Groepsdruk is ‘n wetter

4 06 2012

Ek is redelik lou waar dit sport aangaan, volg dalk die hoofgebeure in die verbygaan, kyk dalk iets van groot belang, maar dis dit.  Die uitsondering is die Comrades Marathon.  Ek wend ‘n daadwerklike poging aan om ten minste ‘n gedeelte jaarliks te kyk.  Die fasinasie vir die Comrades is seker baie weird vir iemand wat reken jy hardloop net as jou lewe bedreig word.  Ek dink dit is maar ‘n samevoeging van ‘n vriendin se pa wat ‘n getroue Comrades atleet was, ‘n Daan Retief boekie wat rondom die Comrades gebou is en ene Charl Mattheus wat homself per ongeluk gediskwalifiseer gekry het in 1992.  (Mattheus is terloops vandag nog my gunsteling). 

Die berigte wat die 2012 Comrades voorafgegaan het, het meestal gekonsentreer oor ‘n voormalige olimpiese atleet wat haar eerste Comrades sou hardloop.  Blykbaar het die langafstand atlete van Bloemfontein haar nie ernstig opgeneem nie, omdat sy nog nooit die Comrades gehardloop het nie.  Om haarself te bewys en sommer ook omdat sy as Suid-Afrikaner nog nooit die Comrades gehardloop het nie, het sy ingeskryf.  Ek verwys nou natuurlik na Zola Pieterse of Zola Budd as wie sy altyd bekend sal staan. 

Die ironie was vir my treffend.  Ek wil my verstout en sê dat Zola Budd seker een van die bekendste, beroemdste of berugste atlete in Suid-Afrika is.  Bekender as enige ander atleet van Bloemfontein.  Budd bly immers al ‘n klompie jare in die VSA.  Of die bekendheid weens omstredenheid of talent verwerf is maak nie juis saak nie.  My persoonlike gevoel is dat die kombinasie van die twee sal veroorsaak dat Budd moeilik vergete sal word. 

Budd se grootste sonde was natuurlik dat sy die mense van haar laat kennis neem het in die vroeë 80’s.  Sy het onder meer in 1984 – toe sy net 17 was – die 5000 m wêreldrekord gebreek.  Dit was nie erken nie, want sy was ‘n blanke Suid-Afrikaner en daarmee dus gelykstaande aan slang bollie op die bodem van die see.  Daily Mail het wel potensiaal gesien en met haar pa en Britanje gekonkel dat Budd deur haar oupa burgerskap in Britanje kon kry.  Met die burgerskap kon sy in 1984 aan die Olimpiese Spele deelneem. 

Natuurlik was die stap omstrede.  Julle sal my vergewe dat ek van 1984 bitter min onthou.  As ek moet raai neem ek aan daar was ‘n groep Suid-Afrikaners wat bankvas agter Budd gestaan het (ek onthou in 1992 was daar baie mense wat nog steeds groot aanhangers van haar was) en daar was seker Suid-Afrikaners wat gevoel het sy het die land verraai.  Nie dat die Suid-Afrikaanse stem veel saak gemaak het nie, internasionaal was sy behandel asof sy persoonlik self vir apartheid verantwoordelik was.  Baie onredelik as enige logiese mens gevra word. 

Almal het groot dinge van Budd verwag by die 1984 spele.  Sy het die finale rondte gehaal en Britanje (seker Suid-Afrika ook) het al klaar ‘n goue medalje getel.  Toe gebeur dit: 

Mary Decker – die ander gunsteling in die 3000 m – hardloop in Budd vas en doen ‘n heupbesering op.  Natuurlik het LA nie gedink dat dit ‘n ongeluk was nie.  Hulle het Budd summier skuldig bevind en luidkeels hulle ontevredenheid te kenne gegee.  Soveel so dat Budd geintimideerd genoeg gevoel het om seker te maak sy wen nie (dit is in elk geval Budd se storie).  Dit was natuurlik ‘n media sirkus.  Britanje was aan Budd se kant en die VSA aan Decker se kant.  Die IAAF het haar onskuldig bevind.  Budd het ‘n verskoning aan Decker gebied, maar die het dit vir haar in haar gesig terug gegooi.  Decker het wel jare later erken dat sy nie gewoond was om in ‘n bondel te hardloop nie en vir die ongeluk verantwoordelik is. 

Budd het rekords in Britanje en die Statebond spele gebreek later, insluitende die 1500 m, die myl, 3000 m en die 5000 meter.  Sy het weer teen Decker gehardloop, maar het elke keer die onderspit gedelf.  Ek verstaan dat sommige van haar Verenigde Koninkryk en Suid-Afrikaanse rekords (junior en senior) nog steeds staan. 

Budd kon in 1988 nie aan die Olimpiese Spele deelneem nie.  Sy is skuldig bevind dat sy glo aan ‘n Suid-Afrikaanse resies deelgeneem het, wat sy ten sterkste ontken het.  Sy het wel in 1992 in Barcelona weer aan die Olimpiese Spele deel geneem, maar kon nie die finale rondte haal nie. 

My insiens is Budd iemand wat die talent gehad het, maar nie die vel om ‘n professionele atleet te wees nie.  As sy in 2012 na haar atletiekprestasies (wat wel daar was) nog geboelie kan voel om die Comrades te hardloop, dink net hoe was sy as ‘n 18 jarige.  Met ‘n dikker vel en ‘n de-hel-daarmee houding het sy ‘n paar ekstra titels en medaljes gehad. 

Wat is jou mening omtrent Zola Budd?

Breinvasbrand:  In die 80’s, wat was kenmerkend aan Budd se oefeninge en resies?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Harry Webb.


Aksies

Information

4 responses

4 06 2012
Olga

eerste.
Sy was die kaalvoet katryntjie van atletiek.

4 06 2012
Olga

wel, ek kan nou steeds nie insien hoekom wit Suid Afrikaanse atlete moes betaal vir apartheid nie. Vandag word rassisme, korrnupsie, nepotisme, omkopery nie teen swart atlete gehou nie. Zola budd het gedoen wat sy gedoen het en ek voel mens kan dit nie teen haar hou nie. Het mary *spoeg* en amerika *spoeg* haar ooit om verskoning gevra vir die onreg wat hul haar aangedoen het?

4 06 2012
murphy

Al at ek van haar onthou, is hoe sy hier in my tuisdorp kom hardloop het, en die mense die pawiljoen volgepak het. Ek moes toe so vroeg hoërskool gewees het. Ek onthou hoe sy die byeenkomsrekord gebreek het, sy myle voor die ander atlete was en almal haar staande toegejuig het. Ek het verskriklik hoendervleis gekry die aand. Dit was regtig iets om haar in lewende lywe te sien hardloop, omdat sy ‘n besondere talent gehad het. Dit is die bottom line gewees. Die res was goedkoop politiek. Sy kon hól.

5 06 2012
Loli Pretorius

Ek onthou ook vir Zelda, ek was nege, en sy ‘n atleet duisend…kon as kind nie al die bohaai verstaan nie, sukkel dalk nogsteeds?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: