing soos sy gat, gelukkig kan hy darem noot hou. van toneelspeel weet hy gelukkig baie. is valient sumbody se van nie swart nie? nee, dis mos blackie swart. ag, what ever.

11 06 2012
hoendersop

Ek ken nie “Plekkie in die Son nie” maar gaan nou dadelik daarna begin soek. My ervaring is dat ‘n mens eers die boek moet lees want dan verstaan jy die fliek beter. Ek dink nou aan die flieks van “The Kite Runner” en ook “Memoirs of a Geisha” – ek dink die kyker baie min sal verstaan as jy nie die boek gelees het nie. Q & A was a ongelooflike boek, maar die fliek “Slumdog Millionaire was maar power in vergelyking.

12 06 2012
Toortsie

Ek het die boek baie jare gelede gelees, so, toe ek die fliek kyk, kon ek net die storielyn onthou. Dit was toe nie vir my so “swak” nie. Maar is dit nie ook al ‘n ou fliek nie?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: