‘n Regte Werk

11 05 2012

Wanneer daar na beroepe gekyk word, maak een vraag op die einde van die dag regtig saak:  Gaan dit die rekeninge betaal.  Indien wel, is dit ‘n goeie beroepskeuse.  Indien nie, wel, dan moet jy dalk 10 keer dink voordat jy daardie keuse volg.  Party mense tref geluk, maar dit is eerder die uitsondering as die reël. 

Ek het nou die dag na Night & Day gaan kyk, ‘n ballet van Cole Porter se lewe.  Die dansers is van Kaapstad en die ballet gaan vir ongeveer 2 weke op die planke wees.  Al het ek die ballet geniet, gaan ek myself nie juis as ‘n balletliefhebber uitgee nie.  Ek moet egter die toewyding van die dansers bewonder.  In die eerste plek moet dit ure en ure se oefening oor dekades neem om die vlak te bereik waar jy geld kan verdien.  Verder kan ek seker sê dat ballet – veral in Suid-Afrika – nie juis baie gewild is nie.  Ek betwyfel of hulle uit ballet alleen ‘n luukse lewe kan lei.  Ek wonder selfs of hulle enigsins daarmee ‘n lewe kan maak. 

Dit is seker een van die voorbeelde van hoe onregverdig die lewe is.  Die werk wat jy in sit is baie dikwels nie gelyk aan wat jy uitkry nie.  Harde werk word dood eenvoudig nie altyd beloon nie.  Aan die ander kant is daar mense wat net die regte geleenthede gesien het en tonne geld met min moeite maak.  Ander wat gelukkig genoeg is om met voorkoms, velkleur of die regte mense ‘n pos te kan kry waar hulle net moet maak of hulle werk.  Boonop hoef hulle nie eers ‘n sent om te draai nie. 

Waar dit iets soos kunste of sport aangaan, kan ‘n mens nog jou skouers ophaal.  Dit is net die bestes wat die hoogste vlak behaal.  Die ander word iewers vertrap en kan dalk later lesse gee om ‘n inkomste te verdien.  Tog is daar ander “regte werke” wat bloot net nie die geld kry om hulle te “regverdig” nie. 

Ek dink nou aan iemand wat ‘n argeoloog wil wees.  Navorsing kos geld en ongeag van hoe interessant dit mag wees, gaan die navorsing inkomste nie die uitgawes dek nie.  Filosofie is nog ‘n interessantheid, maar gaan vir die meeste gradueerdes net tot diep denke van werkloosheid lei.  Selfs beroepe wat in die verlede eerbaar en hoogaangeskryf was, sukkel vandag om kop bo water te hou.   Spesifieke verwysing na mense wat teologie geswot het. 

Dit is jammer dat ‘n passie nie altyd brood op die tafel kan sit nie.  Tog sal dit ‘n baie vaal lewe wees as almal net ‘n gemaklike lewe najaag. 

Wens jy ooit dat jy jou stokperdjie ‘n beroep kan maak?  Hoe gebalanseerd is iemand wat net hulle passie uitlewe?  As geld nie ‘n opsie was nie, wat sou jy graag wou doen?  Is daar enige stokperdjie waarna jy met lang oë kyk?

Breinvasbrand:  Wie het Elton John gedagvaar oor die lirieke van Nikita?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Derick Houghardt


Aksies

Information

6 responses

11 05 2012
demoerin

Jip..die lewe is nie fair nie. Ek sou daarvan hou om geld te verdien om heeltyd te sit en lees….en om te eet.
As ek kon sou ek graag ‘n pensioenaris wou word 😆

11 05 2012
Kokkewiet

Ek is ‘n balletliefhebber – is absoluut mal daaroor – het dit vir 3 jaar geswot(storie vir ‘n ander dag hoekom ek nie meer dans nie, al mis ek dit geweldig baie).
Ongelukkig is dit nie ‘n beroep wat goed betaal nie,dit wat hulle betaal word regverdig nie die ure en ure se oefeninge voor, tydens en na ‘n vertoning nie, maar die satisfaksie as jy op die verhoog onder die spreiligte is, is al die pyn en seer voete van die oefeninge die moeitewerd en vergete.

Dis ‘n GROOT jammerte dat ballet te min erkenning in ons land kry. Ek wens altyd ek kan die produksie gaan kyk wat in Kaapstad of Pretoria op die planke is.
Ons het ‘n lieflike teater hier, maar die belangstelling is te min om sulke produksies te bring.

11 05 2012
Olga

wha ha ha ha ha ha. Guy hobbs.

11 05 2012
Olga

ek sou graag n kritikus wou wees. Ooooo, dis sou leke kon wees.

11 05 2012
Plasie

Ek dink dit vat ‘n ongelooflik gedrewe, gemotiveerde en gebalanseerde persoon wat ‘n passie as beroep kan volg en dit suksesvol kan balanseer met die druk van die einde van die maand se rekeninge wat nader kom.
Om ‘n stokperdjie te pleeg is mos juis lekker omdat daar nie druk is nie, maak dit ‘n beroep en ‘n mens vind dalk dat die passie effens vervaag. Daarom dink ek dat my werk eerder my werk moet bly en my stokperdjie my stokperdjie and never the twain shall meet.

As geld nie ‘n oorweging was in die keuse van stokperdjie nie…ek en die Liefmens het juis gisteraand daaroor gespot. Ek sal ‘n groot sinkskuur(e) wil hê met plek ingerig vir ‘n yster- en kopersmid, ‘n glasblasery, wapensmid, houtwerk en ou mouterkar restorasies. Die bord voorop sal lees “Plasie se unieke ysterware, glasblasery en houtwerk skeppings…en ander kakkies. Wapen modifikasies en veteraanmotor restorasies gedoen op die terrein”

Gelukkig vra ek nie baie nie 🙂

12 05 2012
Toortsie

Dit is darem ook so dat dit nie net die ouens in die kunste is wat dit “teach” as hulle nie ‘n sukses maak in die buitewereld nie. Teaching kan vir mense ‘n passie wees, hoor!! En dan verkies hulle om te teach , eerder as om te “perform”. Maar eintlik stem ek met jou saam. Dis jammer dat almal nie hulle passie betalend kan uitleef nie. Maar dan raak die passie soms ‘n WERK en dis nie altyd so lekker nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: