Liewe Oumas

24 05 2012

Ek moet eerlik erken dat ek my eie oumas nie baie goed geken het nie.  Ons was deur groot afstand geskei.  Hoewel, die afgelope paar jare het heelwat van my vriendinne van hulle ma en skoonma’s oumas gemaak.  Ek het dus al heelwat gehoor van nuwe oumas en was van baie goed ‘n getuie.

Tot die nuwe ma se vreugde en verdriet begin voornemende oumas al vroeg-vroeg hulle raad (dikwels ongevraagd) uit te deel.  My een vriendin se skoonma het ons omtrent ‘n lesing gegee oor swangerskap.  Nie dat enige een in die geselskap swanger was of planne gehad het om in die nabye toekoms swanger te raak nie.  Dit het haar egter nie gekeer om solank seker te maak haar seun word nie afgeskeep in die toekoms nie en dat hy nie ‘n vet vrou na sy eersteling sal hê nie.  Wanneer die nuwe baba eers oppad is, dan word wyshede van alle oorde in die ma se keel afgedruk.  En bewaar die ma se siel as sy nie aan almal gehoor gee nie.

Daar kan baie van ervaring gesê word, maar partykeer kan ek regtig net my oë rol en wonder.  Ek was eendag by ‘n vriendin wie se baba ‘n paar dae oud was.  Die baba was honger en baie ontevrede, maar die ma het gesukkel om haar te laat drink.  Die ouma se raad was om die baba te piets.  Tot vandag toe weet ek nie wat dit sou help nie.  Die baba het klaar die dak afgeskree.  Ander oumas wil weer vir alles ‘n stropie of ‘n pilletjie uitdeel.  Party oumas sweer ‘n kind moet soveel as jy kan vasgehou word en ander glo die baba moet eerder neergelê word.  Die gevolge van raad wat nie gevolg word nie, word altyd ten koste van die baba uitgelê.  Met ‘n goeie dosis verwyt, sodat die nuwe ma skuldig kan voel.

Daar is oumas wat nie meer hulle eie huise ken nie.  As hulle nie die heeltyd daar is nie, gaan die nuwe ma seker die baba op sy kop laat val.  Dan is daar weer die oumas wat nie juis belangstel nie.  Ek het ‘n vriendin wat baie onsteld was omdat haar man se ouers oorsee is om hulle dogter met haar 5de bevalling te gaan bystaan.  Terwyl sy in die tyd haar eerste bevalling sou gehad het.

Die meeste mense voel ook dat hulle kind se ouma een van die ander kleinkinders voortrek.  Dikwels met getuies en bewyse wat in ‘n hof gewig sal dra.  Die meeste oumas sal seker sterk aanstoot neem as hulle ooit van so iets verdink word.

Wat het jy die meeste waardeer of verpes van jou kinders se oumas?  Wat was die vreemdste raad wat jy al van ‘n ouma gehoor het?  Wat was die beste raad?

Breinvasbrand:  Wie is Antjie Krog se ma?

Breinlosbrand:  Digital Versatile Disc, maar Olga was reg dat dit aanvanklik Digital Video Disc was.


Aksies

Information

8 responses

24 05 2012
Olga

eerste.
Ek sal eers moet dink om te kan onthou.

24 05 2012
Gogga

Wow kom val jy nou hier in my kraal. My ma sê dit help nie sy gee read nie want ek luister in elk geval nie. Sy is verkeerd ek luister ek verkies net om self te leer. En ek het vinnig moeg geraak om myself te verduidelik hoe om my kind te laat slaap, eet, skoonmaak.
Oumas is wonderlik maar dankie tog my ma was 6000 myl weg toe ek geboorte gegee het en dat granny nie te veel inmeng nie.
Beste raad; hou jou kind vas so eel as wat jy wil. Babas KAN NIE bederf word nie

24 05 2012
gerdajansen1

dis nou nuus. 🙂

24 05 2012
gerdajansen1

tannie dot se kind. 😉 dot serfontein.
beste raad: praat altyd met jou kind. ekskuus, gesels met hulle.
slegste raad: doen alles wat jy jou vriendinne met ouer kinders sien doen.

24 05 2012
gerdajansen1

waar is die nuusbrokke vandag? ek het gedink teen die tyd gaan jy al n link op he om te wys hoe p zuma se advokaat in trane uitgebars het oor die onreg wat die arme pres aangedoen was. ek het n dosis humor nodig.

24 05 2012
Olga

ek wonder hoe lank hulle oefen aan die uitbarsings.

25 05 2012
demoerin

‘n Ouma is daar om kleinkinders te bederf…..en raad te gee as daarvoor gevra word.

25 05 2012
Toortsie

Nou ja, binne ‘n maand is ek ook ouma as als goed gaan. Sal maar sien… Maar ek wonder of ‘n mens ooit reg kan wees? Eers gee jy te min aandag, dan te veel. Dan is jy te afsydig. Dan weer te inmengerig.
En eintlik wil ons sommer net lief wees vir die ouers en die kleinding.
Elke ma kry maar haar dosis raad. Sy moet maar net maak of sy luister en op die ou end haar eie kop volg.

Lewer kommentaar op Gogga Kanselleer antwoord