Volhoubare komberse

29 05 2012

Ek gaan by die staatsteater een aand na ‘n opvoering kyk (met verskoning aan Sias Reyneke).  Ek en die mense saam met my het die opvoering baie geniet.  Deur en deur die moeite werd om vir een aand die bitter koue aan te durf.  Die aand sal ek altyd vir ander redes onthou.  Toe ons – beskermd met truie, baadjies, handskoene en serpe – tou staan vir die hysbak, merk ons toe twee mans wat om die hoekie elk met ‘n kombers slaap.  Probeer seker.  Hoeveel beskerming die kombers teen die uiterste koue, snerpende wind en koue teëlvloer kon bied, is ‘n ope vraag. 

Hierdie was nie die uitsondering nie.  Daar is byvoorbeeld die winkelkompleks in Groenkloof waar twee mans hulle elke aand tuismaak.  In die somer sit hulle net verslete daar.  Deesdae sien ek hulle elkeen met ‘n kombers uitgestrek lê.  Daar is ander sentrums waar mens dieselfde sien.  Wat van die groepe mense wat om ‘n konka staan om hulleself met die vuurtjie te verwarm.  Ek vermoed hulle is in die veld omdat daar nie ‘n beskutting elders is nie. 

Ek gee toe – daar is ‘n behoefte aan komberse.  Daar is mense wat aan die elemente uitgelewer is en van ander afhanklik is om nie te verkluim nie.  Nogtans grief die kombers insamelingsveldtogte my.  Ek weet ek kla jaarliks daaroor, maar wragtig, elke jaar word daar weer met ‘n groot bohaai komberse ingesamel.  Nuwes!  En ek wonder wat het van die der duisende komberse wat die vorige jaar ingesamel is geword. 

Ek het al een van die groot kombersversamelaars gevra hoekom daar elke jaar met groter dringendheid na komberse gesoek word.  Met die aantal komberse wat ingesamel word, behoort die nood mos kleiner te word.  Hulle het hulle verwerdig om te antwoord.  Die komberse word verkoop, verloor of gesteel.  Daar moet dus elke jaar nuwes gegee word om hulle teen verkluiming te beskerm. 

Geen motivering om jou kombers op te pas nie.  En regtig, ek gun elke mens meer as een kombers.  Dit is egter dom om iemand in hulle kwaad te strek.  Dit is een ding om ‘n gesin wie se shack afgebrand het, van komberse te voorsien.  Dit is ‘n heeltemal ander ding om iemand ‘n kombers te gee, wat verkoop word vir drankgeld en hulle dan weer ‘n kombers te gee. 

Hier sit ons dus met ‘n daadwerklike nood, maar ook ‘n liederlike vermorsing?  Wat is die middeweg? 

Ek wonder of die geld wat vir die projekte ingesamel word dalk nie beter aangewend kan word nie.  Bou skuilings, met beddens (selfs net matrasse) en komberse wat mense kan gebruik wanneer hulle beskerming teen die elemente nodig het.  Maar die matrasse en komberse bly agter wanneer hulle weer uit die deur uitloop. 

Wie weet, dalk as die kombersnood verlig is (ek het komberse wat dekades oud is), kan daar meer gedoen word om die hongerpyne te bekamp. 

Dalk is die onmiddelike nood meer dringend as die lang termyn beplanning.  Hoewel, iets op die langtermyn aansienlik meer voordele het. 

Watter fondsinsamelings grief jou?  Watter kan beter gedoen word?

Breinvasbrand:  Wie is dood nadat sy in ‘n sneeustorm vir haar boetie ‘n skuiling in ‘n miershoop gemaak het, hom al haar klere aangetrek het en voor die opening gaan lê het?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Kate Mantsho

 


Aksies

Information

3 responses

29 05 2012
Sonlig

Rageltjie de Beer

29 05 2012
Sonlig

Ek stem saam met jou dat dit ‘n vermorsing is. Dis bitter jammer dat ons Suid-Afrikaners se vertroue in fondsinsamelingsprojekte al só geskend is dat almal tweekeer dink. Ek gee graag, maar ek is eerlik – ek gee versigtig.

Toe ek in Port Elizabeth gewoon het, was daar eenkeer ‘n groot insamelingspoging. Die mense het regtig hulle harte en beursies oopgemaak en gegee. Net om later te hoor dat daar geen beheer oor die kolleksie van goedere was nie. Enigeiemand met ‘n bakkie kon by die “depot” inry, ‘n vrag laai en weer uitry sonder rekenskap van wat van die goedere word. Ek wed my hele salaris dat ‘n hele paar spaza-shops se rakke lekker vol was daarna.

En ja. Dit “tickle” my altyd dat daar vir nuwe speelgoed, klere en komberse gevra word. Word die neuse dan opgetrek vir gebruikte en verbleikte goed of die teddie wie se een oog afgekom het?

Ek wil nie oordeel nie, maar glo met my hele hart dat God vir jou soveel gee as wat jy kan hanteer. As jy nie eers ‘n kombers kan oppas nie, hoekom sal jy beter na iets van meer waarde kan kyk?

29 05 2012
Olga

dit maak my net so moerig dat hul vra vir nuwe goed. Jy moet tog noual die shoebox storie bemark of my n link gee waar ek dit kan gaan uitkyk. Ek het verlede jaar agter n bakkie gery. Gelaai met komberse. Net nadat ek gehoor het kakaranda het in die omgewing komberse uitgedeel. Erken dit maar, julle sou ook gewonder het. Net, hierdie was darem almal dieselfde soort. Julle weet, met die blomme of diere op in die plastiese ritssakke.

Maar van die os op die jas, is die mense se tuis omstandighede regtig so sleg dat hul eerder op straat wil bly? Ly almal aan amnesie? Hoekom soek volkswelsyn nie hul fam op nie?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: