Goeie Maniere

8 06 2012

Daar word altyd soveel maniere op etiket geplaas, dat ek wonder of blote goeie maniere soms vergeet word.  Dalk maar net omdat maniere ‘n goeie boere ding is en nie so gesofistikeerd soos etiket klink nie.  Ek het altyd veronderstel dat dit dieselfde is, maar dalk nie.  Hierdie is seker een van die gevalle waar daar 3 vingers is wat terugwys na my toe, maar ek vind dit tog hinderlik. 

In ons graad 1 klas het die twee towerwoorde van die dak afgehang.  Dit was “Asseblief” en “Dankie”.  Ek wonder of towerkragte nou al so ‘n fantasie geword het, dat die woorde in onbruik verval het.  Ek het in ‘n mate simpatie met “Asseblief.”  Partykeer raak dit verlore in die proses terwyl opdragte of versoeke gerig word.  Maar dan weer – dit behoort so deel van ons te wees soos asem haal.  Dit behoort onder geen omstandighede verlore te raak nie. 

Die verlies van dankie is vir my regtig ‘n raaisel.  Ons was geleer om dankie te sê elke keer wanneer jy iets ontvang of iemand iets vir jou doen.  Al is dit die kassier wat jou jou eie kleingeld terug gee.  Dit is ‘n outomatiese aksie, iets wat net gedoen word.  Ek is verbaas dat mense dikwels nie dankie sê as ‘n kelner hulle koffie of kos bring nie. 

Onlangs was daar ‘n bakleiery of mans vir vrouens op die Gautrein behoort op te staan.  Wat my nogal opvallend was, is dat dit veral mans was wat gegrief was deur ander mans wat bly sit.  Party vrouens het weer die dam onder die eend uitgepluk om gegrief (en sommer ongeskik) te wees as ‘n man wel hulle sitplek vir hulle afstaan.  Die kenners was dit eens.  Geen man hoef op te staan nie, maar dit is en bly ‘n mooi gebaar.  Die vrouens moet dan soos dames optree en die mans daarvoor bedank – al wil hulle nie van die aanbod gebruik maak nie. 

Groet is vir baie mense ‘n grief – soos in dat baie mense nie die moeite doen om ‘n ander te groet nie.  Ek het al by Clicks gesien dat die kassiere veronderstel is om die kliente in die oë te kyk, te glimlag en te groet.  Bittermin voer die opdrag uit, my ervaring is dat die meeste van kassiere verkies om glad nie te praat nie.  Dit strek egter verder as dit. 

Hoe dikwels doen jy die moeite om iemand te groet?  Sal jy bevoorbeeld die bediende groet wat nie vir jou werk nie?  Sonder dat sy eerste gegroet het?  Danksy etiket (en seker ook kultuur) is ons dalk meer bekommerd oor wie eerste moet groet.  Dit is dan seker wanneer ons oom Neelsie se woorde moet onthou.  “Behandel jou meerdere met beleefdheid omdat dit jou plig is, jou gelyke omdat dit jou plesier is, jou mindere omdat dit jou voorreg is.”

Ek moet erken dat ek ‘n groot sondaar is met groet.  Nie soseer dat ek myself verhewe bo ander mense sien nie, dit ontgaan my soms net. 

Hoe voel jy oor maniere?  Is jy self ‘n sondebok? Hoe voel jy oor etiket?

Breinvasbrand:  Tradisioneel, in watter hand moet ‘n mes wees vir ete?

Breinlosbrand:  Kaalkop


Aksies

Information

5 responses

8 06 2012
Olga

eerste.
Regterhand.

8 06 2012
Olga

as mense .nder net met respek wil behandel. Ons was geleer dat die respek wat jy aan n ander, hetsy jou mindere, meerder of gelyke uitmeet, wys hoeveel respek jy vir jouself het.

8 06 2012
vaaltyn.

Ek dink dit is die greatest afrikaanse blog van almal al lewer ek nie kommentaar nie. Maar ek sien wat hier aangaan. U rock.

9 06 2012
murphy

Ek het noudiedag vir ‘n outjie van 22 (soos ‘n regte ouvrou) gese ek sien die woord asseblief bestaan nie by hom nie. Hy het nie ‘n clue gehad waarvan ek praat nie. Dis nie sy skuld nie, dis sy ma s’n.

30 07 2014
Gerda Coetzee

Ek is geleer dat dit swak maniere is om by iemand se huis op te daag sonder n uitnodiging of ‘n oproep wat vra of dit gelee is. Ek merk egter op dat ditt baie maal gedoen word (veral deur familie). Is ek verkeerd om gegrief te voel daaroor?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: